Hier is wat lesers wil hê

Hier is wat lesers wil hê

Nuusbrief: 7 Maart 2019

  • 07 Maart 2019
  • Daagliks
  • 3 min om te lees


Goeiedag.
Ons is nog ’n week nader aan die eerste uitgawe van VryeWeekblad.com.
Die afgelope dae was druk besig. Televisie- en radio-onderhoude, ’n draai by die Woordfees in Stellenbosch en intensiewe beplanning by ons tydelike HK in Kaapstad. Oral was die geesdrif oor Vrye Weekblad baie bemoedigend: dit is duidelik dat daar ’n groot behoefte is aan méér gehalte-joernalistiek, dat mense wil insae hê ín en sterk voel oor wát hulle lees, en dat julle dit in Afrikaans wil lees.
Ons het laasweek gevra wat julle in Vrye Weekblad wil lees. Die reaksie oortref ons wildste verwagtinge. Honderde e-posse het ingestroom met goed deurdagte, insiggewende en heerlik aweregse voorstelle – almal uiters waardevol. Ons span lees elke een en werk hard om al die wenke vir ondersoeke en diepte-stories te verwerk. As ons nog nie geantwoord het nie, sal jy wel binnekort ’n e-pos van ons ontvang.
Baie, baie dankie vir elkeen wat die moeite gedoen het. Julle skrywes is ontsettend waardevol. Dit help ons verstaan wat julle na aan die hart lê en dus hoe die nuwe Vrye Weekblad nóú, 25 jaar later, moet lyk.
Uit julle briewe blyk dit duidelik die tipiese Vrye Weekblad-leser is progressief, maar beslis nie ’n onkritiese naprater van die regering nie. Julle is bekommerd oor die rigting wat ons land inslaan en bekommerd oor die toekoms. Ons lesers wil hê alle Suid-Afrikaners moet gedy. Julle wil oplossings hê en raak geïrriteerd met ’n aanhoudende geweeklaag. Julle weet die hele wêreld is deurmekaar en dat fopnuus dit net erger maak. Maar julle weet ook dit is belangrik om ’n koel kop te hou tussen die lawaai van die ekstremiste op sosiale media deur, om ál die feite te hê en die agtergrond en gevolge van nuusgebeure te verstaan, om nie deur die swaarmoediges ondergekry te word nie, en om ’n sin vir humor te behou.
Een van julle stel dit só: “Dis moeilik om perspektief te vind as daar altyd net op die negatiewe gefokus word. Gee asseblief vir ons goeie nuus ook as teenwig vir die slegte nuus.”
Inderdaad, beaam ’n ander e-pos. “’n Mens het nie net doom en gloom nodig nie. Goeie humor is broodnodig.
“Vars en fris, kreatief, eerlik, vreesloos, onbevooroordelend, nie vernederend nie, nooit gatkruiperig nie. Dis wat ons nodig het. O ja, en maak ook korte mette van belangrike mense se dom stellings.”
Ons stem saam. Balans beteken juis nie oppervlakkige mooipraaitjies nie. Julle soek feite en insig. Julle is allergies vir propaganda en populistiese retoriek: “Gee vir ons volstrek die waarheid, so lelik as wat dit ookal daar uitsien. Prontuit. Reguit,” skryf ’n ander leser. Julle stel belang in debat en is nie bang vir meningsverskille nie.
Ons lesers hou van reis en boeke en kos. Julle wil weet van onderwys, gesondheid, wetenskap, tegnologie en die omgewing (dit was vir ons verrassend hoeveel gevra het vir meer oor klimaatsverandering).
In net ’n paar weke het duisende mense uit 38 lande (en 108 stede) op VryeWeekblad.com geregistreer. Hoewel die meeste van ons voornemende lesers diep gewortel is hier in Suid-Afrika, blyk daar ook ’n groot behoefte te wees onder Afrikaanssprekendes in die diaspora. Al ons lesers werk en leef gemaklik in ’n Engelssprekende wêreld – of dit nou hier in Suid-Afrika is of elders. Hulle is gesofistikeerd, oopkop en wêreldburgers, maar behou ’n diep liefde en affiniteit vir die kulturele teksture wat met Afrikaans gepaardgaan.
Iemand skryf uit Japan hoe opgewonde hy is om weer te te kan lees in Afrikaans. ’n Mens kan die verlange in sy stem hoor. Die Vrye Weekblad-leser se hart is diep gewortel in Afrika. Of jy nou in Pretoria, Upington, Auckland, London, Abuja of Shanghai woon, daar is ’n behoefte om deel te wees van ’n oopkop-familie Afrikaanssprekendes.
Hou asseblief aan om die woord oor Vrye Weekblad te versprei. Registrasie is maklik en vinnig by VryeWeekblad.com. Ons het ook ’n Facebook-blad en natuurlik wag ons gretig vir enige verdere voorstelle of insette by redaksie@vryeweekblad.com.
Tot volgende week.
Groete van die span

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.