Goeiedag,
Jacques Pauw was een van die eerste Suid-Afrikaanse joernaliste wat oor die volksmoord in Rwanda in 1994 verslag gedoen het. Dit was een van die mees bloedige en verwoestende menseslagtings in onlangse geskiedenis waarin 800,000 mense in net honderd dae vermoor is. Pauw is nou terug in Rwanda, deesdae ’n rolmodel vir Suid-Afrikaanse politici.
Nie net kan ons minister van finansies, Tito Mboweni, nie uitgepraat raak oor die wondere van die hoofstad van dié klein landjie in Oos-Afrika nie (die twitterati het hom skoon Mnr Kigali gedoop), maar pres Cyril Ramaphosa het selfs gesê Suid-Afrikaners moet, soos Rwandese, die strate in oorpakke invaar en skoonmaak.
Boonop is Rwanda se ekonomiese model só suksesvol – die goewerneur van die Nasionale Bank voorspel groei van 7.8 % in 2019 – dat ander Afrika-lande dit wil nadoen.
Lees meer in een van ons eerste uitgawes oor of Jacques met Mboweni saamstem – en oor wat hy eintlik in Rwanda gaan doen het.Laas week het Jacques ook ’n draai gemaak in Indië. Ons kan nie nou meer besonderhede gee nie, behalwe om julle te verseker dat dié storie die wenkbroue gaan laat lig.
Intussen werk die res van die span met groot energie aan ander stories vir die eerste uitgawes. Daar is iets wat lesers gaan laat lag, baie wat julle saam met ons die harnas in sal jaag en selfs ’n paar bydraes wat sal skok. Ons het ook die afgelope week ’n paar duisend nuwe registrasies gekry en julle briewe is vol voorstelle en idees wat ons opvolg.
Dankie!
Ons tegniese span het hopelik die probleem met die onverklaarbare swart agtergrond in die nuusbulletin opgelos, maar laat weet asseblief onmiddelik vir annelieseburgess@vryeweekblad.com indien dit steeds pla.
Dit woel op ons Facebook-blad. Dankie vir almal wat daar kommentaar lewer. Natuurlik is daar ook ’n handjievol mense wat hulle redelik sleg gedra en sukkel met die konsep van gesonde debatvoering. Ons sal nie toelaat dat ons blad in ’n morsige en onaangename plek ontaard waar sinvolle bydraes doodgeskreeu word nie, en moedig almal aan om ons Facebook-platform te gebruik vir ingeligte en deurdagte gesprekvoering.
Reg, nou vra ons nog ’n guns. Vrye Weekblad moet voldoen aan ons lesers se vereistes en belangstellings. As jy vyf minute het, neem asseblief aan ’n kort meningspeiling deel. Dit gaan help om ons inhoud te verfyn.
>> [Meningspeiling is nou gesluit]
Toe ons verlede jaar begin werk het aan die idee van die nuwe Vrye Weekblad, het Max du Preez afgekom op hierdie redaksionele kommentaar van die New Yorker. Ons het dit geleen en deel dit graag:
“What makes The New Yorker, well, The New Yorker? As I look back on our most-read pieces of 2018, some core attributes come to mind: quality prose; depth of reporting and thought; a commitment to truth and accuracy; a desire to inform and enlighten. Beyond this, New Yorker stories aim to move readers and, when possible, surprise and delight them.”
Ons sluit af met ’n lesersbrief wat ons lekker laat lag het: “Bly aktueel. Bly eerlik. Bly onverskrokke.Wees vars en groen en snaaks en informatief. Krap gat. Skop gat. Moenie gat lek nie. Vergat nooit. Aktueel. Intellektueel. Nooit verveel. Trek tande. Trek angels. Trek draad (van ’n storie natuurlik)Maak nuus. Maak moeilikheid. Maak net iets. Veral ’n bydrae. Maak maar k..k ook.En kry ’n lyn. “’n Warm lyn.’’ Vir stories. Vir tips.Praat net met ons asseblief!”
Práát met mekaar, gaan ons beslis.
Groete tot volgende week.
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.