Vrye Weekblad: ons is amper daar

Vrye Weekblad: ons is amper daar

Nuusbrief: 29 Maart 2019


Goeiedag,
Vandag oor ’n week verskyn die eerste uitgawe vanVrye Weekblad. 5 April is ons groot dag.
Dit voel vir ons asof die laaste paar weke verbygeflits het. Daar is nog baie knope wat deurgehaak moet word voordat ons volgende Donderdagaand die stuur-knoppie druk, maar dit is ook ongelooflik lekker om te sien hoe ons planne nou in konkrete stories verander. Ons het natuurlik ook ’n hele paar lekker warmpatat-stories verloor soos dit op ander plekke uitlek. Die nuussiklus, rondom die Zondo-kommissie veral, is net so blitsvinnig dat stories nie sommer in die pot bly prut nie.
Ons het ’n geweldige reaksie op ons peiling voorverlede week gekry – baie dankie aan die duisende mense wat die tyd afgestaan het om hulle “kruisies te trek”. Ons is heeltemal oorbluf met die gehalte van die bydraes en die geesdriftige interaksie met voornemende lesers. Ons begin al hoe meer kyk naVrye Weekbladas ’n spanpoging met ons lesers. Dit voel goed om so saam te werk. Van die storie-idees wat uit die peiling gespruit het, is absoluut skitterend, en ons sien daarna uit om te begin grawe aan die vrae wat julle beantwoord wil hê.
Waar ons gevra het dat julle onderwerpe in rangorde volgens belangstelling stel, was politiek bo-aan die lys (dit is duidelik vir ons almal ’n groot bekommernis), maar die omgewing, asook wetenskap en tegnologie, was net ’n kortkop agter. Ons is verras dat kuns en kultuur vierde op die lys is – ons gaan duidelik hier ’n bietjie moet woel en werskaf om hierdie aanbieding vir julle sterker te maak as wat ons aanvanklik beplan het. Wat politieke nuus betref, is dit baie duidelik dat julle wil hê korrupsie moet oopgevlek word, maar byna net soveel mense wil graag politieke ontledings en meningstukke van kenners hê. Ons belowe dat dit ’n sterk punt in elke uitgawe sal wees.
By die vraag waar ons ’n paar temas by julle getoets het, was die dreigende watertekort in Suid-Afrika verreweg die grootste kwessie. En terwyl ons met die onderwerp besig is, hierdie week se gunsie is om te vra dat julle vir ons julle persoonlike waterstories na [email protected] aanstuur. Laat weet ons waar is die krane droog en waar loop die rioolvullis in die strate af of in die riviere in. Maar ook waar gemeenskappe saamwerk om oplossings te vind. Dit is duidelik dat munisipaliteite oor die hele land heen steier en dat organisasies en gemeenskappe self moet inspring om die plaaslike regering se werk te doen. Julle kan sommer ook vir ons enige wenke in hierdie verband aanstuur – waar val munisipaliteite uitmekaar en waar werk hulle goed?
Dit is dan ons laaste bulletin voordat die eerste uitgawe verskyn. Van volgende Vrydag af gaan dinge heeltemal anders begin lyk en sal julle ook gedurende die week baie meer gereeld van ons hoor. Ons wil julle ’n laaste ding vra: Ons het aanvanklik belowe ons gaan elke dag ’n nuusbrief uitstuur, maar ons wil probeer om elke dag van die week ’n ander geur daaraan te gee. Ons het gedink om een keer ’n week byvoorbeeld vir julle ’n uitgesoekte leeslys te gee van onderwerpe van webwerwe en publikasies vanoor die hele wêreld. Laat weet of julle daarvan sal hou.Ons heg hier onder ’n paar voorbeelde aan van wat ons in gedagte het.
Groetnis tot 5 April, wanneer julle die heel eerste vars, nuwe Vrye Weekblad in julle inboks sal hê.
Die leeslys-idee
Daai affair kan jou duur te staan kom
Die eienaar van ’n kroeg in Pretoria het, ten spyte daarvan dat hy binne gemeenskap van goedere getroud was, met leë hande uit die skeihof gestap toe regter Daisy Molefe bevind het dat hy weens sy buite-egtelike verhoudings nie in sy vrou se R2-miljoen-pensioen mag deel nie, en ook nie geregtig is op die helfte van haar huis nie. Lees hier meer. 
Is plastiek ’n “gerieflike waarheid”?
Ons dink dalk ons neem standpunt in teen die oormatige gebruik van plastiek wanneer ons herbruikbare koffiebekers in ons handsakke ronddra en restaurante ondersteun wat papierstrooitjies voorsien. Dit laat ons voel asof ons help om ’n groot probleem op te los sonder om enige belangrike veranderings in ons lewenstyl aan te bring. Maar behalwe dat dit dalk ons gewete sus, is die voordeel van hierdie kleinskaal-verbruikersgedrewe veranderinkies bra gering.Dis nie te sê plastiekbesoedeling is nie ’n probleem nie, maar vir die oseane is ongereguleerde visvang en klimaatsverandering ’n baie groter probleem.
Die ernstige waarskuwing wat verlede jaar uit die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) gekom het dat drastiese aksie nodig is om aardverwarming tot 1.5 °C te beperk, het nie naastenby soveel aandag geniet soos plastiekbesoedeling nie. Dit sal baie meer as herbruikbare koffiebekers van ons verg om ’n sinvolle oplossing vir ons omgewingsprobleme te kry. Lees hier meer.
Afrika-politiek kry sy eie woordeboek
Oxford University Press het ’n nuwe woordeboek op die rakke:Oxford Dictionary of African Politics. Hierdie skerp en insiggewende versameling politieke terminologie sluit byvoorbeeld “three-piece-suit voting” in, wat verwys na ondersteuning vir dieselfde politieke party vir alle verkose posisies. Daarteenoor beteken “skirt and blouse voting” ’n stem vir verskillende partye vir presidensiële en wetgewende verkiesings. “Watermelon politics” – uit Zambië – beskryf iemand wat uit vrees vir wraak beweer dat hy een party ondersteun terwyl hy eintlik tot ’n ander een behoort. Die een party se kleur was groen en die ander s’n rooi. Hierdie woordeboek gaan oor baie meer as die politieke vindingrykheid van Afrika-burgers. Dit bevat een van die deeglikste tydlyne en kontekstualisering van politieke gebeure in Afrika wat tot nog toe saamgestel is. Lees hier meer.
Die Watsons het vir oulaas nog ’n joppie vir minister Nomvula Mokonyane
Ná Agrizzi se onthullings van Kersinkopielyste en Italiaanse handsakke vol geld sou ’n mens dink die minister sal wye draaie om die Watsons loop, maar nog is dit het einde niet.Die Watsons wil ’n omstrede windplaas bou en hulle wil dit bo-op die Groot-Winterhoekberge in ’n krities omgewingsensitiewe gebied bou. Die ontwikkeling het in April verlede jaar die groen lig gekry van die nasionale Departement van Omgewingsake. Appèl is uit alle oorde aangeteken en … reg geraai! Minister Mokonyane sê daar is geen rede op aarde waarom sy nie die appèl kan beoordeel nie. Sy sê daar is geen belangebotsing nie, want Gavin Watson dien nie self in die raad van die ontwikkelaars nie – net sy broers en sy neef. Lees hier meer.
R500-miljard – R380-miljard = R120-miljard kleingeld
Die geld wat by Eskom gemors en gesteel is, kon werkloosheid uitgewis het.Andrew Lawrence, besoekende navorsingswetenskaplike aan Wits, reken dat die huidige werkskeppingsplanne geheel en al ontoereikend is en dat ’n gewaarborgde werkskema in Suid-Afrika vir homself sal betaal.Al sou die Presidensiële Werkberaad al sy teikens bereik, sal dit 50 jaar neem om almal aan die werk te kry.
Business Tech berig dat twee bronne na aan die ondersoek beraam dat R500-miljard tussen 2005 en nou geplunder is. Lawrence sê dit sal R380-miljard kos om – teen die nasionale minimum loon van R3,500 per maand – ’n gewaarborgde werkskema vir alle werkloses te skep.
President Cyril Ramaphosa se onwilligheid om ons uit ons ekonomiese probleme te spandeer is nie sonder meriete nie, maar daar is sterk rede om te glo dat arbeidsintensiewe werkskepping een van die vinnigste en volhoubaarste maniere is om die ekonomie te laat herstel. Lees Lawrence se volle verslag hier.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos [email protected] of skakel 0860 52 52 00.

X