Goeiemôre,
Nou ja toe, die klong is toe gebore. Gesond met oë wat blink en klaar met 'n stout glimlag. Die eerste uitgawe van VryeWeekblad.com is positief en met groot geesdrif ontvang – dankie aan almal wat van hulle laat hoor het. Ons is druk aan die werk aan die tweede uitgawe. Genadiglik is die meeste van die tegniese kwessies wat onvermydelik met 'n nuwe aanlyn-publikasie is, nou uitgestryk. Ons kan die energie wat só gemors is, nou aan groter kreatiwiteit bestee.
Die interaksie met ons lesers is vir ons kosbaar. Hier is 'n opwindende nuwe gemeenskap aan die ontwikkel van mense wat goeie, gebalanseerde en geloofwaardige joernalistiek waardeer; meestal Afrikaanspraters, maar ook ander wat Afrikaans magtig is. Mense wat hul wêreld, klein en groot, beter wil verstaan en weier om as burgers geïsoleer en gemarginaliseer word, om deur retoriek en haatpraatjies geintimideer te word.
Ons gaan van die terugvoer wat ons kry, gereeld in komende publikasies weergee. Binnekort gaan ons alle artikels vir kommentare oopgooi en ‘n gesonde markplein vir idees en menings skep.
Een sakie wat aan 'n paar mense gekrap het, is ons taalgebruik. Ons sal in komende uitgawes aanhou om ons styl te ontwikkel, maar voorlopig 'n paar opmerkinge.
Ons erken alle variante van Afrikaans. (Daar was mos nie 'n manier waarop ons aan Jeremy Veary se juweel oor die amandelbos in ons eerste uitgawe kon torring en hom met die Woordelys en Spelreëls oor die kop kon slaan nie?) Ek vermoed die meeste artikels en bydraes gaan vir lesers na sogenaamde standaard-Afrikaans lyk. Ons wil loslit-Afrikaans besig, maar nie losgat-Afrikaans nie. Ons wil nie hê bydraers moet Engelse woorde gebruik net omdat hulle te lui is om die goeie Afrikaanse weergawe te soek nie. Maar as iets gemaklik en natuurlik vloei en dit is duidelik dat dit is hoe die skrywer dink en skryf, dan gaan ons ook nie die rooi pen uithaal nie. As iemand dalk op ’n kol die woord “cool" wil gebruik, gaan ons dit ook nie in kursief sit nie. Ons wil nie ons lyf Taaliban hou nie. Ons wil help om Afrikaans te verryk eerder as te laat verdor.
Maar daar gaan afwykings van ander Afrikaanse publikasies wees wat jou gaan opval. Die een is die gebruik van die woord “biljoen". Die meeste Afrikaanspraters bedoel daarmee 'n duisend maal miljoen, maar die “reël” is dat die Afrikaanse woord daarvoor “miljard” moet wees. Die “reël” bepaal dat biljoen dan miljoen maal miljoen beteken, maar die meeste mense gebruik “triljoen” daarvoor. Wees eerlik, as jy lees iemand is 'n biljoenêr, dink jy sy/haar skatte is 'n duisend miljoen werd, of 'n miljoen miljoen, soos wat die “reël” dit wil hê?
So, ons gaan die woorde “biljoen" en “triljoen" gebruik soos die meeste mense en ander tale in Suid-Afrika dit ook gebruik. G’n meer miljard of miljardêr nie. Afrikaans is nie Nederlands nie. Afrikaans is 'n lewende, groeiende inheemse taal. Ons moenie skrikkerig wees om by gevestigde spreektaal aan te pas nie.
En dan is daar goggas soos Tsjetsjnia. Of Sjina. Wladimir Poetin. Mogadiesjoe. Oeganda. Dit pla. (Hoekom nie ook Nieuw Jork nie? Of Aarkinsô? Woestersjir? Sidnie? Oksford? Bly dit dieselfde net omdat dit Engels is?) Chechnya, China, Vladimir Putin en Mogadishu werk ewe goed en jy hoef nie tweekeer te kyk voor jy weet waarvan gepraat word nie.
Maar tog praat die meeste van ons van Londen eerder as London. Van Nieu-Seeland eerder as New Zealand. Moskou. Brasilië. Noorweë. Parys. Dit is gevestigde gebruike en kan so bly. Hier kan duidelik nie 'n vaste reël wees nie, eerder net 'n toepassing van wat natuurlik en gemaklik voel.
Steek dit jou dwars in die krop? Laat weet ons asseblief by redaksie@vryeweekblad.com hoe jy hieroor dink. Ook sommer of die gebruik van die besitlike vorm “hul” nog gebruik behoort te word, soos in “hulle het hul honde verkoop”. Niemand wat ons ken, gebruik dit as hulle praat nie.
Dis ons taal, mense. Kom ons laat dit dans, baljaar en kattemaai. (Ja, jy ook, broer dominee.)
En dan wil ons vinnig verduidelik hoe betaling vir VryeWeekblad.com gaan werk omdat ’n hele paar van julle gevra het daaroor. Die eerste eerste ses aflewerings is gratis. As jy geregistreer het op die webblad, sal jy elke Vrydagoggend die nuutse uitgawe kan lees. Dáárna sal ons ’n fooi vra. Ons werk nog aan die pakkette en sal dit weldra bekend maak.
Ten slotte, as enige iemand nog sukkel om te registreer vir Vrye Weekblad, kontak ons by redaksie@vryeweekblad.com. Ons span reageer flink op alle navrae in hierdie verband.
Lekker dag.
Max du Preez
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.