Dagsê,
Dit gons behoorlik op ons e-pos na Max se skrywe gister oor Poetin en biljoen. Ons lesers het beslis baie sterk menings oor watter taalgoggas hulle dwars in die krop steek en skroom nie om van ons te verskil nie. Almal is dit egter eens: julle wil goeie, loslit-Afrikaans lees. Dankie vir al die goed deurdagte kommentaar – hierdie is 'n heerlike debat. Laat waai dus met die e-posse!
Ons sal in Vrydag se uitgawe die lewendige gesprek voortsit en van die skrywes volledig plaas, maar vanoggend net enkele uittreksels uit van die eerste e-posse:
Dawid Botha
Asseblief, kan ons nie nou maar net by die Latyn hou nie, LW nie LATYNS nie, maar Latyn, dus Londinium vir Londen en Lutetia vir Parys, Helvetia vir Switserland. En moenie met my stry nie, dis wat Asterix sê, en as jy met hom wil stry, dan kan ek jou nou al sê wie die slegste daarvan gaan afkom. Dus gaan lees eers vir Asterix.
Ryno Walker
Dit was juis die mooi Afrikaanse skryfstyl (loslit maar nie losgat nie!) wat my opgeval het in jul eerste opgawe van Vrye Weekblad. Ek woon op die Noordkus van KZN waar mens skaars ooit Afrikaans hóór. Ek lees nie net vir nuus nie, maar ook om in voeling te bly met moderne Afrikaans.
MM
Ek is jammer maar die woord “biljoen" is nie Afrikaans nie. In welke patois ookal. Dis doodeenvoudig slordige taalgebruik. (En selfs misleidend. Ek koop nie julle argument nie.) Slang is nie slordig nie.
PRB Heymann
Die regte gebruik van miljard en die regte biljoen is internasionale standaard, behalwe in Amerika en, sedert baie onlangs, in Engeland. Gebruik asb die terme korrek. Dit is glad nie nodig om te buig ter wille van gedienstigheid nie. Ons weet wat 'n miljard is.
Walter Doubell
VWB is Afrikaans, maar om hemelsnaam, ignoreer die “taalsuiwerheidsghoeroes". Ek glo julle skep julle eie styl en dis reg. Na die dinges met die taalbulle (en koeie). Max is reg, “loslit, maar nie losgat nie". Dit gaan oor betekenisoordrag. Vladimir Putin en Jacob Zuma klink in elk geval meer skurkagtig as Vladiemier Poetien en Jakob Zoemaa. Shapshap en laat waai.
Tertius Liebenberg
Ek stem heeltemal saam met die benadering tot Afrikaans. Die voorbeeld van 'n biljoen is baie relevant en in lyn met die markpraktyk.
Con Blignaut
Dankie tog vir die nugter, sane benadering op die goggas! Die meeste van die pogings om Afrikaanse weergawes te ontwikkel klink uiteindelik soos diarree op ’n kerkbank en doen onmiddelik afbreek aan die vloei van die artikel (no pun intended op vloei.) Voeg by die goggalys Doebai, Moembaai en al die “-stan” lande en hul hoofstede...
Kobus Ross
Hoog tyd ons praat dieselfde taal as die res van die planeet, veral wiskundig (biljoen ipv miljard, maar veral triljoen ipv biljoen).
Christo Venter
Ek sê nie ons moet common raak nie, maar dis lekker om te lees soos ons tog praat, of hoe? My gevoel is dat ons Afrikaans eerder moet omhels soos dit gebruik word, en nie … soos wat taalkundiges wil hê ons [dit] moet gebruik nie. Dit sal nie werk nie. In elk geval is Afrikaans, soos enige taal, 'n lewende taal, wat aanpas soos wat dit gebruik word. As ons dit staties probeer hou soos wat dit 30 jaar of meer gebruik was, dan sal dit sterf. Daar is min mense wat regtig Engels verstaan soos wat dit geskryf en gepraat is 100–200 jaar gelede. Hoekom dink julle het ons (ten minste ek) so gesukkel met Shakespeare?
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.