Verkiesing, Zondo-kommissie, Bird-eiland en die gatvol-faktor

Verkiesing, Zondo-kommissie, Bird-eiland en die gatvol-faktor

Nuusbulletin: 15 April 2019

  • 15 April 2019
  • Daagliks
  • 3 min om te lees


DAAR is nog drie volle weke oor voor die verkiesing op 8 Mei, en die gatvol-faktor raak ál sterker. Net te veel voorspelbare bla-bla-bla, leë beloftes, opgemaakte verontwaardiging en politieke vliegies wegjaag. Die Engelse word “inane” kom by ’n mens op, en die woordeboek sê dit beteken “leeg, betekenisloos, sinloos, sinledig, simpel, besimpeld, laf, geesteloos, verspot, doof”. Ja, al die bogenoemde.
En dit alles gaan oor ’n paar persent van die stemme, want die meeste mense gaan weer vir die party stem wat hulle laas keer ondersteun het, al sê wie ook wat. Almal van ons weet alle politici lieg soos tandetrekkers in die tyd voor ’n verkiesing, maar ons speel maar saam. Die demokrasie is regtig ’n belaglike stelsel – net jammer alle ander stelsels is veel erger.
So, drink eerder ’n goeie glas wyn en gesels met jou vriende en geliefdes as om in die dae wat kom na televisie- of radiodebatte oor die verkiesing te kyk en te luister. Die lewe is te kort vir sulke swak teater. Maar ons moet ook maar dophou hoe die verskillende akteurs optree, want dit tel meer as wat hulle sê.
Soos die nimlike Ace Magashule wat sommer honderde rande uit sy gatsak pluk en aan arm kiesers uitdeel terwyl hy stemme werf. (Min dae, Bra Ace, kry solank jou kleremaker om jou mates te neem en vir jou ’n ontwerpersweergawe van ’n oranje oorpak te maak.) Soos die berig in die Sunday Times dat die regering sowat R750 miljoen bewillig het om ministeriële huise en ander staatsgeboue op te knap in ’n tyd wat die staatskas so leeg is soos Beaufort-Wes se dam. R1 miljoen vir ’n nuwe kombuis en badkamer, R29 miljoen vir ’n kamertjie vir veiligheidswagte, en so aan. Dalk gaan Cyril dié week vir ons vertel hoe geskok hy was toe hy dit gelees het.
Dit is veel groter sports om die getuienis voor die Zondo-kommissie te volg – dis eintlik waar die ware politieke teater afspeel. Dié week sit Robert McBride sy getuienis voort, en dan is dit die beurt van genl. Johan Booysen, eens een van die heel beste offisiere by die Valke, om politieke bomme te laat ontplof.
Soos met die meeste getuienis voor Zondo tot dusver, kom daar min verrassings na vore. Dit is ’n pluimpie vir ons land se ondersoekende joernaliste dat die meeste van hul onthullings die laaste paar jaar nou onder eed bevestig word.
Steeds aan die mediafront: Hoe is dit dat NB-Uitgewers nog steeds volhou dat hulle boek Die seuns van Bird Island nie die grootste uitgewersfout van die eeu was nie? Jacques Pauw het in laas week se uitgawe met vers en kapittel bewys hoeveel foute en denkspronge gemaak en stertjies aangelas is, en selfs Rapport het Sondag erken dat hulle ’n fout gemaak het om uittreksels daaruit te plaas. Uitgewers se lojaliteit teenoor hul skrywers is ’n mooi ding, maar NB-Uitgewers moet dié keer maar erken die publikasie van die boek was ’n kolossale flater en verskoning aanbied vir diegene wat in die boek onregverdig beswadder is. (O, die ironie van Vrye Weekblad wat vir Magnus Malan opkom …)
As ons dink ons politiek is kotswaardig, kan ons gerus so nou en dan na die Britte kyk wat steeds oor Brexit oor hul voete val. Ons beplan om in Vrydag se uitgawe ’n gids te plaas wat Brexit mooi en eenvoudig sal uitlê – dalk moet ons dit in Brittanje ook publiseer, want dié arme mense weet blykbaar nie self waaroor dit regtig gaan nie.
Ons by Vrye Weekblad is trots op ons comeback ná 25 jaar. Daarom verwelkom ons Tiger Woods in ons klub van Konings van Comeback. Dié man se triomf by die Amerikaanse Ope is epies en ’n voorbeeld dat enigiemand uit die donker tye kan opstaan en weer die beste in sy veld kan wees. (Die Blitsbokke se comeback in die sewestoernooi die naweek is self nie te versmaai nie.)
Intussen lees ons lekker aan die terugvoer van ons lesers en gaan ons Vrydag ’n hele klomp lesersbriewe plaas. Ons wil graag hoor wat jy van ons berigte en artikels dink en waarvan jy meer en waarvan minder wil lees.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.