‘Laat Afrikaans dans, baljaar en kattemaai’

BULLETIN

‘Laat Afrikaans dans, baljaar en kattemaai’

Nuusbulletin: 16 April 2019

  • 16 April 2019
  • Daagliks
  • 3 min om te lees


Goeiedag
Julle is darem ’n lekker klomp mense! Oopkop en slim en snaaks – en soms erg korrelkop en kwaai ook. Dinsdae is lesersterugvoer-dag. Hier is ’n paar van julle plesierige skrywes.
Stuur gerus briewe aan redaksie@vryeweekblad.com.
Riette Voigt
Ek het die eerste weergawe van Vrye Weekblad terdeë geniet. Dit was heerlik om goed nagevorsde artikels in goeie Afrikaans te lees, en asseblief hou aan om Afrikaans te laat dans, baljaar en kattemaai. Afrikaans kan nie onveranderd bly nie, dit moet groei. Is op die oomblik besig om Chase Rhys se Kinnes te lees en dis 'n plesier om te sien hoe Afrikaans geskryf kan word. Diegene met die stywe nekke kan gerus bietjie uit hulle kassies klim.
Ryno Walker
Dit was juis die mooi Afrikaanse skryfstyl (loslit maar nie losgat nie!) wat my opgeval het in jul eerste opgawe van Vrye Weekblad. Ek woon aan die Noordkus van KZN waar mens skaars ooit Afrikaans hóór. Ek lees nie net vir nuus nie, maar ook om in voeling te bly met moderne Afrikaans.
LP Louw
Ek het nog nie al die artikels deurgelees nie, maar dié wat ek kon, maak my baie opgewonde. Daar is diepte, maar dis tog ook boeiend en met goeie taalgebruik. Ek dink enige Suid-Afrikaner wat Afrikaans kan volg behoort Vrye Weekblad te lees.
Stephan du Plessis
Dit klink sommer spiekeries! Sal net fantasties wees as julle aan ons pensioenarisse kan dink as julle die tariewe beding.
Margarete Heese
Wat 'n vreugde! ‘n Publikasie wat my as Afrikaner se identiteit en mening kan verteenwoordig sonder dat ek my kop in skaamte hoef te laat sak.
Ek wil graag ook net noem dat ek Jacques Pauw se berig oor Rwanda baie waardeer het. My eerste reaksie toe ek sien dat dit oor die volksmoord gaan, was om te vrees (hoewel ek sekerlik van beter moes weet omdat dit deur JP geskryf is) dat dit net 'n vinnige vlieg-in-en-vinnig-weer-uit berig sou wees. DIt was egter 'n verrassing om te sien dat hy ten tyde van die volksmoord in Rwanda was en hoe verskriklik intens hy dit beleef het. Hy verstaan die letsels (plek-plek nog wonde) wat dit gelaat het, maar ook die situasie soos dit deur die jare tot vandag ontwikkel het.
Danie Loots
Hoewel ek nog net tyd gekry het vir 'n handjievol artikels op VWB, was dit regtig aangenaam. Ek geniet die goeie Afrikaans en hoëgehalte-joernalistiek.
Ek moet sê, dit is heerlik om Max se politieke ontledings nou op VWB te sien en dat hy nie afhanklik is van ander mediahuise se redaksie nie. Dit voel of ek nou by Max kan kuier in sy eie huis, nie in iemand anders se huis wat hom óf verdra óf net geld wil maak uit hom nie.
Die Rwanda-artikel het seergemaak en diep geraak, maar dit was baie goed om te lees. Mens vergeet maklik gebeure van so lank terug, ek was nog jonk en dom en het nie werklik besef wat die impak daar was nie.
Marisa Honey
Jacques Pauw se storie oor Buenos Aires doen meer as enigiets anders om jou te oortuig om 'n vliegkaartjie te koop en in dieselfde plekke te gaan uithang.
Joe Coetzee
Ná 30 jaar in my beroep verbaas niks my meer nie, so ek was baie aangenaam verras met julle eerste uitgawe. Dit was en is puik en oortref alle verwagtinge. Dit was die lekkerste van lekker lees in ‘n baie lang tyd. Soos pannekoek vir die siel.
Groetnis tot môre
Anneliese Burgess en die res van die VWB-span

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.