O aarde, dis amper weer naweek

BULLETIN

O aarde, dis amper weer naweek

Nuusbulletin: 23 April 2019

  • 23 April 2019
  • Daagliks
  • 2 min om te lees


Goeiedag
Dit is 'n kort week en ons skarrel om die volgende uitgawe van Vrye Weekblad bymekaar te kry. Teen Dinsdag begin die span al liggies benoud raak, so vandag net 'n vinnige hallo.
Die terroriste-aanvalle op kerke en hotelle in Sri Lanka waarin meer as 300 mense dood is, behoort ons te laat onthou dat baie van ons Suid-Afrikaners eintlik noue bande met Sri Lanka het.
Die slawe se nalatenskap
Meer as ’n derde van die slawe wat in die eerste eeu ná 1652 na die Kaap gebring is, was van die Indiese subkontinent, baie van hulle van Ceylon, soos Sri Lanka voor 1972 bekend gestaan het. Dié slawe se DNS is wyd versprei in die Suid-Afrikaanse bevolking. Verskeie van die vroue uit Ceylon is met die vroeë Europese setlaars getroud, wat beteken hul gene is ook in baie wit Afrikaners. 
Boonop het meer as 300 Boerekrygers wat gedurende die Anglo-Boereoorlog deur die Britte gevange geneem is sowat twee jaar as krygsgevangenes in Ceylon deurgebring. 'n Klompie van hulle is daar dood en begrawe, en 'n paar het selfs besluit om daar aan te bly. Hul nageslagte is steeds daar.
Die waterkrisis
Ons werk al weke lank aan 'n spesiale verslag oor die waterkrisis in Suid-Afrika. Dis so half ironies dat ons dié verslag gaan publiseer in 'n week waar groot dele van die land swaar reën gekry het. Maar laat ons nie soos Donald Trump maak wat na 'n rekord-sneeuval in Amerika verwys en gesê het dit bewys daar is geen aardverwarming nie. Suid-Afrika se waterkrisis is werklik en dringend en sal nie weggaan nie. (En aardverwarming óók – daaroor ook meer in Vrydag se uitgawe van Vrye Weekblad.)
Hoe meer tyd, hoe meer lees
Dit was goed om te sien hoeveel Vrye Weekblad-lesers ons laaste uitgawe op Goeie Vrydag en oor die langnaweek gelees het – heelwat meer as die vorige uitgawes. Ons het gewonder of mense op hulle af-dae gaan bodder. Nou weet ons. As julle tyd het, lees julle éérs.
Tegniese probleme
Daar is steeds lesers wat kla dat hulle probleme ondervind met die registrasieproses. Dit is 'n klein maar beduidende groep mense – maar vir ons is één gefrustreerde leser een te veel. Daar is ook van julle wat (veral op Facebook) julle ongenoeë uitspreek oor julle “oor en oor” moet registreer. As dit die geval is, kan julle asseblief vir ons presies uitstip wat gebeur?
So, as jy enigsins sukkel (met 'n tegniese probleem van watter aard ook al) stuur asseblief vir Anneliese 'n e-pos by  redaksie@vryeweekblad.com. Verduidelik vir ons in detail waarmee jy sukkel, en ons kry iemand om jou by te staan.
Groetnis tot môreMax en die res van die VWB-span
INDIEN JY DIT MISGELOOP HET...'n Paar hoogtepunte uit ons jongste uitgawe

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.