Beesstert, bastions + biljoene

BULLETIN

Beesstert, bastions + biljoene

Nuusbulletin: 30 April 2019

  • 30 April 2019
  • Daagliks
  • 3 min om te lees


Hallo mense
Dinsdae duik ons in redaksie@vryweekblad.com se inboks in en gee terugvoering oor wat lesers dink, sê en vra. Ons sal hierdie Vrydag van die langer briewe in ons uitgawe plaas, maar vandag vinnig 'n paar (verkorte) skrywes oor dit en dat.
Mal vir Nettie
Dis baie lekker om weer gereeld van Nettie Pikeur te hoor. Ek besit nog knipsels van die meeste van haar artikels uit die ou Vrye Weekblad en De Kat. Ek kook steeds elke winter beesstert volgens die voortreflike resep wat begin met “Druk beesstert in die pot vir diep donker dae” (datum ongelukkig afgeskeur).
Maar laas week se “Ballade vir botter” van Annelize Visser is in ʼn klas van sy eie. Uitstekende kosjoernalistiek! Hoop daar’s nog baie waar hierdie vandaan kom. – Monica Hammes
In die kol, Riku
Graag wil ek vir Riku Lätti gelukwens met sy artikel “Die bastions van Kwak in Afrikaanse musiek”, en dankie aan Vrye Weekblad dat julle dit geplaas het. My wens is dat elke Afrikaanse musiekfabriekbestuurder en taalbesluitnemer die artikel aandagtig lees en ware introspeksie neem. Dit sluit die musiekprogrammeerders by radiostasies soos RSG en die streekradiostasies in!!! – Stefan de Wet
Emmers sal ons red
Die enigste manier waarop ons die droogte kan oorleef, is om ’n obsessie met water te hê. ʼn Emmer is ʼn eeue oue simbool wat nou weer in ons psige ontvou. Met die onstuimige gevolge van aardverwarming is ʼn diepe herkenning in my ontketen aan die vroue wat al duisende jare lank water in emmers dra. – Theresa Jo
Ons wil meer oor die slawegeskiedenis lees
Die kort stukkie oor die slawe se nalatenskap in julle nuutste nuusbrief het my nuuskierigheid gekielie. Ek is seker ek is nie die enigste leser wat ʼn langer berig in meer diepte daaroor sal geniet nie. Wat sê julle? – Ken Halland
(Ons is bly jy, nes ons, hou van Jeremy Vearey se geskiedenislesse. Ons gaan beslis aanhou om dié geskiedenis oop te krap. – Redaksie.)
Ek lees lekker
Die webtuiste is besonder gebruikersvriendelik – dankie juis vir daardie gerief, en dan vir tydrowende navorsing, hetsy nuus en politiek, of wetenskap en tegnologie wat julle gratis aan die publiek gee! Joernaliste – deurwinter soos Max, Jaques en Elsabé, is ’n besondere voorreg om in ons midde te hê.
Mag julle nog lank die gesondheid, energie en durf hê om ons mediavryheid te beoefen en mag ons almal volhou om hierdie vryheid te verdedig en te beskerm. – Cecilia Jacobs
Tegniese probleem opgelos!
Ek was een leser wat met die “tegniese probleme” gesukkel het en is goed touwys gemaak deur ’n behulpsame, simpatieke en vriendelike personeellid van Vrye Weekblad. Ek lees lekker, dankie. Groete uit die Karibiese eilande. – Mathilda Sturgeon
Moedertaal is lekker
Dit is so lekker om gebeure in ʼn mens se moedertaal, (ʼn goeie Afrikaans en nie die geradbraakte taal van sommige tabloids of poniekoerante nie) te lees. Doe so voort. – Magda van der Westhuysen
 Biljoen-tameletjie
Kan ons as lesers helderheid kry oor die gebruik van “biljoen” in Afrikaans by die nuwe Vrye Weekblad? Ek veronderstel in die gebruik van Afrikaans as skryftaal word “miljard” (duisend miljoen) steeds beskou soos die geval is in ander Europese tale.
Gebruik die redaksie “short scale” soos in Anglo-Saksiese lande, waar ’n biljoen = 10⁹ is, of “long scale” soos in Nederlands, Frans, Duits e.a. waar ’n biljoen = 10¹² is?
Die beriggewing deur Sonja Carstens oor Prasa se nog “méér biljoene” vir nuwe lokomotiewe is ontstellend genoeg, maar teen ʼn ekstra R1,000,000,000,000 (biljoen) klink die bedrag eerder na sensasionele fopnuus of amper soos ʼn afstand na die sterre!
Ongeag dié syfer-onsekerheid lees ek lekker aan die nuwe digitale gedaante ná al die jare wat ons VWB en Weekly Mail op Vrydae gedurende die aaklige 80’s in die posbus in Pretoria gekry het. – E.D. Lamb
(Ons het besluit in Vrye Weekblad gebruik ons ‘biljoen', soos dit in Engels ook gebruik word. Daar was 'n driftige debat onder ons lesers (en 'n klomp kwaai briewe van professore en taalpuriste), maar op die ou einde was daar oorweldigende steun vir ons besluit van gewone lesers. – Redaksie.)

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.