Stem vroeg, stem reg

BULLETIN

Stem vroeg, stem reg

Nuusbulletin: 6 Mei 2019


DIE van julle wat nie milleniërs is nie, sal dalk dié sêding uit die dae voor 1994 onthou: Stem vroeg, stem reg, stem gereeld. Dit is meestal tong-in-die-kies gesê, maar ek onthou goed dat daar in die 1970's en 80's tog goed met veral pos- en spesiale stemme gekonkel is.
Woensdag stem ons in ons sesde algemene verkiesing sedert ons 'n regtige demokrasie geword het. Ons moet dankbaar en verlig wees dat elkeen van dié verkiesings meestal vreedsaam verloop het en die uitslae deur almal aanvaar is.
Alles dui daarop dat dit dié keer weer die geval gaan wees – ek hoop nie daar is 'n paar onaangename verrassings nie. Kan julle onthou hoeveel van ons met vorige verkiesings gesê het alles loop glad, maar wag tot die regerende ANC 'n kans staan om te verloor, dan gaan goed dalk skeefloop. Wel, minstens een onlangse meningspeiling dui daarop dat die ANC tot net 49% van die stem kan daal, en steeds dink ek ons kan vol selfvertroue wees dat almal die uitslae gaan aanvaar. Tensy, natuurlik, die EFF baie swakker vaar as wat verwag word …
Dit sou my verras as die ANC nie rondom die middel-50’s kry nie en dat Cyril Ramaphosa nie as president herkies gaan word nie. So eintlik is ons grootste bekommernis dié keer nie die uitslae self nie, maar wat die regerende party en die president met hul meerderheid gaan doen – en hoe die EFF gaan optree as hulle inderdaad hul steun verdubbel.
Vrye Weekblad word rondom middernag Donderdag bymekaargesit. Ek hoop ons gaan laat Donderdag reeds 'n goeie prentjie hê van hoe die kiesers gestem het sodat ons behoorlike ontledings kan doen. Maar as dit nie die geval is nie, sal ons Vrydag deur die loop van die dag nuwe artikels by die uitgawe invoeg en julle laat weet dat dit kom.
Stem vroeg, stem reg, maar stem tog maar net een keer.
Ek neem aan die meeste van julle wat hier lees, het besef dat Vrye Weekblad nou in 'n gratis fase is om die koerant aan lesers bekend te stel en dat ons die een of ander tyd lesers gaan vra om te betaal – hoe anders sou ons so 'n premium-aanbieding van nuus, menings, ontledings en leefstylartikels befonds?
Die datum vir dié Wet van Transvaal is nou op 7 Junie vasgestel. Ons gaan in Vrydag se uitgawe vir ons lesers 'n klompie vrae oor julle ervarings tot dusver en julle voor- en afkeure vra, en sal 'n vraag insluit oor wat julle dink 'n maand se Vrye Weekblaaie werd is. Ons wil ook by julle hoor of julle sou verkies om regstreeks onderaan artikels kommentaar te lewer.
Gegroet tot Vrydag
Max en die res van die Vrye Weekblad-span

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.