Lees, lag, stof tot nadenke – en gaan trek jou kruisie!

BULLETIN

Lees, lag, stof tot nadenke – en gaan trek jou kruisie!

Nuusbulletin: 7 Mei 2019


Goeiedag
Môreoggend stem ons in Suid-Afrika se sesde verkiesing. Ons span sal vroeg roer om ons kruisies te gaan trek, want dan is dit terug lessenaars toe vir ons. Oor die hele land heen is politieke partye nou besig met hulle laaste pogings om kiesers te oortuig om vir hulle te stem, maar die groot kwessie (vir alle partye) gaan wees hoeveel van hulle ondersteuners hulle by die stembus kan kry om 'n stem uit te oefen.
Dinsdag is terugvoeringdag, en hiermee dan solank 'n paar leserskommentare vir julle om aan te peusel. Die langer briewe hou ons vir Vrydag se uitgawe. 
So lekker om Afrikaans te lees in die buiteland
So dankbaar dat Vrye Weekblad weereens nuus bring! En veral nou, ná 21 jaar in Engeland, is my Afrikaans beroerd om die minste te sê! Ek praat dit net in geselskap met familie en dis elke-dag-gesels, nie Afrikaans wat deesdae in nuusblaaie verskyn nie. Nooit te oud om te leer nie, nè?! Baie dankbaar vir al die artikels, lees elkeen!! Keep them coming! – Wanda Bolton
 Lagbuie sak uit
Die nege minute wat julle raam dit sal neem om Madeleine se artikel “Dis (soms darem ook) hemel op die platteland” te lees, is heeltemal verkeerd – saam met lagbuie neem dit ongeveer 18 minute. – Theunis Bekker
Stof tot nadenke
Mal oor die artikel (Azille Coetzee oor visum en toerisme). Ons wil nie hê Afrika moet 'n tweede Venesië of Barcelona word nie, maar terselfdertyd het ons ook toerisme nodig. Balans ... die verdeling tussen globale Noord en globale Suid baie subtiel – subtiele diskriminasie. Kan nie my vinger daarop plaas nie, maar veral wanneer ek moet saamwerk met Amerikaanse kollegas voel ek soos 'n derderangse mens. Europa is meer gangbaar. Ek werk hard om weg te doen met daardie gevoel van “in 'n mindere klas te wees". – Ina Viljoen Smith (op Facebook).
(Almal het nie ewe veel byval gevind by die artikel nie, en ons plaas 'n kritiese repliek van 'n leser in hierdie week se uitgawe – Redaksie).
Anastasia is in die kol oor “bruin-vrou-navorsing"
Wat is die sogenaamde navorsing werd as dit deur die navorsers self beskryf word as “limited by a small sample size and non-probability sampling methods and (is) likely not fully representative”? Veral as dit boonop net die voor die hand liggende stel: dat ouderdom en opvoeding ’n mens se kognitiewe bedrewenheid beïnvloed – of jy nou “gekleurd” of kleurloos, vrou of man is. Hou so aan, Anastasia de Vries, met jou kognitief is daar voorwaar niks verkeerd nie! – Hannelise Brand
 Vrye Weekblad lees lekker op die foon
So bly dat Vrye Weekblad herleef het. In so ’n wonderlike formaat. Ek kan dit elke dag sommer op my selfoon lees. Dit is fantasties. Die artikels is so relevant soos altyd. En julle joernaliste is soos vantevore briljant. Wonderlik!
Daar is net een vraag wat ek het. Hoe is dit ekonomies moontlik om die koerant uit te gee? Daar is geen advertensies of subskripsies nie.
Hoe dit ook al sy, ek is baie bly dat julle terug is. – Hennie Hugo
(Vrye Weekblad word uitgegee deur Tiso Blackstar, wat onder meer ook Sunday Times, Business Day en Financial Mail publiseer. Hulle het in Vrye Weekblad belê, en daar is besluit dat dit die eerste paar maande gratis sou wees vir lesers. Hierdie tydperk kom egter op 7 Junie tot 'n einde, waarna daar wel 'n subskripsiefooi sal wees. Ons vertel meer daaroor in hierdie week se uitgawe! – Redaksie)
Groetnis
Anneliese Burgess en die res van die Vrye Weekblad-span

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.