Dagsê
As jy nog nie het nie, gaan trek jou kruisie! Hierdie verkiesing is te belangrik vir ons om nie ons stem dik te maak nie. Vir wie ook al jy stem.
En of jy in ’n lang tou moet staan of sommer vinnig in-en-uitglip, hier is ’n paar stories van oor die hele wêreld om jou van die politici te laat vergeet. Wel, amper.
Wat doen ’n “tronkkonsultant”?
Donald Trump se voormalige prokureur, Michael Cohen, begin Maandag sy tronkstraf van drie jaar uitdien. Wanneer die skatrykes hul luukse huise vir die tronk verruil, kry hulle soms gespesialiseerde konsultante om die “oorgang” maklik te maak.
Martha Stewart, Bernie Madoff en die NFL-spelers Michael Vick en Plaxico Burress is van die bekendes wat glo tronkkonsultante gehuur het. Hulle help met die hele proses: van die dagvaarding tot vonnisoplegging, die skryf van aansoeke vir voordele en middernagtelike oproepe van besorgde familielede. Die prys van al hierdie handjiesvashouery? Tot oor die $100,000. Amper R15 miljoen.
>> LEES MEER:
Is vryheid van beweging in Suider-Afrika ’n opiumdroom?
Van die 7.48 miljoen mense wat in 2017 na een van die 16 lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gemigreer het, was oor die 4 miljoen na Suid-Afrika op pad.
Toenemende sosio-ekonomiese ongelykhede tussen die lidlande van die SAOG belemmer ’n gesamentlike benadering tot migrasie. Boonop is daar nie die politieke wil binne die SAOG om migrasie beter te hanteer nie en ’n gebrek aan betroubare data.
>> LEES MEER:
Mans het “likeability” uitgevind. Raai wie vind baat daarby?
Reklame-agentskappe en selfhelp-ghoeroes het eerste daarvan gepraat. Toe tref dit die politiek.
In 2016 het dit die “unlikeable” Hillary Clinton in die wiele gery, en nou lyk dit of ons ook nie hou van enige van die ses vroue wat meeding om die Demokrate se presidentskandidaat te wees nie.
“Likeability” is niksbeduidend, arbitrêr en betekenisloos. Tog sukkel vroue-politici daarmee – veral wanneer hulle suksesvol is of president wil word.
>> LEES MEER:
Semenya gaan haar nie laat keer nie
“Geen man of enige ander mens kan my keer om te hardloop nie,” het Caster Semenya ná haar skouspelagtige oorwinning in die 800 m in Doha gesê. Sy het gereageer op die bevinding van die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie dat haar appèl misluk het teen die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies se reëls oor testosteroonvlakke in vroue-atlete.
Dié reëls bepaal vroue met natuurlike hoë testosteroonvlakke moet medikasie neem om dit te verlaag vir die 400 m, 400 m-hekkies, 800 m, 1,500 m en die myl.
>> LEES MEER:
Lotery se beloftes stink
Ná maande se klagtes oor die haglike toestande by die Hoërskool Waterval in Limpopo het leerders en hul ouers die strate versper om die aandag op hulle toiletgeriewe te vestig. Nóg die skool se beheerliggaam nóg die hoof het geweet dat nuwe ablusieblokke met Lotto-geld by die skool gebou moes word. Die skool is een van tien in Limpopo en 15 in die Oos-Kaap wat moes baat vind by ’n projek van R20 miljoen.
>> LEES MEER:
Groetnis tot môre
Anneliese en die res van die Vrye Weekblad-span
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.