Verkiesing (ja, nog al die tyd): Kom ons trek ’n Dan Roodt op...

BULLETIN

Verkiesing (ja, nog al die tyd): Kom ons trek ’n Dan Roodt op dié randfigure

Daagliks: 13 Mei 2019


Goeiedag
Kan ons nou 'n slag oor iets anders as die verkiesing gesels, asseblief? Nog nie? Volgende week dan?
Ten minste het die kommentariaat 'n slag hul brood verdien, al was dit gereeld met twyfelagtige ontledings. 'n Voorbeeld is die klomp wat die groei in die getalle van die Vryheidsfront-Plus as 'n herrysing van Afrikaner-regses bestempel. Of die daling in die steun van die DA as 'n bewys dat populisme en identiteitspolitiek ons politieke kultuur oorgeneem het.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) was maar erg onbeholpe, maar niemand kan ernstig sê die verkiesingsuitslae is gekook nie.
Daar was net enkele voorvalle van geweld of intimidasie landwyd. Cyril Ramaphosa het 'n goeie mandaat gekry om sy beloftes uit te voer en die middelgrond bly sterk. Woensdag 8 Mei was dus eintlik 'n goeie dag vir ons demokrasie. Ons moet ons seëninge tel.
Die kommentariaat gaan ons in die komende maande vergas met hulle ontledings oor Cyril Ramaphosa: Werk sy “long game” of nie; het hy die oorhand in die nasionale uitvoerende komitee of nie; is sy ruggraat van botter of van staal?
Ons sal gou genoeg 'n aanduiding kry wanneer hy sy kabinet aanstel. (Ek sal 'n paar rand daarop verwed dat Ronald Lamola, die 33-jarige seun van plaaswerkers in Mpumalanga met twee meestergrade in die regte, in die kabinet gaan wees, hopelik as minister van 'n gekonsolideerde portefeulje van grondsake en landbou. Ek het hom die laaste jaar as 'n gebalanseerde, verantwoordelike en slim leier ervaar.)
Kanaal 405 op DStv het toe uiteindelik 'n nuwe inwoner gekry. Dis nou waar Gupta-TV, alias ANN7, was. Die nuwe lot, NewzRoom Africa, sukkel nog 'n klein bietjie met tegniese goedjies, maar ek dink hulle gaan goed vaar en is klaar strate beter as hul voorganger.
Ten minste is daar nie 'n ooglopende politieke agenda nie. eNCA en die SABC se 24-uur-nuuskanaal sal moet sokkies optrek – begin sommer deur aanbieders in die pad te steek wat te lief vir hul eie stem is, kollegas.
So gepraat van ANN7. Mzwanele Manyi, voorheen bekend as Jimmy, wat die kanaal by die Guptas oorgeneem het, is nou hopelik van ons voorblaaie en TV-skerms af en galop in die sonsondergang in. Hy het kort voor die verkiesing nog voorspel dat sy partytjie, die ATM (wat anders, dis Jimmy), miljoene stemme gaan kry en toe eindig hulle met twee setels.
Asseblief, kollegas in die media, kom ons luister na die kiesers en hou op om randfigure en flentergatte soos Manyi, Hlaudi Motsoeneng en Andile Fake-Biko lugtyd te gee. Kom ons trek 'n Dan Roodt op hulle. (Dan se Front Nasionaal is selfs deur die EFF in Orania met stemme geklop.) Dan wie?
Groetnis tot Vrydag, vir Uitgawe Sewe. (Ons gaan binnekort ophou tel, ek belowe.)
Max en die res van die Vrye Weekblad-span

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.