Oor slaap in die messelaai, Cyril en sensuur

BULLETIN

Oor slaap in die messelaai, Cyril en sensuur

Nuusbulletin: 14 MEI 2019


Middag
Soos altyd op 'n Dinsdag: 'n bietjie  terugvoering van julle – en van ons aan julle!
Vars luggie op 'n Vrydag
Ek geniet dit om julle goed nagevorsde en uitdagende artikels te lees. Dit hou my in kontak met Suid-Afrika (ek werk tans in die Golf van Mexiko). Net een vraag, hoe op aarde kry julle reg om so 'n uitmuntende publikasie gratis op die internet te publiseer?
As 'n getroue gewese leser van elke eksemplaar van die oorspronklike Vrye Weekblad (Nag Generaal), is dit soos 'n vars luggie om weer uit te sien na elke Vrydag! – Hannes Miller
(Hannes, jy is inderdaad reg. Vrye Weekblad sal ongelukkig nie vir altyd gratis kan wees nie. Daar sal van 7 Junie af 'n subskripsiefooi wees. Maar soos altyd sal dit voorafgegaan word deur 'n gesprek met ons lesers, en hierdie Vrydag sal ons 'n meningsopname doen waar ons julle sal vra wat julle bereid sou wees om daarvoor uit die sak te haal. - Redaksie)
Verkiesing-nabetraging
Die  uitslae, veral vir die DA, is 'n duidelike bewys dat hulle geen idee het hoe om 'n veldtog op grondvlak te bedryf nie. Hier in die Oos-Kaapse Karoo was daar skaars 'n beduidenis dat 'n nasionale verkiesing op hande is. Geen plakkate, vergaderings, ensovoorts nie. 
Dit geld  min of meer al die partye. Van Colesberg tot in Aliwal sou 'n mens sweer ons woon in 'n ander land.
Partye sal moet besef dat verkiesings nie net in metrogebiede beveg word nie. Hulle sal sigbaar moet raak in landelike omgewings. Veral op munisipale vlak. 
Selfs die VF+ sal moet besef dat hul verteenwoordiging sigbaar sal moet wees, en hier in die Karoo sal hulle van huis na huis, en plaas na plaas moet ry indien hulle hoegenaamd 'n impak wil maak. – Cecile Pretorius
Mei en May
Hoe nou met die datum in Engels in die 3 en 10 Mei-uitgawes? Op die voorblad is die datum in Afrikaans. Maar boaan die artikels is die datum in Engels: “03 MAY 2019" en “10 MAY 2019". – Karen van Rooyen
(Jou valkoog! Dit het ons ook ietwat onkant gevang toe ons die eerste uitgawe in Mei uitgebring het. Die stelsel wat ons gebruik om ons uitleg te doen is oorspronklik vir Tiso Blackstar se Engelse publiksasies gebou, en omdat April in Engels en Afrikaans op dieselfde manier gespel word, het ons nie die ou gogga aanvanklik bespeur nie. Op sekere plekke kan ons dit verander, maar op ander plekke is dit 'n deel van die raamwerk. Dit word tans reggestel deur die kodeerders wat agter die skerms werk ... maar dankie dat jy ons daarop gewys het!)
In die messelaai
Vir seker slaap julle saans in die messelaai!  Want julle lewer onverpoos vlymskerm leesstof! Ek is gaande oor jul taalgebruik en skryfstyl! Baie dankie vir die direkte dog spitsvondige manier waarmee julle ons op die hoogte hou! – Toelie van der Walt
Dit gons op Facebook oor “Die Land"-meningstuk
Ek het dit nou deurgelees en dink Cas het 'n baie goeie analise geskryf. Ek het self aan die plaas as mite gedink toe ek eers die video sien. Vir die lesers wat negatief voel oor Cas se artikel, ek wil daarop wys dat 'n mite in die kunste nie beteken dat iets onwaar is of nie bestaan nie. Dis juis dat dit MEER as waar is, en amper 'n bonatuurlike betekenis het vir 'n volk se identiteitsvorming. Ons sê dus nie dat niemand oor plase mag liedjies of flieks maak nie, maar eerder dat die aanhoudende simbool van die boereplaas beperkend is. Die plaas is maar net een tipe land. Dink aan of die strand, woud, berge of wildtuin met dieselfde temas uitgebeeld word. – Rossouw Nel
Vrye Weekblad se bydraers sal moet oppas. Die lied is besig om julle van jul sin(ne) te beroof. Soos 'n klomp aasvoëls om 'n karkas. – Elize Kruger
Ongevoelig, onsmaaklik, onnodig en niksseggend. Ek daag VWB uit om my antwoord hierop volledig te plaas. Sonder sensuur en sonder voorbehoud. – Nico Bronkhorst 
(Nico, so gevra en so gedaan. Ons geen probleem met meningsverskille nie – Redaksie)
Oor Max se “ons soek 'n Moses"-vertoë aan Cyril
Kan nie méér saamstem met Max nie. 'n Moses met 'n Salomo se wysheid sal nog beter wees. En Cyril die beste wat ons het. – Ina Viljoen Smith
Maak nie saak na wie jy soek nie, jy het Judas. – Billy Tempelhoff
Tot môre
Anneliese en die res van die Vrye Weekblad-span

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.