Presies hoeveel waagmoed het liefling Cyril?

BULLETIN

Presies hoeveel waagmoed het liefling Cyril?

Nuusbulletin: 20 MEI 2019


Goeiedag
Die nasie hou asem op dié week.
Daar is min twyfel dat die ANC Woensdag sal sorg dat Cyril Ramaphosa as president van die land herkies word. Saterdag sal  hy op Loftus Versveld beëdig word. Watter plesier sal dit nie wees nie as iemand in die stadion se klankateljee 'n verkeerde knoppie druk en “Liefling” word kliphard in die stadion gespeel.
Sondag gaan hy die res van die topses, wat sy boesemvriend Ace Magashule insluit, oor die name van sy nuwe kabinetslede inlig, Maandag gaan hy glo die party se nasionale uitvoerende komitee hieroor inlig, en daarna sal die res van ons ook hoor.
Dit sal die oomblik wees dat ons as landsburgers die eerste werklike aanduiding gaan kry van hoe die winde in die regerende party waai en of Ramaphosa waagmoedig genoeg gaan wees om vir die terugvegbende 'n middelvinger te wys.
Politieke verslaggewers speel al meer as 'n week lank die speletjie om oor die nuwe kabinet te bespiegel. Daar is lyste wat die rondte doen, agente van die verskillende kante lek allerlei brokkies, en partykeer maak verslaggewers sommer die stories op. Dit is nie juis 'n intelligente tydverdryf nie.
Ek is jammer om dit te moet sê, maar ek ervaar geen tinteling van opgewondenheid in afwagting van die bekendmaking van die kabinet nie. Die poel waaruit Ramaphosa sy ministers moet uitsoek, is maar vlak en troebel.
Die enigste nuwe bloed met werklike talent is Ronald Lamola, 'n 37-jarige prokureur wat op 'n plaas in Mpumalanga grootgeword het waar sy pa 'n werker was. Hy was destyds deel van die Jeugliga-kontingent wat saam met Julius Malema uit die ANC geskors is, maar het nie by die EFF aangesluit nie. In 2016 het hy weer die aandag getrek toe hy by die ANC-leierskap daarop aangedring het dat hulle vir Jacob Zuma uitskop, en hy is in 2017 tot die nasionale uitvoerende komitee verkies.
Ramaphosa het die afgelope jaar vir Lamola gebruik om die debat rondom grondonteiening te help stuur en hy was een van die redelike stemme oor die kwessie. Dalk gaan hy die belangrike pos van grondhervorming kry, hoewel oudminister Thoko Didiza glo ook 'n kandidaat is. Sy lei die parlementêre komitee oor die saak.
Dié portefeulje is 'n belangrike een. Ons gaan waarskynlik later vanjaar nog 'n wysiging in artikel 25 van die Grondwet sien wat die onteiening van grond sonder vergoeding makliker sal maak. Die presidensiële adviespaneel oor die saak maak binnekort sy bevindinge bekend. Maar dit is die implementering van grondhervorming wat belangrik is, en daar sal die ministerie 'n belangrike rol speel.
'n Ander ministerie wat myns insiens baie belangrik is, maar nie tradisioneel veel status geniet nie, is watersake.
Met klimaatsverandering wat in volle gang is, is dit van kritieke belang dat ons 'n sterk, visioenêre ministerie sal hê om vir die kort en langer termyn te beplan. Net een ernstige droogte gaan die groter Johannesburg sonder water laat, en ons gaan nóg krisisse soos dié in Beaufort-Wes en Makhanda (Grahamstad) sien. Dalk kan watersake en omgewingsake een ministerie word met 'n minister met 'n sterk stem aan die hoof daarvan.
Maar wie gaan ons visepresident wees?
David Mabuza is ongewild by al die faksies in die party en het boonop probleme met sy gesondheid. Ons weet Lindiwe Sisulu het ambisies om eendag president te word, want sy was 'n amptelike kandidaat voor die ANC-leiersverkiesing aan die einde van 2017. Maar ons het die naweek gesien hoe sy toelaat dat Ace Magashule haar in die geledere van die terugvegbende koöpteer, en Cyril het dit sekerlik ook gesien.
Dit sal dalk meer sin maak om Nkosazana Dlamini-Zuma in die pos aan te stel. Dit sal baie vure in KwaZulu-Natal doodslaan en die gô uit die terugvegpoging haal. Boonop is sy te oud om self vir Ramaphosa te wil opvolg.
Ek het die naweek weer berigte gehoor oor hoeveel Suid-Afrikaners die land verlaat het en nog wil verlaat.
Volgens amptelike inligting is daar 170,000 Suid-Afrikaners wat permanente verblyfreg in Australië het. Ons het nie die getalle vir ander gewilde bestemmings soos Nieu-Seeland, Kanada, Brittanje en Amerika nie. Dit sal my nie verbaas as die aantal emigrante nou al die miljoen-merk verbygesteek het nie. Dit is natuurlik almal mense met aansienlike bates en/of spesiale vaardighede; mense wat ons nie kan bekostig om te verloor nie.
Ek hoop Suid-Afrika gaan in die volgende maande en jare onder Ramaphosa se leiding genoeg stabiliseer sodat mense minder vrese vir die toekoms sal hê.
Vrydag se uitgawe van Vrye Weekblad is die tweede laaste gratis uitgawe. Daarna gaan net betaalde intekenaars toegang hê. Dit maak ons 'n bietjie senuagtig, want dit is onmoontlik om te voorspel hoeveel van die tienduisende lesers wat ons publikasie die afgelope sewe weke gelees het, hul kredietkaarte gaan uithaal.
Dit is egter onvermydelik. Vrye Weekblad moet vir homself betaal om werklik onafhanklik, onverbonde en onverskrokke (die oorspronklike koerant se motto) te kan bly. Betaalde advertensies is nêrens juis ’n groot inkomste vir aanlyn-publikasies nie.
Ons sal in die komende twee uitgawes verder met julle hieroor kommunikeer.
Gegroet tot Vrydag
Max

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.