Kop-draaie, Sodom – en die Wet van Transvaal

BULLETIN

Kop-draaie, Sodom – en die Wet van Transvaal

Nuusbulletin: 28 MEI 2019


Max, jy’s toe nie so 'n slegte ou nie ...
Ons het nie baie van Max gehou in die apartheidsera nie. Ons besef nou dat Max toe al reg was. Die rede is dat hy hom altyd aan die kant van die waarheid geskaar het, en ons het verkies om verby dit te kyk. In 'n wêreld van korrupsie en leuens is dit baie lekker om onbevange na die waarheid te luister. Hou so aan, Max, ons geniet jou baie. – Bokkie Ferreira
Sodom, Gomorra en Israel Folau
Daardie Aussies wat Israel Folau se rugbykontrak gekanselleer het, moes eers vir hulself vasstel hoe en óf hulle aan godsdiens glo. As hulle byvoorbeeld nie aan die Bybel glo nie, sal Folau se tweet hulle nie raak nie, want dan gaan die hel hulle mos nie aan nie.
En ás hulle daaraan glo, moet hulle eers uitmaak of dit vir hulle die Woord van God is, of andersins woorde óór God. Met 'n blote letterlike interpretasie oor onder meer Sodom en Gomorra, is dit eerder God as Folau wat hier aangespreek moet word.
En as die Bybel allegories of metafories geïnterpreteer word, is die liefde die laaste woord en kan Israel se onsensitiewe getweet moontlik as 'n storm in a teacup gesien word. Hoe dit ook al sy, dit gaan oor 'n opinie, en wanneer dogmas oor godsdiens kontraktuele aanspreeklikheid begin bepaal, is die hel regtig los. – Dan Badenhorst
Kop-draaie
Ek stel nie regtig in politiek belang nie, maar o aarde! Vrye Weekblad het my siening oor baie dingetjies laat verander. Doet zo voort. – Carla Benade
Vrye Weekblad en die Wet van Transvaal
Die prys van 'n lattę. Ek's in!! – Elmarie de Bruin
Ai, tye verander, oorspronklike VWB is pryse vergelyk met bier, nou met koffie! – Cecile Steenkamp
Flippit, mense! Vir die eerste keer in my lewe is ek gereed en bereid om vir nuus te betaal! Elke artikel wat ek lees, is uitstekend geskryf, met skerp taalgebruik. 
As my man uit die huis uit is in die oggende, dan spring ek terug in die bed met 'n koppie tee,  twee staffies en 'n vet kat, gereed om nog 'n artikel te verslind. In die verlede, as my tyd sou min raak met 'n storie, dan sou ek net so vlugtig 'n oppervlakkige scan deur die res maak om agter die kap van die byl te kom ... duidelik nie hier by julle die geval nie.
Die beste deel vir my, is dat ek nog nie een keer my oë moes rol vir die snert uit iemand se pen (lol) nie. Well done met 'n relevante, boeiende publikasie. Julle verdien sukses! – Melissa Fowler
(Melissa wen die prys vir die voel-goed brief van die week! Dit maak ons so bly om hierdie soort terugvoering te kry. – Red.)
Mal oor julle kosstories
Ek's so bly om weer kosartikels van jou te lees. Herleef weer die vorige eeu. Julie reis ons agter die Langberg op die R62 en oornag in Montagu.  Verskaf asseblief tog die name van  lekker en interessante koffieplekke in Calitzdorp, Ladismith en 'n restaurant in Montagu. – Johan Loubser
(Ons het ons leefstylredakteur, Annelize Visser, gevra sy moet die R62 op haar lysie sit – maar dis moontlik dat ons nie voor jou trippie daarby gaan uitkom nie, Johan! – Red.)
Ek het die artikel oor Braam Kruger baie geniet (en die boek op bidorbuy opgespoor!).  Ek het Henk Serfontein laat weet van die keer toe Braam met sy voete in die seewater by ’n tafel vol seekos gestaan het tydens sy TV-program, en toe seg hy: “Daar is twee goed wat soos ’n oester lyk, en een daarvan is ’n oester.” – Theunis Bekker
(Jy't ons lekker laat lag, Theunis. – Red.)

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.