LESERSBRIEWE | My liefdesverhouding met die Proteas het verbrokkel

KRIEKET

LESERSBRIEWE | My liefdesverhouding met die Proteas het verbrokkel

Hy is vasgevang in mishandeling, en hy blameer Jonty Rhodes, skryf 'n leser tong in die kies.

  • 27 Junie 2019
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: FOTO VERSKAF

Ek is vasgevang in mishandeling, en ek blameer Jonty Rhodes. (Hierdie brief gaan baie verwysings hê na krieket, so hou nou op met lees as dit nie in jou kolfkampie is nie.)

Ek onthou dit soos gister: die kerk het sopas uitgekom en ons het in die kar vir my pa, die dominee, gewag om klaar te maak in die konsistorie.

Om te keer dat ons terugkeer na 'n bakoond en vaskleef aan die leersitplekke van die kar, het ons die Peugeot 504 onder die groot bome van Wynberg-militêre basis se kerkgronde parkeer.

Die jaar was 1992 en ek was in standerd ses. Omdat ek grootgeword het in Namibië, het ek nie in daardie stadium krieket gevolg nie — dit is nie aangebied as 'n sport op skool nie, en ek het dus eers daarmee kennisgemaak toe ons na Suid-Afrika getrek het. (Dis moeilik om te glo, maar daar was 'n tyd in my lewe toe krieket nie my geloof — kan jy maar sê — was nie.)

Ek draai die radio se knoppie na Radio 2000, en dit skakel in op die Wêreldkrieketbeker. Suid-Afrika teen Pakistan — ons eerste deelname na jare van isolasie. Die amptelike truie se ontwerp is so treffend, dit word vandag steeds in die skare opgemerk, en jy kan dit nog in die versamelaarswinkels aanskaf.

Pakistan kolf en hul staatmakerkolwer, Inzamam-ul-Haq, lyk goed voor die penne. Hulle jaag 'n belaglike teiken van 211 en is goed op dreef. En toe speel die toneel af wat my lewe (en dié van talle ander seuns) vir altyd sou verander: Brian McMillan draf in en boul.

Bloedjong Rhodes

Die bal tref Inzamam op die knieskutte en spat na punt. McMillan appeleer vir been-voor-paaltjie maar tevergeefs. Inzi trek weg vir 'n lopie en halfpad op die kolfblad verander hy van plan — hy sien tot sy skok hoe 'n bloedjong Rhodes op die bal toesak en laasgenoemde instinktief besef hy het genoeg tyd om self by die paaltjies uit te kom voor Inzi terug is in sy kolfkampie.

Dit gebeur als so vinnig dat daar, volgens oorlewering, nie 'n kleurfoto bestaan van wat volgende plaasvind nie — die fotograwe het nie tyd gehad om die foto te neem nie. Rhodes peil op die paaltjies af en sonder om te dink en met slegs een paaltjie om na te mik, gooi hy nie die bal nie — hy duik, bal vasgeklem in sy regterhand en ten volle uitgestrek, perfek horisontaal. 

Jonty hang vir 'n ewigheid in die lug en vernietig dan die paaltjies met sy duikslag, in 'n oogwink voor Inzi terug is in sy kolfkampie. Die res is geskiedenis — 'n ikoniese foto, sprakelose kommentators en 'n geslag seuns wat almal soos Jonty wil veldwerk doen.

Dis 'n keerpunt in die wedstryd en Suid-Afrika wen met 20 lopies. Die super-natuurlike aksie van een speler sou ek vir altyd onthou, en dit was die dag wat my verhouding met die spel begin het. Ek sou kennis maak met legendes, onder andere ons eie Witsblits, Allan Donald.

Die liefde taan

1999. 2003. 2007. 2011. 2015. Sedertdien het my liefdesverhouding met die Proteas minder gelukkig geword. Elke vier jaar het ek opgewonde gesit en wag vir die Wêreldbekertoernooi, gereed om enigiets te doen wat my beter helfte van my vra.

En die beter helfte het elke keer probeer, regtig, maar beloftes ten spyt, net weer en weer teleurgestel. En keer op keer het ek moedig vir ander vertel dat ek, as't ware, in die deur vasgeloop het, vandaar die blou oog. En terwyl die hart nog pyn, vat ek hulle terug sodra hulle weer op die kassie is.

Ons speel Sondag toevallig weer teen Pakistan. Die Proteas se 2019-veldtog is so power dat ons net bo Afganistan is op die ranglys, 'n land wat letterlik niks oor het behalwe krieket nie.

Ons moet dus ten alle koste wen om nog 'n wiskundige kans te hê om na die semi-finaal deur te gaan. Pakistan kolf eerste en stel 'n totaal van 308/7. Interessant genoeg neem Imran Tahir, oorspronklik van Pakistan, maar wat Suid-Afrikaanse burgerskap verwerf het, twee paaltjies vir die Proteas en steek daarmee Allan Donald verby as die SA speler wat die meeste paaltjies geneem het in Wêreldbekers.)

Genoeg blou oë

Ons kolf, en sukkel. Amla is verby sy beste. Quinny speel instinktief en gooi sy paaltjie weg. Faf veg moedig voort as kaptein maar word uitgevang vir 63. En toe skielik is dit asof ek 'n deur 'n onsigbare grens breek. Genoeg blou oë. Dit het tyd geword.

Soms moet 'n man kyk na sy eie selfbehoud, en dit beteken nie jy is 'n slegte ondersteuner nie. Die Proteas sal altyd my liefling wees, en jy sal my elke jaar teëkom op Nuweland vir toetskrieket (die ware koningsport) waar ek ons manne ondersteun. Dis net tyd om mekaar in die oë te kyk en te sê, miskien is ons nie vir mekaar bedoel nie. Alle sterkte vorentoe, maar ek klim hier af.

Ek skakel die tv oor na YouTube en sit vir Mumford & Sons aan, en maak 'n bier oop. Dis nog net ses maande tot rooibalkrieket op Nuweland. Skielik is die aand ligter. - Jannie Smith


PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.