Skop die swartgalligheid onder sy jis. Ons klomp hardegatte...

BULLETIN

Skop die swartgalligheid onder sy jis. Ons klomp hardegatte is al deur baie erger.

Nuusbulletin: 5 Augustus 2019

Goeiemiddag

Dit is baie maklik om in die Suid-Afrika waarin ons vandag lewe, erg swartgallig te raak.

Ek het verlede week vir die eerste keer in my lang loopbaan van politieke ontleding en kommentaar geskryf 'n Arabiese Lente-tipe-scenario is nie meer absurd nie.

Lesers het ywerig met my saamgestem en die pap nog dikker aangemaak. Dié week skryf ek ’n stuk oor watter waarskuwings ander lande waar die demokrasie geknak is, vir ons inhou – daar is heelwat gevaarligte wat flikker.

Moenie soos Job wees nie

Maar ek dink ons moet die versoeking weerstaan om ons hare uit te trek, ons klere te skeur en in sak en as te gaan sit. Dit gaan ons verlam en sake net vererger.

Ons moet realisties oor die gevare wees, maar ons moet ook onthou dat ons gemeenskap al deur dieper waters gegaan en heelhuids anderkant uitgekom het.

Ons is ’n tawwe klomp hardegatte, ons Suid-Afrikaners. Ons moet eerder dat die gevaartekens ons mobiliseer om harder te werk om ons land en ons ekonomie op 'n veilige pad te hou.

Tel jou seëninge

Ons het vir Anneliese Burgess gevra om met 'n klompie mense te gesels om te hoor waaroor ons in die aangesig van al die slegte nuus 'n bietjie hoop kan koester. Ek sien uit na haar artikel. Tel jou seëninge, sou die ou mense ons vermaan het.

Ek was een van die joernaliste wat onder die vaandel van die nasionale redakteursforum (Sanef) vandag die Gelykheidshof gaan vra het om die EFF-leierskap in die bek te ruk en opdrag te gee om hulle intimidasie van joernaliste te staak.

Ek glo alle regdenkende Suid-Afrikaners moet die EFF as 'n ernstige bedreiging vir ons demokrasie sien en hulle met rasionale argumente en hofaksies teenstaan.

EFF soos ET in die 1980’s

In my beëdigde verkaring voor die hof vergelyk ek die EFF-leiers se houding – om joernaliste as die vyand te identifiseer, maar dan tjoepstil te bly as hulle volgelinge dié boodskap as 'n oproep tot aksie sien – met die gedrag van Eugene Terre’Blanche se AWB in die laat 1980's. Die groot verskil is natuurlik dat Terre’Blanche se voetvolk nie sosiale media gehad het om hulle haatlikheid te versprei nie.

Reën en rugby

Soos ek hier sit en skryf, reën dit heerlik hier in Kaapstad. Net verlede jaar nog het ons amper-amper sonder enige water gesit, en nou is ons damme op pad na 80% vol. Ek het êrens gelees die vooruitsig vir ’n normale reënjaar in die somerreënvalstreke is goed.

Goeie reën en 'n goeie vertoning deur die Springbokke – die Wêreldbeker-rugbytoernooi begin volgende maand – was nog altyd die beste medisyne vir baie van ons se swartgalligheid. Kom ons hoop dit werk weer só.

Groetnis tot Vrydag

Max du Preez

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.