Mikrodiertjies op die maan, sexit ná Brexit, en skakerings van pienk

BULLETIN

Mikrodiertjies op die maan, sexit ná Brexit, en skakerings van pienk

Nuusbulletin: 7 AUGUSTUS 2019

Dagsê

Met al die swaarmoedigheid om ons (en glo my, dis nie net Suid-Afrikaners wat só voel nie) het ek sewe stories van elders gaan soek wat wissel van die absurde tot die amusante en interessante. 

Geniet die lees-afleiding!

Mosbeertjies gaan (mos) maan toe

Die taaiste diertjies op aarde  leef nou waarskynlik op die maan nadat hulle vroeër vanjaar in 'n Israeliese ruimtetuig daar neergestort het.

'n Vrag waterbeertjies (ook mosbeertjies of traaglopers – Tardigrada – genoem) van die dierefilum wat tot die klade Ecdysozoa behoort, was aan boord van die Beresheet toe 'n katastrofale fout dit op sy laaste aftog teen 'n hoë spoed teen die maanoppervlak laat bots het.

Wetenskaplikes meen die mikrodiertjies het heel moontlik oorleef: Hulle is die mees onvernietigbare spesies (daar is ongeveer 1,000 spesies) op die aarde en kan vir tot 30 jaar sonder kos of water oorleef, asook temperature van tot 150 °C, die ysige water van Antarktika en die bevrore vakuum van die ruimte.

>>LEES DIE OORSPRONKLIKE ARTIKEL HIER:

Popster Bobi pla vir Museveni

Die Ugandese pop-ster Bobi Wine is daavan aangekla dat hy bedoel het om pres. Yoweri Museveni te ontstel, irriteer of belaglik te maak.

Hy is ook van aanhitsing tot geweld aangekla nadat hy na bewering sy aanhangers aangehits het om die Ugandese president te beseer.  Die sanger is vroeër ook van hoogverraad aangekla nadat 'n konvooi van Museveni met klippe bestook is – glo deur Wine se aanhangers.

Die sanger ontken al die aanklagte.

>>LEES DIE OORSPRONKLIKE ARTIKEL HIER:

Die kat kom weer

Een enkele kat het 'n hele broeireservaat vir voëls in Australië verwoes. Die wit kat het sy slagoffers se kop afgeruk en hul bors oopgekloof – en eindelik die hele kolonie van 220 seeswaeltjies verdryf. Minstens 40 kuikens is dood.  

Navorsers sê net een kat kan 'n hele ekosisteem verander.

>>LEES DIE OORSPRONKLIKE ARTIKEL HIER:

Orgie vir die tong – en oog

Restaurante met kaal gloeilampe, oopgekapte baksteenmure en houttafels met 'n happie mooi kos is só verlede maand. Selfs vir Instagram.  In Londen – soos in Frankryk – is dié Italiaanse restaurant om in gesien te word 'n baldadige,  oordadige orgie van kitch en kleur waar die vermaak net so belangrik is soos die kos. 

>>LEES DIE OORSPRONKLIKE ARTIKEL HIER:

Geen seep – geen stankie of klankie 

Al hoe meer mense gebruik nie meer seep nie – en meen bakterieë doen die ding. Só het ene David Whitlock 15 jaar laas gebad of gestort, maar hy ruik nie sleg nie. Sy grootste motivering was om mikrobes aan te moedig om “in simbiotiese harmonie” op hom te leef. 

>>LEES DIE OORSPRONKLIKE ARTIKEL HIER:

Sexit ná Brexit

Sedert die Britte gestem het om die Europese Unie te verlaat is hulle angstiger, loop meer verhoudings op die rotse, daar is 'n toename in egskeidings – en paartjies het minder seks, volgens een beperkte steekproef. 

>>LEES DIE OORSPRONKLIKE ARTIKEL HIER:

Tot die Franse drink nou pienk

Vir die Franse is wyn nie net iets te drinke of 'n bron van alkohol nie; dit is 'n teken van beskawing, ’n onderwerp om te bestudeer, 'n leefstyl. Waarom, in die land van uitsoek-wyn, is daar dan so 'n oplewing in rosé, die bedryf se arm niggie?

>>LEES DIE OORSPRONKLIKE ARTIKEL HIER:

Groetnis tot môre, wanneer Anneliese Burgess die gebruiklike voorsmaak gee van ons uitgawe Vrydag. 

Adri Kotzé en die res van die Vrye Weekblad-span

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.