Harry Potter en die duiweluitdrywers, Chinese...

INTERNASIONALE LEESLYS

Harry Potter en die duiweluitdrywers, Chinese panda-diplomasie, en die vlieënde posman

Nuusbulletin: 4 SEPTEMBER 2019

  • 04 September 2019
  • Daagliks
  • 4 min om te lees

Hallo daar

Dit lyk asof die debat oor die gewilde Harry Potter-stories maar net nie wil gaan lê nie. Verál nie in Amerika nie. Nog 'n skool het die boeke uit die biblioteek gegooi op aanbeveling van duiweluitdrywers wat sê die towerspreuke wérk!

Verder op die leeslys van interessante stories wêreldwyd is die pous wat gered is uit 'n hysbak, ’n geleende panda wat in Duitsland geboorte geskenk het aan 'n tweeling, en 'n ruimteplan om die aarde te beskerm.

Dan is daar ook die ongelooflike storie oor 'n breindood vrou wat geboorte geskenk het, 'n posman wat kan vlieg, en 'n luislang wat 'n bok sommer heel ingesluk het.

Herrie oor Harry en die okkulte

’n Katolieke skool in Nashville, Tennessee, het die Harry Potter-boeke uit die biblioteek verwyder omdat die Britse skrywer J.K. Rowling “werklike towerspreuke” gebruik het. ’n Pastoor van die Katolieke skool beweer duiweluitdrywers het hom gewaarsku dat as die kinders die towerspreuke lees, bose geeste opgeroep kan word.

Daar is reeds sedert die verskyning van die eerste boek in 1997, Harry Potter and the Philopher’s Stone, ’n internasionale debat in godsdienstige kringe oor die beweerde okkulte en ander mistieke temas in die reeks. In 2006 was die reeks boaan die Amerikaanse Biblioteekvereniging se lys van boeke waaroor in die 21ste eeu die meeste gekla is.

KLIEK HIER OM TE LEES

Pous gered uit die hysbak

Pous Francis was laat vir sy gebruiklike Sondaggebed op Sint Petrusplein nadat hy in ’n hysbak in die Vatikaan vasgesit het. Toe hy uiteindelik verlede Sondag verskyn, het hy die wagtende mense vertel dat hy 25 minute lank vasgekeer was en deur brandweerpersoneel gered moes word. Italiaanse televisienetwerke wat die gebedsessie uitsaai, was bekommerd dat die 82-jarige pous siek was.

KLIEK HIER OM TE LEES

Tweeling vir geleende panda

’n Panda genaamd Meng Meng het die afgelope naweek in die Berlyn-dieretuin geboorte gegee aan ’n tweeling, wat die eerste keer is dat een van dié bedreigde diere in Duitsland kleintjies kry. Meng Meng is een van twee pandas wat China aan die diertuin “geleen” het en wat met ’n groot ophef in Junie 2017 in Berlyn aangekom het. In wat bekend staan as “panda-diplomasie”, het China sy nasionale skat na sowat 12 lande gestuur as simbool van goeie verhoudings. Die tweeling moet ongelukkig binne vier jaar nadat hulle gespeen is China toe gaan.

KLIEK HIER OM TE LEES

Breindood ma gee geboorte 

Tsjeggiese doktors het ’n gesonde baba in die lewe gebring 117 dae nadat haar ma breindood verklaar is. Die 27-jarige vrou is in April breindood verklaar na ’n beroerte-aanval. Haar lewensondersteuningstelsel is ná die geboorte van haar dogtertjie ontkoppel en sy het gesterf.

 KLIEK HIER OM TE LEES

Dís mos nou rêrig vonkpos

’n Britse uitvinder het ’n uitdaging aanvaar om ’n brief op die Britse eiland Wight in die Engelse kanaal af te lewer deur met ’n straalenjin-aangedrewe oorpak meer as ’n kilometer oor die water te vlieg. Dit volg 85 jaar nadat dié idee van “vuurpylpos” misluk het. Richard Browning het in die voetspore gevolg van die Duitse entrepreneur Gerhard Zucker, wat in 1934 probeer het om pos deur middel van ’n vuurpyl na die eiland te stuur. Kyk gerus na die video in die storie!

KLIEK HIER OM TE LEES

Ruimteplan om die aarde te beskerm

Die Amerikaanse ruimte-agentskap Nasa en die Europese Ruimte-agentskap werk saam aan ’n plan om die planeet teen asteroїede te beskerm. Kenners van weerskante van die Atlantiese Oseaan bespreek volgende week in Rome, Italië, ’n sending om asteroїede te probeer keer. Volgens dié plan sal ’n ruimtetuig teen asteroїede bots om dit in ’n ander rigting te probeer stuur.

KLIEK HIER OM TE LEES

Klimaatsverandering góéd vir voëls

Klimaatsverandering het ’n positiewe invloed op die meeste Engelse voëlspesies, volgens nuwe navorsing wat in die joernaal Bird Study gepubliseer is. Die getalle van sowat 13 spesies het met minstens 10% toegeneem. Volgens die navorsers het die warmer temperature waarskynlik ’n positiewe effek op Engelse spesies omdat hulle makliker in die winter oorleef.

KLIEK HIER OM TE LEES

Luislang spoeg bok uit - met hulp

Die laaste storie is beslis nie vir bangbroeke nie! Bisarre beeldmateriaal wys hoe ’n luislang van vier meter lank ’n bok opbring nadat dit heel ingesluk is. ’n Bokwagter in Suidoos-China het die slang gevind terwyl hy op soek was na een van sy vermiste diere. Hy was dadelik seker die slang het die bok ingesluk. Inwoners van Quanzhou het die slang gehelp om die bok uit te spoeg deur sy maag te masseer en sy “stert" te trek.

KLIEK HIER OM TE LEES

Geniet die stories! In more se bulletin vertel Anneliese Burgess wat julle in Vrydag se uitgawe kan verwag.

Adri Myburgh en die res van die Vrye Weekblad-span.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.