Die hand van Zuma, volksliedere en 'n lekker skaaptjoppie...

BULLETIN

Die hand van Zuma, volksliedere en 'n lekker skaaptjoppie (sonder die skuld)

Nuusbulletin: 9 September 2019

  • 09 September 2019
  • Daagliks
  • 2 min om te lees

Goeiemiddag

Julle het die laaste week seker nes ek baie gewonder hoe ons die oorsake van die plundery en vreemdelingehaat van laasweek moet verstaan.

Ek het hond se gedagte gekry toe ek sien minister Bheki Cele gaan praat met die inwoners van die hostels in die Jeppe-omgewing, sonder om veel hond haar-af te maak. En toe sien ons die naweek dieselfde mans, uitsluitlik of hoofsaaklik Zoeloe-sprekend, die strate van Johannesburg binnevaar en uiteindelik die immigrante in Hillbrow konfronteer.

Toe is my voorgevoel sterker: is die hand van Jacob Zuma hier te bespeur?

Is dit dalk deel van die Zuma-Magashule-veldtog om Cyril Ramaphosa te saboteer, veral omdat die anargie in Johannesburg en Pretoria met die Wêreld-Ekonomiese Forum in Kaapstad saamgeval het?

Ons sal dalk nooit seker weet nie. Ek onthou hoe die inwoners van hierdie selfde hostelle in die laat 1980’s en vroeë 1990’s gebruik is om die onderhandelinge te destabiliseer.

Dalk is die voortdurende aanvalle op vragmotors in veral KwaZulu-Natal wat die bedryf honderde miljoene kos, ook by die komplot betrek. Ons sal dit beslis dophou.

Lees Erika Gibson se stuk in die jongste Vrye Weekblad.

>> LEES DIT HIER: Onluste in vragmotorbedryf kring uit tot enorme verliese vir hele streek

Vir iets heeltemal anders, lees Virginia Keppler se rou stuk skryfwerk oor die verskillende soorte Jesus waarmee sy grootgeword het. 

>>LEES DIT HIER: En die slotsom is dat Afrikaans die Hemel se amptelike taal is

Een van die lekkerste leesstukke in ons jongste uitgawe is weer eens komende van Jan Horn, wat oor nasionale liedere skryf. Dit was lekker om tussen-in die lees ook na die insetsels van ander lande se volksliedere te luister.

>>LEES DIT HIER: Bokkoors loop! Sing daai bakkiesleutel-song met trots

Ek is diep besorgd oor klimaatsverandering en glo ek moet my klein deeltjie ook doen sodat ons kleinkinders en agterkleinkinders darem ook nog ons planeet kan bewoon.

Die klimaataktiviste het my oortuig dat ek minder rooivleis moet begin eet, maar toe lees ek Andrea Burgener se stuk waarin sy sê die probleem is nie vleis nie, maar verwoestende landboupraktyke. Dit was vir my ‘n groot verligting en ek het Sondag, die eerste warm dag van die Kaapse lente, heerlik aan ‘n paar skaaptjoppies gesmul.

>>LEES DIT HIER: Verwoestende boerdery is die probleem – nie ’n keuse tussen vleis of groente nie

Ek is intussen gefassineer met die politieke moleste in Brittanje, met so ‘n klein bietjie schadenfreude hier uit die kolonie. Ek hoop Adri Kotzé gaan in ons komende uitgawe vir ons eerstehands uit Londen van al die skinder en onderstrominge vertel.

Gegroet tot Vrydag

Max du Preez en die res van die Vrye Weekblad-span

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.