Swemmer klop kanker én die Engelse kanaal, Frodo en Gandalf...

BULLETIN

Swemmer klop kanker én die Engelse kanaal, Frodo en Gandalf kom TV toe, en die wonder van teedrink

Nuusbulletin: 18 September 2019

  • 18 September 2019
  • Daagliks
  • 4 min om te lees

Ons leeslys begin vandag met ’n vrou se oorwinning oor kanker én die Engelse kanaal. Die 37-jarige Sarah Thomas het ’n rekord opgestel deur vier keer sonder ophou oor die Engelse kanaal te swem. Sy het gisteroggend ná 54 uur in die water die 135 km voltooi.

Nuus vir die baie liefhebbers van die Lord of the Rings-filmtrilogie (en die boek): dit word nou weer in Nieu-Seeland ten duurste in ’n televisiereeks omskep. Verder het ons stories oor die vordering met die polisie-ondersoek na Sir Winston Churchill se gesteelde goue toilet, planne vir ’n hotel wat tussen die sterre dryf, en ’n nuwe spesie van die reuse-salamander, wat die grootste in die wêreld is.

Verder bied byeboerdery ’n soete uitkoms vir gesinne in Zambië, die Britse Laerhuis is vol sjimpansees (nee, hopelik nie regtig nie), en dit is nou bewys, tee ís goed vir jou.

Vat so, kanker − en sy swem ’n rekord los

’n Amerikaner wat borskanker oorleef het, is die eerste mens wat vier keer sonder ophou oor die Engelse kanaal kon swem. Sarah Thomas (37) het dit in ’n rekordtyd gedoen ’n jaar nadat sy haar behandeling vir borskanker voltooi het. Sy het die 135 km gister in 54 uur en 13 minute voltooi nadat sy vroeg Sondagoggend begin swem het.

KLIEK HIER OM TE LEES

Frodo gaan Kiwiland toe

Nieu-Seelanders sien uit na nog ’n ekonomiese hupstoot uit Middel-Aarde nadat Amazon Studios besluit het om sy Lord of the Rings-televisiereeks daar te vervaardig. Die reeks gaan na verwagting teen sowat £801 miljoen die duurste reeks wees wat tot nog toe vervaardig is. Amazon Studios het die regte vir die televisiereeks twee jaar glede gekoop. Die filmtrilogie, wat in Nieu-Seeland geskiet is, het die land se toerismebedryf aangewakker en werk verskaf.

KLIEK HIER OM TE LEES

Satiriese sjimpansees in die Britse Laerhuis

Die woelinge in die Britse politiek duur voort en heel gepas gaan ’n Banksy-skildery van ’n klomp sjimpansees in die banke in die Laerhuis binnekort by Sotheby’s onder die hamer kom. Dit is die straatkunstenaar se grootste skildery van amper vier meter breed. Dit is in 2009 geskilder, lank voor die term Brexit algemeen geraak het. Die satiriese skildery sal na verwagting tot £2 miljoen (amper R37 miljoen) haal.

KLIEK HIER OM TE LEES

Diewe gryp Sir Winston se goue toilet 

’n Tweede man is aangekeer nadat ’n toilet van soliede goud gesteel is uit die Blenheim-paleis, die geboorteplek van Sir Winston Churchill. Die toilet van 18 karaat goud, wat gemaak is deur die Italiaanse kunstenaar Maurizio Cattelan, is Saterdag gesteel.  ’n Woordvoerder van die Blenheim-paleis dink die diewe sal die toilet heel moontlik smelt.

KLIEK HIER OM TE LEES

Nuwe reuse-salamander ontdek

’n Nuwe spesie reuse-salamander is die grootste amfibiese dier in die wêreld. Voorheen is die Chinese reuse-salamanders, wat tot twee meter lank word, beskou as die eniste spesie. Maar nuwe navorsing deur die Zoölogiese Vereniging van Londen en die Natuurhistoriese Museum dui op drie verskillende genetiese geslagsbome. Een van die drie is die grootste amfibiër in die wêreld. Navorsers hoop om die krities bedreigde diere van uitwissing te red.

KLIEK HIER OM TE LEES 

Zoemende sukses in Zambië

’n Maatskaplike program in Zambië skep werk en opvoedingsgeleenthede deur mense in die kuns van byeboerdery op te lei. Die organisasie Mama Buci – wat Moeder Heuning in Bemba, die plaaslike taal beteken – is tien jaar gelede deur ’n voormalige finansiële bestuurder, Martin Zuck, begin. Dit verskaf nou ’n inkomste aan meer as 10,000 families.

KLIEK HIER OM TE LEES

Drywende hotel tussen die sterre – letterlik

Dit is 50 jaar sedert die eerste mens voet op die maan gesit het, en ons droom steeds om aan die lewe op aarde te ontsnap vir die misterie van die ruimte. ’n Maatskappy in Kalifornië in die VSA, The Gateway Foundation, het planne bekendgestel vir die Von Braun Stasie, ’n hotel wat tussen die sterre sal dryf. Die hotel sal gereed wees vir dapper vakansiegangers teen 2027.

KLIEK HIER OM TE LEES

’n Briljante rede om tee te drink

Mense wat tee vier per week vir sowat 25 jaar lank drink, het meer doeltreffende breinfunksie. Volgens ’n nuwe studie van die Nasionale Universiteit van Singapoer het gereelde teedrinkers beter georganiseerde dele van die brein vergeleke met mense wat nie tee drink nie. Hierdie beter breinfunksie word geassosieer met gesonde kognitiewe funksie, wat jou teen ouderdomsverwante agteruitgang beskerm.

KLIEK HIER OM TE LEES

Hoop julle vind die stories interessant! More vertel Anneliese Burgess julle meer oor ons Vrydag-uitgawe.

Adri Myburgh en die res van die Vrye Weekblad-span

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.