Ons app is hier! Lees nou nóg lekkerder aan ons lekkerste stories

BULLETIN

Ons app is hier! Lees nou nóg lekkerder aan ons lekkerste stories

Nuusbulletin: 30 September 2019

  • 30 September 2019
  • Bulletins
  • 3 min om te lees
Image: 123RF/VARIN RATTANABURI/VRYE WEEKBLAD

Goeiemiddag

Dit gaan van vandag af net lekkerder en makliker wees om Vrye Weekblad te lees. Ons app (“toep” klink darem te veel soos iets wat daarmee rym) kan nou vir Apple en Android afgelaai word. Ek het dit vanoggend vroeg gedoen – dit werk baie lekker en eenvoudig.

Ons kom agter die meeste van ons lesers lees Vrye Weekblad op hulle selfone, hoewel daar steeds 'n beduidende groep is wat dit op hul skootrekenaars of tablette lees. Ek vermoed as jy eers die app afgelaai het, gaan jy ook verkies om dit op jou foon te lees. Dit maak dit ook vir ons makliker om regstreeks met jou te kommunikeer.

Vir die mede-Luddiete onder ons, hier is hoe jy vinnig by die app kan uitkom:

Het jy 'n Android-toestel? Kliek hier om ons app te laai.

Het jy 'n Apple-toestel? Kliek hier om ons app te laai.

Jy kan elke nuwe uitgawe via die app laai (of vorige uitgawes lees) en jy kan aanhou lees selfs al is jy nie aan die internet geskakel nie.

Soos op ons webblad, is sommige artikels gratis om te lees, maar die meeste is vir ons intekenaars. Meld aan op die app vir volle toegang.

Die app sal jou ook vra of jy kennisgewings (push notifications) van ons af wil ontvang om jou in te lig oor hoogtepunte in die huidige uitgawe of om jou te laat weet wanneer ons 'n artikel opdateer of 'n nuwe een byvoeg, byvoorbeeld.

My gunsteling stories hierdie week

Een van die stories in ons jongste uitgawe wat die meeste gelees is, gaan oor die EFF-leierskap se beweerde korrupsie en wat die waarskynlike uitwerking daarvan gaan wees as hulle in die maande wat voorlê weens korrupsie aangekla gaan word. 

>> LEES DIE EFF STORIE HIER

Die getuienis teen Julius Malema en Floyd Shivambu stapel by die dag verder op. Gaan kyk op amaBhungane se webwerf na vanoggend se onthullings.

Soos ek al 'n paar keer gesê het: was die ondersoekers van die Valke en die nasionale vervolgingsgesag maar so ywerig en talentvol soos van ons land se ondersoekende joernaliste, sou vele politieke skelms vandag al agter tralies gewees het.

Positiewe stories oor Suid-Afrikaanse politici is skaars, maar hulle is darem nie almal skermunkels nie. Die IVP se Liezl van der Merwe is 'n voorbeeld.

>> KLIEK HIER VIR ANNELIESE SE GESELSIE MET LIEZL 

Twee stories in ons jongste uitgawe wat lekker lees en my op 'n nostalgiese trip geneem het, is Madeleine Barnard se herinneringe van die Voëlvry-beweging van 30 jaar gelede en Azille Coetzee se mymeringe oor Breyten Breytenbach, wat vanjaar 80 jaar oud is. (Ek het Breyten onlangs in Kaapstad raakgeloop. Die man lyk nie 'n dag ouer as 65 nie.)

>> KLIEK HIER vir MADELEINE SE HEERLIKE VOËLVRY STORIE 

>> KLIEK HIER VIR AZILLE SE BREYTEN-MYMERINGE

Een van ons stories wat die meeste reaksie in die kommentaarseksie uitgelok het, is Piet Croucamp se mening oor Afrikaan-wees. Ek sien die saak so effens anders as Piet en wil in die komende uitgawe daarop reageer.

>> KLIEK HIER VIR PIET SE STORIE OOR AFRIKAAN-WEES

Die komende week kan dalk 'n beslissende een vir Suid-Afrika wees. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het 'n paar dae lank oor onder meer Tito Mboweni se voorstelle oor 'n nuwe rigting in ekonomiese beleid beraadslaag.

Ons sal binne 'n dag of drie beter weet of die leierskap van die regerende party die durf het om ortodoksie by die venster uit te gooi en te doen wat dringend gedoen moet word. Ons sal Vrydag daaroor verslag doen.

Intussen kan jy jouself vermaak deur na die daaglike dramas van Donald Trump en Boris Johnson te kyk. Dis beter kykstof as enige sepie.

Groetnis tot Vrydag

Max

X