Van Bennie Griessel tot Griekse slaai en ’n grondgeitjie

BULLETIN

Van Bennie Griessel tot Griekse slaai en ’n grondgeitjie

NUUSBULLETIN: 8 NOVEMBER 2020

Goeiemôre liewe vriende

Dit het in so ’n halwe tradisie ontaard. Ek lees Desember die nuutste Deon Meyer in die kar terwyl ons afry Kaap toe.

Ek is mal oor die ritueel van die einde-van-die-jaar-ryery. Die lieflike groen kusstrook tot by die padstal buite Port Elizabeth. Die wildspasteitjies en tee. Die soms oorslaap by Stormsrivier. Die kronkel-ry deur Knysna. Stilhou langs die pad by die groot draai net anderkant Wildernis. Die laaste paar uur vanaf Swellendam, as alles bietjie soos huis begin voel.

En teen die tyd dat ons by Pringlebaai indraai, het ek vir Bennie, Vaughn en Kaleni gegroet tot die volgende jaar. Maar aangesien ons hierdie jaar met Jan Tuisbly se tjor ry, het ek besluit ek bêre ook nie die nuwe Deon Meyer wat die week afgelewer is nie, en het ek gisteraand aan Donkerdrif begin lees. Dit is absoluut heerlik soos altyd. Lees wat skryf onse Deborah Steinmair hierdie week oor die nuutste aflewering van die speurreeks. “Loutere plesier," is haar woorde.

Annelize Visser het hierdie week ’n skitterende storie geskryf oor sekslose huwelike. By Vrye Weekblad neem ons gereeld ’n onderwerp waaroor daar nie maklik gepraat word nie en probeer ons op ’n sinvolle manier die fluister-lae wegtrek. Hierdie storie is gratis, so selfs al is jy nie ’n intekenaar nie, kan jy dit lees.

’n Ander storie wat in hierdie kategorie val is Elsabe Brits se, “A is vir aambeie" – weerens ’n onderwerp wat byna elke tweede mens in pyn laat leef, maar waaroor daar geswyg word asof dit 'n skande is. Jy kan hierdie storie ook gratis lees.

Op ’n ligter noot. Ek kan rapporteer dat  Jamie Oliver se Griekse slaai met eiervrug uit ons voorlaaste uitgawe ’n absolute treffer is. Ons het 'n grap hier in die redaksie dat as jy wil hê niemand moet nie ’n storie lees nie, sit jy eiervrug in die opskrif.  Eiervrug is verdelende onderwerp. In ons huis is ek evangelies daaroor, my man en kinders trek hulle neuse op. Maar hierdie kombinasie van feta, kruisementblare, neute, heuning en suurlemoen is heerlik, heerlik, heerlik.

En dan is hierdie week weer kortverhaalweek. Lees “As die grondgeitjie roep" van Emmie Bedeker hier.

En vir al die leeskouse – en by Vrye Weekblad is dit die meerderheid van ons as ek kyk na hoe baie in boeke belangstel – is daar is ’n vars #Boekbedonnerd in hierdie week se uitgawe. Die hoogtepunt is vir my Jonathan Amid se topses-lys van die beste krimi’s van alle tye.

En daarmee groet ek vir vandag. Lekker lees. Lekker kook. Lekker Sondag.

Groetnis

Anneliese Burgess

As jy wil saamgesels, stuur ’n e-pos na redaksie@vryeweekblad.com. Of gaan na www.vryeweekblad.com/bulletins en lewer kommentaar onderaan die artikel of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Die nuwe uitgawe van Vrye Weekblad is elke Vrydag om 06:00 by vryeweekblad.com of op die app beskikbaar.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.