Op sy eentjie, sonder bewakers of beeldpoetsers

DINSDAG-DINGE MET ANESCA SMITH

Op sy eentjie, sonder bewakers of beeldpoetsers

ANESCA SMITH vertel van haar burgemeester wat glo jy is die argitek van jou eie lewe.

Image: ANGELA TUCK

Vriende

Van ver af sien ek die bebaarde man op die hoek van die straat. Ek is haastig om by my atelier te kom, maar fiets stadiger soos ek die draai nader.

Nóú herken ek die gesig en trap op die rem. “Jy is die burgemeester van  Arnhem!” roep ek bly. Hy glimlag verleë. Ahmed Marcouch. In 1979, op 10-jarige ouderdom, kom hy saam met sy broers en susters uit Marokko na Nederland nadat sy vader reeds as gasarbeider gewerk het.

Nou is hy al vyf jaar burgemeester van Arnhem, die stad waar ek self as immigrant woon. Twee buitelanders, een van Noord-Afrika en een van Suid-Afrika, in ’n vreemde land. Waarskynlik vir ewig tussen twee kulture vasgevang.

Ek is meteen onder die indruk van dié burgemeester: Daar staan hy op ’n Saterdagoggend, op sy eentjie besig om die straat skoon te maak. Geen persfotograwe, geen bewakers of ander aanhangsels om sy beeld te poets nie.

Marcouch is gewild, maar het al in ’n onderhoud vertel dat hy in sy jeug – in die soeke na identiteit – byna die verkeerde afslag geneem het en geradikaliseer is. In die 1980’s ontmoet hy mede-Moslems in sy moskee, onder meer uit Somalië en Egipte, van wie hy radikale idees optel. Die groep kyk saam videobande van djihadistiese stryders en verdiep hulle in die gedagtes van die Moslembroederskap en Salafiste.

Die sleutel tot sy redding, sê hy, was goeie onderwys sowel as sy broer en ’n vriend wat hulle met hom bemoei het. Hulle het seker gemaak het dat dié soort idees nie vastrapplek kry nie deur dit te relativeer, te kritiseer en te skei van ware godsdiens.

“Ek het begin insien dat wat onder die vaandel van geloof verkondig word, dikwels bygeloof is. Voorgeskrewe dinge soos ‘Die Lot’ byvoorbeeld maak mense passief. In teenstelling is ek iemand wat glo jy is die argitek van jou eie lewe. Ek glo dít is die opdrag van God. Moet nie dink dat jy net deur gebed dinge gaan verander nie. Dit help, maar daar is dinge wat jy self moet doen.”

In Nederland is Marcouch een van twee Moslem-burgemeesters van groot stede. Die ander is Ahmed Aboutaleb van Rotterdam wat soveel leierskap getoon het tydens die corona-pandemie dat ’n klomp Nederlanders verlede November wou hê dat hy hom as premier verkiesbaar stel.

Vandag voel dit asof ons baie ver van dié punt af staan. Daar word al weke lank Ku Klux Klan-agtige protestaksies met omgekeerde vlae gehou teen vlugtelinge (tensy jy van Oekraïne is) én tydens boereproteste teen die regering se stikstofbeleid wat vereis dat minder vee aangehou word. Een van die stories wat versprei word, is dat die regering grond van die boere wil vat om aan vlugtelinge te gee vir blyplek. ’n Plakkaat lui: “Met 300 asielsoekers van kleur sal ons dorp binnekort oorval word deur verkragting, roof en terreur.”

Verder noord het Swede die naweek verkiesings gehou en alles dui daarop dat die radikaal-regse Sweedse Demokrate (SD) met die oorwinning gaan wegloop. Die party is in 1988 onder meer opgerig deur twee Swede wat aktief was in die neo-Nazi-beweging. Intussen het die party lede met dié neigings lank reeds uitgeskop, maar tog raak SD-politici nog gereeld betrokke by rassistiese skandale.

Nederland en Swede. Eens van die mees verdraagsame lande ter wêreld. Nou aan die voetjie-voetjie speel met ver-regs.

Ná ’n kort praatjie wuif ek Marcouch totsiens en vat die draai om die hoek. Dieselfde hoek waar, in die vroegsomer, die geur van jasmyn jou enige tyd oorval.

Groete

Anesca

* Vrye Weekblad se laaste uitgawe as deel van die Arena-stal verskyn op 30 September. Ons wil daarna steeds op ’n daaglikse basis met jou kommunikeer met nuusbriewe en met nuus oor die moontlikhede van ’n herlewing. Klik hier om jou kontakbesonderhede met ons te deel.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.