Dagsê
Die mediawêreld is die meeste van die tyd 'n lekker en opwindende plek om te wees. Dis hoekom ek dit so lank al uithou.
Maar wat ek eintlik wil doen, is om baskitaar te speel in 'n rock 'n roll band. Ek wil spesifiek Queen se “Another one bites the dust" speel. Dit lyk altyd vir my of die een op bass eintlik maar in hulle eie wêreld kan wees en net fokus op hulle eie snare. Soos Kim Deal van Pixies. (Of natuurlik John Deacon van Queen.)
Ding is, ek het nog nooit 'n baskitaar vasgehou nie. Ek dink ek het dalk twee keer al 'n kitaar opgetel, maar net om dit uit die pad te skuif. Want die groot ding is: Ek het geen aanleg vir musiek nie.
Dit beteken natuurlik nie ek kan dit nie waardeer nie. En daar is min dinge so lekker as om 'n nuwe kunstenaar te ontdek wat tot jou spreek.
Ek het sommer ja gesê toe 'n vriendin my nooi na 'n live show in Rosebank en nie eens gekyk wie optree nie. So met geen verwagtinge nie en 'n heeltemal oop gemoed het ek my in Shotgun Tori by The Alma Cafe vasgeloop.
Dit verstom my dat ek haar tot dusver heeltemal misgeloop het, maar toe sy op die stage klim en haar skoene uittrek, toe weet ek sommer hier is iemand wat verstaan wat ek sê. En dis nie 'n gimmick nie; dis net wat sy doen. Good vibrations and all. As die musiek diep tref, is sy op haar tone en sy leun so oor haar kitaar asof sy die musiek met groter dringendheid by die mikrofoon wil uitkry. Dit werk. En dis lekker.
Sy het weggetrek met 'n Joni Mitchell (want die tema was Chelsea Hotel) en die heel beste interpretasie van “La Vie en Rose" gedoen wat ek nog gehoor het.
Girl crush loading!
En toe sing sy haar eie, oorspronklike song, “Be Brave”. En toe het ek sommer weer hoop vir die land se musieklandskap.
Laat ek 'n bietjie konteks gee: Ek was by elke Oppikoppi van 1996 tot 2001 en het vir byna twee jaar lank informeel in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gewerk (aan die Valiant Swart-kant van die spektrum, nie aan die Dirk van der Westhuizen-kant nie, laat ek dit net duidelik maak), so ek was bederf met die beste tye en die beste musiek.
Daar was bands soos Sugardrive, Squeal, Henry Ate, The LED, Battery 9 en Dorp. Goeie tye.
En toe raak als net so bitterlik saai en musiekfeeste raak suipfeeste dat ek ophou probeer het en teruggeskakel het na Neil Young en liewer die simfonie-orkes in die stadsaal gaan luister het. Minstens gooi niemand daar bier in jou broek af nie.
In elk geval, Shotgun Tori se nuwe album It's Gonna be Fine is op repeat op my YouTube Music. En ek dink rêrig als gaan reg wees solank daar sulke lekker tunes geskryf word.
Maar dis nie al nie.
As jy nog nie daarby uitgekom het nie, gaan luister ook die skrywer/kunstenaar/sanger/sosioloog en andersins net lekker ou Andries Bezuidenhout se nuwe album, Dink aan Planete.
Lekker luister!
Hanlie
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.