Oor Instagram se identiteitskrisis, die queen se...

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Oor Instagram se identiteitskrisis, die queen se jenewerdrankie en ’n studie oor soen

Instagram het ’n identiteitskrisis, skryf ANNELIESE BURGESS. Nou is dit nie meer die besadigde, ordentlike en wonderlike wêreld van foto's nie. Skielik is dit ‘reels’ – video’s. Baie. Heeltyd.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre liewe vriende

Ek dink nie dit is oulik om te kerm-spog dat jy tegnologies gestremd is of om te kla dat sosiale media sleg en boos is nie. Die wêreld verander. Hou by.

Ek moet egter erken ek wel ’n komplekse verhouding met sosiale media het. Toe Ilse Salzwedel onlangs met my gesels het op RSG oor joernaliste en trauma, het ons ook geraak aan die sosialemediakwessie. Ek moes erken dat die venynige, oningeligte, erg persoonlike (en baie keer totaal waansinnige) kommentaar onderaan ons artikels – veral Facebook – soms net te veel raak, en mens ’n bietjie van ’n blaaskans moet neem om jou ewewig en sin vir humor (wat nog te sê jou geloof in die mensdom) te herwin.

Ek gebruik Facebook deesdae maar min, maar dit bly ’n belangrike plek vir Vrye Weekblad omdat so baie mense ons daar sien of ontdek. Ek het tot onlangs ook maar min op Twitter uitgehang, want die rasse-provokasie daar staan my nie aan nie. Ek is ’n bietjie van ’n sneeuvlokkie as dit kom by daai tipe vibrasies (ek het egter intussen geleer oor lyste op Twitter wat jou toelaat om baie van die geraas uit te sny, en dan is Twitter ’n verbysterende plek vir inligting en interessante insigte).

Ek was ’n early adopter van Instagram (ek sien my eerste post was in 2011), laaaaank voor dit regtig hip geraak het. Vir lank was dit so ’n lekker vergete hoekie van die interwebs (voor Facebook dit gekoop het) waar mens mooi foto's van jou tuin en kinders kon plaas sonder om selfbewus te voel. En Instagram hét vir my ’n moderne weergawe van ’n familiefotoalbum geword. Ek bly steeds mal daaroor. Vakansies, verjaarsdae, reise, boeke. Goetertjies.

Maar Instagram het ’n identiteitskrisis. Nou is dit skielik nie meer die besadigde, ordentlike en wonderlike wêreld van foto's nie. Skielik is dit “reels" – video’s. Baie. Heeltyd. Van mense wat ek nie ken nie. Instagram probeer soos TikTok wees omdat video blykbaar die toekoms is – volgens die hoof van Instagram wat moes bontstaan toe selfs Kim Kardashian gekla het oor die “nuwe" Instagram. Dit staan my ook nie aan nie. 

Ek onthou toe ek, so ’n jaar gelede, my dogter gevra het om my touwys te maak oor TikTok en haar reaksie was: “Mamma, asseblief, los TikTok vir ons; ons het ons ook iets nodig. Julle het Facebook. Los ons goed uit."

Wel, my reaksie is nou: “Los Instagram uit. Julle het TikTok." Maar ons het die geveg reeds verloor. 

My familie-album kan ek nie nou op ’n ander plek begin nie. So ek bly maar daar. Met my foto'tjies van my dahlias en koppies tee.

(As jy op Insta is, kan jy my hier volg. En Vrye Weekblad hier. En ons leefstylbladsy, Vrye_Tyd, hier. En ons boekeblad hier.)

***

Gedig 

What This Is Not

This is not just surprise and pleasure.
This is not just beauty sometimes
     too hot to touch.
This is not a blessing with a beginning
    and an end.
This is not just a wild summer.
This is not conditional.

- Oliver, Mary. Uit haar digbundel Felicity 

Kyk

Soenstudie

  • Haal uit die stophorlosie! Volgens ’n studie van die Gottman Institute kan jy jou verhouding (en jou lewe) verbeter deur twee keer ’n dag vir ses sekondes te soen. “Langer soen” maak jou (blykbaar) gesonder en gelukkiger, en jou verhouding sterker. 

Lees

App

  • Balance is ’n uitstekende meditasie-app (dit was Google se app van die jaar in 2021) en jy kan dit boonop vir ’n hele jaar gratis probeer.

Ongelooflike AI

  • Laai jou kinders of kleinkinders se tekeninge (of jou eie) in hierdie app en kyk hoe dit geanimeer word. Nogal ongelooflik vir my. Animated Drawings is deur Meta se AI-laboratorium ontwikkel.

Drink

  • Die koningin het van haar drankie gehou. Haar ma, die koninginmoeder, éérs. Daar is baie stories dat dié tante al met middagete die eerste dop geniet het. En dit was altyd jenewer. Hier is 'n lekker artikel oor die queens se  gunsteling-jenewerdrankies. 

Daarmee groet ek. Salige Sondag.

AB
Anneliese Burgess
annelieseburgess@gmail.com
WhatsApp: 083 413 6573

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.