Moet Cyril dan maar in die hek duik?

MAANDAG MET MAX DU PREEZ

Moet Cyril dan maar in die hek duik?

Kom ons breek ’n paar eiers en maak ’n omelet, skryf MAX DU PREEZ.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre vriende

Moet ons gewone Suid-Afrikaners nie maar stilletjies hoop dat Cyril Ramaphosa voor die ANC se verkiesingskonferensie in Desember met die Phala Phala-skandaal gaan vasval nie, en/of dat Nkosazana Dlamini-Zuma hom in elk geval dan in die resies vir leierskap gaan klop?

Sjoe, wat ’n gedagte, wat ’n nagmerrie-scenario. Maar volg my logika.

Elke stukkie politieke instink waaroor ek beskik, sê vir my ’n ANC onder president Dlamini-Zuma gaan ’n behoorlike loesing vir die party in die algemene verkiesing so 18 maande daarna beteken. Soos in minder as 40% steun. Ramaphosa is die ANC se enigste kans om naby of oor die 50%-merk te kom.

Dis soos die eeue oue gesegde lui: Jy kan nie ’n omelet maak sonder om ’n paar eiers te breek nie. Dalk moet ons vir ’n anderhalf jaar die pyn van president Dlamini-Zuma vat en dan teen die middel van 2024 finaal van die ANC ontslae raak.

Ons staat en ons regering is in elk geval vandag so swak dat dit kwalik veel slegter kan gaan.

Nee, NDZ sal seker nie vir Supra Mahumapelo of Tony Yengeni as adjunkpresident en Carl Niehaus of Andile Lungisa as ministers aanstel nie, maar sy kan net vir Ramaphosa uitstof met die RET-faksie agter haar en dit beteken hulle sal hulle pond vleis eis. En sy gaan die EFF te wille moet wees.

Lees my lippe: Die kontestasies in die ANC gaan nie oor ideologie of beleid nie, dit gaan oor mag, patronaatskap, private empires en persoonlikhede. En soms oor stam-identiteit.

Sou NDZ, as sy in Desember 2017 180 meer stemme getrek en president geword het, die nasionale vervolgingsgesag, die nasionale inkomstediens, die Valke en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) skoongemaak en hervorm het? Sou sy vrede daarmee gehad het dat regter Raymond Zondo so diep en eerlik gesny het met sy kommissie van ondersoek na staatskaping?

Ek dink regtig nie so nie. Regtig nie.

Ek dink selfs daar is ’n kans dat die Broers Gupta nog met ons sou gewees het eerder as in ’n tronk in Dubai.

En NDZ sou lankal voor die druk geswig het en van André de Ruyter en Jan Oberholzer by Eskom ontslae geraak het, en dan was ons dalk nou heeltyds op Fase 8.

Onteiening van grond sonder vergoeding sou al lankal ’n werklikheid gewees het as NDZ president was, en dit sou katastrofies gewees het.

Ek het al hier geskryf dat ek nie meer glo dat die ANC homself kan transformeer in ’n etiese, moderne politieke party nie, al ken ek ’n hele klompie ANC-staatmakers wat dit met hulle hele hart begeer.

Ek profeteer nie graag nie, maar ek kan nie in my wildste drome dink dat as die ANC 2024 as regerende party oorleef, hulle veel langer daarna nog aan die bewind sal wees nie.

Maar tussen 2024 en 2029 kan hulle, Ramaphosa en sy geesgenote ten spyt, soveel skade aan ons land en ons ekonomie aanrig dat dit dalk geslagte gaan neem om daarvan te herstel.

Die ideaal is myns insiens dat die ANC in 2024 verplig word om ’n sterk party as koalisievennoot te soek om te kan regeer. Dit is ’n bietjie van ’n dobbelspel: As dié party die EFF eerder as die DA gaan wees, sou ek ’n ANC-regering onder NDZ of selfs Ace Magashule verkies. Of dalk doen ek aansoek om politieke asiel in Mariupol.

In die weke wat voorlê, gaan ek en jy elke liewe dag met ritse stories in die media gekonfronteer word oor wie nou die kandidaat vir watter pos in die ANC is en watter faksie nou voor trek.

Neem maar kennis van die opskrif en die hooftrekke, maar moet tog nie dat dit te veel van jou tyd en aandag in beslag neem nie. Daar is te veel rook en spieëls en te veel joernaliste wat hulle vir die skinder laat misbruik.

As jy raak lees dat Lindiwe Sisulu president wil word en dat sekere provinsies vir Nomvula Mokonyane as sekretaris-generaal voorstel, dat ander wil hê Jacob Zuma moet die nuwe ANC-voorsitter word, dat Supra Mahumapelo, Tony Yengeni en Dakota Legoete almal op kandidaatlyste is, dan weet jy: Dit gaan nie oor beleid of idees of bewyse van leierskap of goeie regeerkunde nie, maar oor faksies en posisies. En tenders.

Ons gewone burgers het darem al begin besef ons moenie ons hoop op politieke leiers vestig nie. Ons moet maar self die moue oprol.

Ons, die mense van Suid-Afrika, moet nou ekstra moeite doen om mekaar beter te leer ken, beter te verstaan en te vertrou. En saam die moue oprol.

Te hel met die politici.

Groetnis
Max

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.