Vrye Weekblad 3.0 | Al julle vrae beantwoord oor die pad vorentoe

JY HOEF NIKS MIS TE LOOP NIE!

Vrye Weekblad 3.0 | Al julle vrae beantwoord oor die pad vorentoe

Is jy tans 'n intekenaar of beplan jy om een te word? ANNELIESE BURGESS verduidelik wat jou te doen staan noudat Vrye Weekblad op 'n nuwe pad is.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre!

Teen dié tyd weet jy seker dat Vrye Weekblad voortleef, maar nie meer as deel van Arena Holdings soos tevore nie. Pleks daarvan is ons nou deel van 'n nuwe maatskappy, Nuwe Vrye Weekblad Mediagroep. Ons opwindende nuwe daaglikse aanbieding sal van hierdie Maandag af in jou inboks wees.

Alles kan ongelukkig nie heeltemal dieselfde as tevore wees nie, maar ons gaan hard probeer om nie vir jou onnodige moeite te maak nie. Hier is die antwoorde op 'n paar vrae wat jy dalk het:

Wat nou?

Huidige intekenare:

  • Alle artikels en nuusbriewe sal vir tot die einde van die jaar GRATIS wees, en jy sal steeds jou daaglikse nuusbriewe ontvang as jy by Arena daarop ingeteken was.
  • Dit sal Arena genoeg tyd gee om alle bestaande subskripsiegeld terug te betaal. Ons weet nie hoe lank dit sal neem nie, maar Arena sal die administrasie so vinnig moontlik afhandel. Die proses is ongelukkig nie in ons hande nie, maar jy kan enige navrae in hierdie verband steeds na hulp@vryeweekblad.com stuur.
  • Een effe pynlike ding (maar dit kos jou niks!) is dat almal weer 'n lesersprofiel sal moet skep deur met 'n e-pos en wagwoord te registreer. Jy sal outomaties gevra word om dit te doen as jy van Saterdag af 'n artikel probeer lees.
  • En een groot guns van my kant: As jy 'n Gmail-adres het, gebruik dit, asseblief. MWEB, Absamail, Hotmail en Yahoo dryf ons aan die tegniese kant tot raserny. Maar hou andersins by wat vir jou gemaklik is; ons sal jou hand vashou as daar probleme opduik. 

Geregistreerde lesers:

  • Ons het baie lesers wat geregistreer het om die nuusbriewe te ontvang, maar nie volle subskripsies uitgeneem het nie. Julle sal ook weer moet registreer om gratis artikels te kan lees, alhoewel jy steeds nuusbriewe sal ontvang as jy by Arena daarvoor ingeteken het.

En dan?

Ons hoop julle, en vele ander, gaan tydens die gratis tydsperk weer vir Vrye Weekblad registreer. Vanaf 1 Januarie 2023 af sal net ’n paar artikels maandeliks gratis wees, en sal jy weer 'n abonnement (dis nou 'n subskripsie!) moet uitneem.

Ons sal afskop met 'n fantastiese aanbod, maar sal jou betyds laat weet daaroor.

WhatsApp-navrae nou moontlik

Ons skop sommer ook die nuwe hoofstuk af met 'n WhatsApp-nommer vir navrae: 071 170 8927. Jy kan in hierdie stadium net teksboodskappe soontoe stuur (dus nog nie bel nie). Intekenprobleme, betaalprobleme, wagwoordprobleme, ontvang-nie-my-pos-probleme; gooi vir ons 'n lyn en ons gesels en hou jou hand vas. Vir die eerste maand sal een van ons redaksielede aan die ander kant van daardie nommer wees, maar ons stel binnekort 'n voltydse persoon aan om alle lesersnavrae te hanteer.

Ons Vrydag-uitgawe is soos gewoonlik om 06:00 op vryeweekblad.com beskikbaar, asook hoogtepunte daaruit in jou inboks.

Ek sien uit na ons nuwe avontuur saam!

Nog 'n stukkie goeie nuus vir almal wat gesukkel het met Arena se intekenstelsel: Ons e-posadresse bly dieselfde. So jy kan ook vir ons skryf by redaksie@vryeweekblad.com, of aan my persoonlik: annelieseburgess@vryeweekblad.com

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.