Die Gouelokkies-vraag en 5 goed wat jy vandag wil weet

05 OKTOBER 2022

Die Gouelokkies-vraag en 5 goed wat jy vandag wil weet

’n Vinnige opsomming van dinge in die nuus, Max du Preez spoel sy mond uit oor Elon Musk, en Willem Kempen gee ’n kykie na hoe ons ’n nuwe platform bou vir ’n gemeenskap van mense wat vir hulleself dink.

Goeiemôre!


1. Die waterkrisis in Johannesburg raak erger, en die groot staatshospitale loop veral deur.

2. Panyaza Lesufi is die gunsteling om môre as die nuwe premier van Gauteng ingehuldig te word in die plek van David Makhura.

3. Die Nobelprys vir fisika is aan Alain Aspect, John Clauser en Anton Zeilinger toegeken vir hul werk oor kwantum-meganika.

4. Die grootste spoorwegstaking in dekades sal na verwagting vandag in Brittanje begin om saam met val met premier Liz Truss se toespraak by die Tories se jaarkongres in Birmingham.

5. Transnet en die Franse vervaardiger Alstom het in beginsel ooreengekom oor hoe om die regsdispuut by te lê oor die 1 064 nuwe lokomotiewe wat 10 jaar gelede vir Suid-Afrika aangekoop is.

Die weer vandag ...

Kaapstad: Meestal sonnig met temperature tussen 9 °C en 19 °C. Johannesburg: Sonnig en warm met temperature tussen 16 °C en 29 °C en ’n kans op donderbuie in die middag. Pretoria: Warmer as Johannesburg met temperature tussen 17 °C en 33 °C, maar minder kans vir reën. Polokwane: Temperature tussen 15 °C en 30 °C, maar dit lyk nie goed vir reën nie. Kakamas (want hoekom nie): Temperature tussen 13 °C en 32 °C (Jy’t gedink dit gaan warmer wees, nè?)


Deur Max du Preez

Sosialisme het nog nooit êrens regtig gewerk om die mens se lot en vryhede te dien nie. In vele lande het dié ideologie tot armoede en onderdrukking gelei.

Maar eendag gaan my en jou kleinkinders wonder hoekom ons wat nou volwassenes is, so ywerig 'n ongebreidelde kapitalistiese stelsel aangehang het.

'n Stelsel wat tot gevolg het dat net meer as 2 000 dollar-biljoenêrs oor groter rykdom as die 4,6 biljoen armstes beskik, maak mos geen sin nie?

Die beginsel van 'n vrye mark is onbetwisbaar goed vir ekonomiese groei en welvaartskepping, maar die obsene rykdom van 'n klein handjievol mense in 'n see van erge armoede, en hulle buitengewone invloed op internasionale sake, sê vir my iets baie basies is verkeerd.

Kom ons praat oor Elon Musk, die boytjie van Pretoria wat met $241 biljoen die rykste man op aarde is. Hy is miskien 'n geniale entrepreneur, maar hy is duidelik 'n ongebalanseerde en impulsiewe mens en 'n politieke idioot.

Die groot storie in Amerika dié week is dat Musk voorstel dat die Krim-skiereiland aan Rusland oorhandig word en dat nuwe referendums in die Donbas-streek van Oekraïne gehou word – as die mense van dié streek by Rusland ingelyf wil word, moet dit gebeur, sê hy.

Musk se roekelose stellings, nogal op Twitter, gaan waarskynlik bydra tot die groeiende Oekraïne-moegheid in die Weste en die res van die wêreld, en só die verloop van die geskiedenis help bepaal.

En dit net omdat hy 'n rykgat is?

Geen wonder nie die Oekraïense ambassadeur in Duitsland, Andrij Melnyk, het op Twitter op Musk gereageer: “F— off is my very diplomatic reply to you.”

Musk se oorvereenvoudiging is vir baie mense verleidelik. Ja, die Russe beheer die Krim nou al so lank en dit lyk nie asof die mense veel omgee nie, en natuurlik is dit 'n goeie idee dat streke wat demokraties aandui dat hulle wil wegbreek, toegelaat moet word. Enigiets vir vrede.

Musk steur hom glad nie aan die gevestigde internasionale reg nie, en daarsonder is die mensdom in die moeilikheid. Dit is absoluut onhoudbaar dat 'n staat 'n ander soewereine land, 'n demokrasie en mede-lidland van die VN, kan inval en opeis soos Rusland gedoen het en uiteindelik daarmee laat wegkom.

Die Brexit-referendum het gewys dat mense hulle menings maklik verander, so as daar wegbreek-referendums gehou word, moet dit met 'n tweederde-meerderheid beslis word en deur die staat self gesanksioneer word.

Musk is 'n geesgenoot en sakevennoot van die negende rykste man in die wêreld, Larry Ellison van Oracle ($93 biljoen), 'n ondersteuner en vriend van Donald Trump.

Die vermoë om 'n privaat sake-empire te bou, behoort niemand die reg te gee om nasionale en internasionale sake wesenlik te beïnvloed nie. Dink hier ook aan die invloed wat mense soos Facebook se Mark Zuckerberg en die internasionale mediamagnaat Rupert Murdoch wêreldwyd het.


Image: ANGELA TUCK

Op ’n stadium moet ons maar almal na die Deleted Scenes kyk

Dagsê!

Hopelik sal baie van ons lesers dink die nuwe formaat van Vrye Weekblad se nuusbriewe – dit waaraan jy nou lees – is die resultaat van ’n deurdagte en deeglik nagevorste proses waarvolgens ons presies vasgestel het wat ons lesers wil hê en wat daarvan ons vir hulle kan gee. Om só te dink sou nie heeltemal verkeerd wees nie, maar die werklikheid is soos gewoonlik ’n bietjie (of selfs baie) morsiger.

’n Paar van ons het gisteroggend nog die tweede van ons nuwe nuusbriewe op die ou app gelees, maar weens ’n tegniese probleem het die eintlike korrekte weergawe eers hier kort voor 13:00 gister in lesers se inbokse beland.

Dié weergawe was al klaar drasties anders as Maandag s’n nadat kollegas Anneliese Burgess en Angela Tuck ure lank geswoeg het om die templaat reg te kry. Maar steeds wonder ons of dié of daai lekker werk. Moet ons begin met “5 GOED WAT JY VANDAG WIL WEET”, of moet dit laer af eers staan? Hoe laat elke dag moet ons dié lysie voorberei, want ons kan tog nie met die 24/7-publikasies probeer meeding met vars nuus nie? Gaan ons net Afrikaanse gedigte publiseer, of dalk ander tale ook? Wanneer kom die skrywer se naam by iets, en wanneer doen ons dit liewer onder die publikasie se naam? En met elke item is daar die Gouelokkies-vraag: is dit te lank, of te kort, of net reg?

Die ander vraag is sekerlik hoeveel hiervan nou regtig vir almal daar buite interessant gaan wees, maar aan die ander kant het ons ’n ander soort verhouding met ons lesers as wat by die tipiese groot media-organisasie moontlik is. Dink daaraan as die Deleted Scenes: Laat weet ons wat jy daarvan dink, maar moenie dat dit die fliek vir jou spoil wat ons ook al besluit om te doen nie.

Van spoil gepraat: Elke nou en dan duik die onderwerp op van watter soort Afrikaans ons hier moet gebruik, of hoe konsekwent ons daaroor behoort te wees. Moet alles noodwendig selfs in Afrikaans wees as feitlik al ons lesers Engels goed verstaan? En hoekom kan ons nie nou en dan ons mind change oor iets nie? Hoekom kan ons nie praat van iemand wat vir ’n storie geinterview is nie, of wonder hoekom beurtkrag op ’n manier die teenoorgestelde as load shedding beteken nie? (Dalk moet ons sommer ook end kry met die vroom gebruik om te praat van IN ’n stadium pleks van OP ’n stadium, soos omtrent almal in die regte wêreld doen wat nie gelanguage-capture is nie? Maar dalk is ek nou net aspris.)

Tot (hopelik) ’n volgende keer

Willem


VANDAG SE WEGSPRING-GEDIG:

oggendvers

in die vrystaat
was daar ’n man met ’n baard.
soos hy ouer word besef hy
dat hy al hoe meer
na sy vader aard.

met oggendkoffie
is dit ’n pilletjie vir bloed,
en dan ’n gesprek
met die self
voor hy sy geliefde groet.

hy’t lank, lank gelede reeds
met sy humeur
afgereken,
die alewige beneuktheid
het tog nooit iets beteken.

nou mediteer hy
met kekkelvoëls in die tuin,
en wonder
hoe lank nog
voor dit als net verdwyn.

– Voorheen ongepubliseerde gedig deur Jo Prins van Melville in Johannesburg 

                                                                     ♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.