Ons almal het ’n storie. Hier’s 10 grepe.

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Ons almal het ’n storie. Hier’s 10 grepe.

Uit 8 biljoen mense het ANNELIESE BURGESS 10 stories om te vertel, en sy deel haar weeklikse dit-en-dat-aanbevelings.

Goeiemôre liewe vriende

Eers vinnig ’n bietjie huishouding oor Vrye Weekblad 3.0. Ons is geweldig goed op dreef, maar hier en daar is nog ’n paar haakplekke, veral met die ou Arena-app, wat ons hoofbrekens gee. Omdat die app aan hulle behoort, kan ons niks omtrent enige van die klein jakkalsies (of in hierdie geval, groot uitgegroeide, honger jakkalse) daar doen nie.

As jy met die app sukkel, stuur ’n e-pos na hulp@vryeweekblad.com en ek sal verduidelik hoe jy maklik op ’n ander manier op jou foon of tablet kan lees. Jy kan ook ’n teksboodskap na ons WhatsApp stuur by 071 170 8927. Ek en kollega Willem Kempen hou dit deurentyd dop en antwoord sou gou ons kan. En onthou, al was jy 'n vorige intekenaar, moet jy weer (opnuut) registreer. Dis vinng, en gratis. En jy kry daarmee gratis toegang tot Vrye Weekblad tot die einde van die jaar! As jy nog nie het nie, klik hier om dit te doen!

Raait, nou ons Sondag-gesels:

Ek en die tiener sit in ’n dakrestaurant in Kaapstad. Die son sak agter Seinheuwel en die stad word stadig in donkerte gehul. Ons kyk af oor die see van geboue. “Is dit nie snaaks om te dink dat elke persoon, in elke huis en elke woonstel, ’n storie het nie? Oor iets worrie. Gelukkig raak. Baklei. Hartseer word. Iewers wil behoort ...,” sê sy.

Ja, ek dink baie daaraan. So baie dat ek ’n lys hou van mense wat my daaraan laat dink:

  1. Die man dra dik skaapwolpantoffels en stap daarmee na die vliegtuig wat wag om ons op die vroegoggendvlug Kaapstad toe te neem.
  2. Die vrou dra ’n kroon van vars wit rose. Ek skat haar in haar laat-30’s. Sy glimlag terwyl sy op die winkelsentrum se parkeerterrein na haar kar soek.
  3. Twee gryskopvrouens staan in die tou op Oos-Londen se lughawe. Elkeen het ’n rugsak waaraan deurgeloopte tekkies hang, en elkeen het ’n loopstok. Elke nou en dan vat hulle aan mekaar se hande.
  4. Die jong man in ’n blou oorpak staan voor my by die betaalpunt. In sy mandjie is ’n klein polonie, ’n witbrood, ’n halwe liter melk en ’n pak nappies. En ’n enkele rooi suigstokkie.
  5. Die man vee voor sy huis met ’n gebreekte ou besem. Sy huis is ’n skuiling van karton en swart sakke op die sypaadjie by ’n verkeerslig in Buitengrachtstraat in Kaapstad.
  6. Die vrou dra ’n tradisionele Xhosa-kopdoek. En krale. Sy is kaalvoet. In Mr Price Home. Sy kyk na gegeurde kerse. Daar is ’n tatoe op haar kuit. ’n Keltiese simbool. Dit is die voorletters van haar suster se naam, sê sy. Haar suster is vermoor. Die mense wat haar doodgemaak het, is nooit gevang nie. Dit is nou al 10 jaar. 
  7. Die vrou het groot borste. Haar vel is verrimpeld van ouderdom. Sy dra ’n blou baaikostuum met wit kolle. En pienk lipstiffie. Sy staan vir ’n lang ruk in die vlak water van die yskoue getypoel in Kampsbaai voordat sy onder die water wegsink. 
  8. Die man skreeu vir die wêreld terwyl hy in die vullisblikke voor die duur woonstelblok in Seepunt krap. “Jy het my verlaat. Hoekom? Wat het ek gedoen? Hoekom is ek nou alleen hier in die strate wat my nie wil hê nie. Hoekom, Here, hoekom? Ek weet! Want jy’s ’n hartelose p***!” Oor en oor, die woord wat rym met roes. ’n Weeklaag van hartseer en verbittering.
  9. Ek wag vir ’n iemand om my op te laai by die Shell-garage aan die bopunt van Langstraat. Die sekuriteitswag wag vir ’n taxi Khayelitsha-toe. Die “veilige kant” by Makhaza, sê hy. Hy kom van nagdiens af by die hooggeregshof. Drie nagte, drie dae. Dis sy rooster. Hy het grootgeword in Queenstown, in die Oos-Kaap. Ek het daar naby grootgeword, vertel ek. Indwe. Ja, hy ken mense daar. Ek ken die mense wat hy ken. Die taxi kom. Baai, homeslice, sê hy.
  10. Drie vroue draf langs die grootpad met waterbottels in die hand. Dit is oggendspitsverkeer. Ek wonder oor die uitlaatgasse wat hulle moet inasem. En die padwerk wat die sypaadjies in dongas verander het. By die verkeerslig draai ek die motor se ruit af om te vra. Hulle woon in die plakkerskamp daar by die lughawe. Hulle oefen vir ’n maraton. Dit is nie veilig om daar te draf nie. Dit is veilig hier langs die pad met baie karre.

Ons almal het ’n storie.                  

***

Gedig

The roads have closed for flooding. 
The rows of cars are marbled in a mist. 
Watching gulls dive-bomb
the waves behind the pier, the only thing
that’s left for me is gratitude.
Thank you for this.
Thank you for the landscape
that’s not yet turned to dust,
the wet gusts filled with clumsy birds
and hints of sunlight,
and me, soaking wet as well, 
allowed by the grace
of what flesh
to watch.

Jacob Griffin Hall

Woordspeletjies

As jy van Wordle hou, is hier honderde ander sulke woordspeletjies.

Lees

Hou op tyd mors. Dis my mantra en ek het die tatoe om dit te bewys. Hier is ’n tien maniere om jou tyd te laat tel.

Tegnologie verduidelik

Het jy al ooit gewonder hoe QR-kodes werk?  Hier is alles wat jy daaroor wil weet.

Doomsday

Days Since Incident is ’n lys van aardskuddings, tsunami’s en vulkaniese uitbarsting, ensovoorts en wys wanneer en waar dit laas gebeur het. Volgens die webwerf is dit byvoorbeeld 235 dae sedert die laaste 5 kiloton-asteroïed die aarde getref het, 2 540 dae sedert die laaste 100m megatsunami, en 75 780 dae sedert die laaste mega- vulkaniese uitbarsting (wat in 1815 in Indonesië plaasgevind het).  

Geskiedenis van rockmusiek

Ek kry van die beste aanwysingswenke van recommendo.com. Hier lees ek oor ’n fantasiese podcast, A History of Rock in 500 Songs. (Spesiaal vir jou Kerneels!). Dit bespreek die geskiedenis van 500 rockliedjies. Die eerste episode kyk na 1939 se “Flying Home” deur die Benny Goodman Sextet. En die mees onlangse episode gaan oor 1967 se “For What It’s Worth” deur Buffalo Springfield. 

Die baie-praat-nagmerrie

Nog 'n juweel van recommendo.

Baie onderhoude is al gevoer met die skrywer en podcaster Rose Eveleth en sy was ook al baie self die onderhoudvoerder. Een van haar nagmerries is die onderhoudvoerders wat eintlik net oor hulleself wil praat. In hierdie artikel verduidelik sy hoe sy “chronic over-talkers” hanteer. Haar belangrikste reël is: “Start your sentence just before your partner has ended theirs. Do not wait for them to actually end their sentence. Do not let them pause and think, ‘Am I truly done?’ Because the answer is always no.” 

Daarmee groet ek. Salige Sondag.

AB
annelieseburgess@vryeweekblad.com