Ons mis maar almal die huis

DINSDAG-DAGBOEK

Ons mis maar almal die huis

Hier is vyf goed wat jy vandag wil weet; Max du Preez skryf oor die kopontploffing wat hy kry om Karyn Maughan in die beskuldigdebank te sien; en André-Pierre du Plessis skryf ’n brief uit Londen.

  • 11 Oktober 2022
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Gister se Russiese missielaanvalle op verskeie Oekraïense stede wat tot onlangs relatief kalm was, verteenwoordig ’n eskalasie van die konflik, maar kenners sê dit beteken nié dat Vladimir Putin se magte die skaal in hulle guns laat terugswaai nie.

2. Vanjaar se Nobelprys vir vrede word gedeel deur die Belo-Russiese menseregte-aktivis Ales Bialiatski, die Russiese menseregteorganisasie Memorial, en die Oekraïense Centre for Civil Liberties. 

3. ’n Driemanskap van Amerikaners is die gesamentlike wenners van vanjaar se Nobelprys vir ekonomie gegrond op hul navorsing oor die bankwese se rol tydens ’n finansiële krisis. Die drie is Ben Bernanke (voormalige voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad), Douglas Diamond en Philip Dybvig.

4. Griekeland het dit verlede week vir die eerste keer kortstondig reggekry om sy vraag na elektrisiteit volledig uit hernubare bronne te bevredig, het Reuters berig. In die agt maande tot einde Augustus het Griekeland gemiddeld aan 46% van sy totale kragbehoefte uit son-, wind- en hidrokrag voldoen.

5. Red Bull Racing hét in 2021 die FIA se begrotingsperk vir F1-renspanne oorskry, het die FIA gister in ’n verklaring bevestig. Hoewel motorsport se internasionale beheerliggaam die oorskryding as “minor” klassifiseer (minder as 5% van die $145 miljoen-perk), eis veral mededingers soos Mercedes-AMG Petronas dat daar ’n voorbeeld gemaak word van die span wat nou twee jaar in ’n ry die wêreldkampioen (Max Verstappen) opgelewer het. Red Bull se straf is nog nie bekend gemaak nie, maar moontlikhede sluit in ’n openbare teregwysing (net nie dit nie!), punte afgetrek in vanjaar se vervaardigers- of renjaerskampioenskap, of beperkings op sekere toetse.


Die weer vandag ... 

Pretoria: 33°C, bewolk. Johannesburg: 30°C, bewolk. Kaapstad: 24°C, bewolk met donderbuie. Durban: 30°C, gedeeltelik bewolk. Bloemfontein: 33°C, bewolk. Polokwane: 30°C, sonnig. Upington: 38°C, gedeeltelik bewolk. Gqeberha: 29°C, gedeeltelik bewolk. Oos-Londen: 33°C, gedeeltelik bewolk. (So jammer vir julle, Upington. En ek's ook redelik bly ek's nie môre in Oos-Londen nie. – AB)


Oor Karyn Maughan en Billy Downer in die beskuldigdebank

Feit: Karyn Maughan is een van Suid-Afrika se heel beste regsjoernaliste van dié era en word hoog deur regslui aangeslaan.

Feit: Billy Downer, SC, is ’n veteraan-staatsadvokaat met ’n onbesproke rekord wat al byna twee dekades lank probeer om Jacob Zuma se verhoor op aanklagte van korrupsie te laat plaasvind.

Feit: Jacob Zuma was ’n vrotsige, korrupte president wat toesig oor staatskaping gehou het, sy vriende en familie verryk het en die land byna onherstelbare skade aangedoen het.

En daarom was die toneel in die Pietermaritzburgse hooggeregshof gister so ’n skok: Downer en Maughan is Beskuldigdes 1 en 2 in ’n kriminele saak, en Zuma is die aanklaer – dit is ’n private vervolging.

Downer word daarvan beskuldig dat hy onregmatiglik besonderhede oor Zuma se beweerde gesondheidsprobleme aan Maughan uitgelek het en sy dat sy dit op news24 gepubliseer het.

Geen regskenner wat haar/sy sout werd is, sien enige meriete in die aanklagte nie. Die dokumente ter sprake was amptelike hofdokumente en die enigste inligting oor Zuma se gesondheid was ’n brief van een bladsy lank van ’n dokter wat sê Zuma het ’n “traumatiese besering” opgedoen. Dis al.

Ek onthou die taktiek baie goed.

In die laat 1980’s en vroeë 1990’s het die apartheidsregering my as redakteur van Vrye Weekblad meer as ’n dosyn keer op soms verspotte aanklagte hof toe gesleep of groot bedrae weens kwansuise laster van my geëis nadat ek berigte oor die vergrype van die polisie en die regering gepubliseer het.

Dit was suiwer ’n misbruik van die regstelsel om my te intimideer, my verdag te maak en my as joernalis lam te lê.

Zuma en die magte en kragte agter hom probeer presies dieselfde met Maughan bereik, terwyl die geveg teen Downer suiwer oor propaganda gaan en deel van Zuma se Stalingrad-strategie is.

Downer en Maughan het albei dringende aansoeke gerig dat die private vervolging gestaak word. Dit sal op 8 en 9 Desember voor die hof dien, met die saak self wat tot 2 Februarie volgende jaar uitgestel is – tensy hulle aansoeke natuurlik suksesvol is.

Twee ander dinge het gister ’n donker dag in ons demokrasie gemaak.

Die eerste is dat Zuma se tronkstraf pas verstryk het sonder dat hy veel tyd in ’n sel deurgebring het, want hy het op ’n onregmatige wyse mediese parool gekry. Hy is glo dodelik siek, maar was gister self in die hof en het merkwaardig gesond en energiek vir iemand van 80 gelyk.

Dit is ’n nasionale skande. As sy van Tshabalala of Van der Merwe was, sou hy sy hele vonnis uitgedien het. Meer as dit: dan sou sy korrupsiesaak al jare gelede afgehandel gewees het.

Hoofstuk 2.9 (1) van die Grondwet, deel van die Handves van Regte, bepaal: “Elkeen is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg.”

Tensy jou naam Zuma is en jy ’n senior ANC-lid is.

Die tweede skandaligheid was die absolute stortvloed van rassistiese en seksistiese vitrioel wat op sosiale media teen veral Maughan uitgekots is. De aartsskelm Carl Niehaus is voor in dié koor.

Ons hier by Vrye Weekblad het ons by die beweging onder Suid-Afrikaanse joernaliste aangesluit onder die banier: We stand with Karyn Maughan. Journalism is not a crime.

– Max du Preez


Ons mis maar almal die huis

Goeiemôre uit Londen

Ek was al voorheen in Londen, maar nie op ’n Sondag nie. Iewers moontlik 20 jaar gelede het ek twee dae in Londen deurgebring, maar nooit gedink ek sou eendag hierheen wou trek nie. Die grootste rede was dat ek hopeloos te veel Afrikaans gehoor het tydens daardie twee dae in die stad.

Die ding is, ek verkies dit om in die buiteland te woon, want dis gewoonlik die soort plek waar ’n mens in Afrikaans kan skinder oor die mens wat langs jou sit sonder dat hulle dit weet. Maar in ’n plek soos Londen het dit heeltemal te moeilik geraak. In New York waar ek die afgelope dekade gewoon het, kon ek met skinder-Afrikaans wegkom. Die een of twee keer wat ek Afrikaanse toeriste in Times Square teëgekom het, het ek wye draaie om hulle geloop.

Dis nie dat ek my eie mense haat nie, en natuurlik ondersteun ek die internasionalisering van ons moedertaal, maar ek vermoed dis iets wat met jou gebeur as jy vir te lank oorsee woon en voel dat daar moontlik te veel van jou tipe oorsee is. Ek is getroud met ’n Turk en hy het dieselfde wanopvatting oor sy eie mense. Terwyl ons in New York gewoon het, het ons weggeloop elke keer as ons Turks gehoor het (wat hopeloos te veel gebeur het na sy sin).

Ondanks my teenkanting van ’n lewe in Londen het ek pas permanent hierheen getrek. Op my eerste Sondag nooi ek ’n handjievol Suid-Afrikaners wat jare lank al hier bly. Wat my opgeval het, was hoe hulle steeds alles hier met Suid-Afrika vergelyk: Is die kos nie vreeslik duur nie? Is dit nie baie veiliger hier as in Suid-Afrika nie?

Is julle gek? wou ek weet. Hoe kan julle kospryse hier vergelyk met dié in Suid-Afrika? Natuurlik is dit duur as jy die prys terugwerk na rand. Maar dis belaglik, sê ek, om dinge in Londen met enigiets in Suid-Afrika te vergelyk. Ek weet egter goed dis wat ons doen ongeag waarheen ons in die wêreld trek.

Ek het dit self gedoen toe ek aanvanklik New York toe is. Nou vergelyk ek al my aankope in ponde met wat ek daarvoor sou betaal in dollars. Met kosinflasie wat in Amerika die hoogte ingeskiet het, voel alles skielik vreeslik goedkoop in Engeland. (Of is dit net die sterk pond wat my verwar?)

Wat my ook verstom ná slegs ’n week is die Tube. Hoe is dit moontlik dat die Britte nog nie (soos in New York) die gemak van lugverkoeling op ondergrondse treine onder die knie het nie? Dis bykans winter, maar as jy op die Underground klim, wil jy doodgaan van die hitte. Ek is wel bly om te sien dat Londen se jongste trein, die Elizabeth Line, toegerus is met hierdie eerstewêreldse luuksheid. Maar ek het afgedwaal.

Of jy nou Afrikaans is of nie, dink ek jy gaan altyd dinge wil vergelyk met dit wat jy ken. Hoe baie Afrikaanse mense kom ek teë wat vra wat is die wisselkoers met die rand; in watter area verkoop hulle boerewors. Dis dalk bloot ’n soeke na iets wat bekend is en tuis voel en nie soseer ’n manier om vas te stel of jou £12-toebroodjie duur is of nie. Aan die einde van die dag – soos Naas die TV-sportkommentator altyd gesê het – mis ons almal eintlik maar nog altyd die huis.

Groetnis
André-Pierre

* Die skrywer is ’n TV-vervaardiger in Londen.


Gedig vir die dag

Slaapliedjie vir Willem

my kleinste kokkoboks
my liefste kaspaas
hom vriendelike ogies
is vol vam vrede
hom vingertjie wys
'n kwikstertjie stert
hom babetjie slaap
in 'n vleitjie van asem

– Antjie Krog

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.