As die kinders se truth bombs op verre plekke ontplof

DIASPORA-DAGBOEK

As die kinders se truth bombs op verre plekke ontplof

ANNELIESE BURGESS skryf oor prins Harry se omstrede boek en ander dinge, en DOUW KRÜGER hou sy hart vas oor sy dogter wat uit Duitsland kom kuier. Soos altyd is daar vyf goed wat jy wil weet.

  • 10 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Die eerste geval van die hoogs aansteeklike XBB.1.5-subvariant van Covid-19 is in Suid-Afrika aangeteken, maar tot dusver is daar geen aanduidings dat dit tot ernstiger siekte as vorige variante kan lei nie en daar is geen rede vir paniek nie.

2. Die minister van energie, Gwede Mantashe, het ontken dat hy ’n “steenkool-fundamentalis” is, maar gesê Eskom se bestaande kragstasies moet beter bestuur word. “Ons het 20 000 MW wat gekonnekteer is, wat nie uit diens gestel is nie, maar geen energie lewer nie. Hoe los ons dié situasie op?" het hy tydens ’n gesprek oor energiesake op die ANC se Mangaung-konferensie gesê.

3. USAID se Famine Early Warning Systems Network het gewaarsku dat duisende Zimbabwiërs deur hongersnood in die gesig gestaar word as gevolg van hiperinflasie wat voedsel vir baie mense onbekostigbaar maak. Zimbabwe se amptelike inflasiekoers is 243,8%, die hoogste ter wêreld.

4. Duisende ondersteuners van oudpres. Jair Bolsonaro van Brasilië het gister regeringsgeboue in die land se hoofstad bestorm, net ’n week nadat Lula da Silva weer die land se president geword het. Die betogers het chaos gesaai en eiendom beskadig by onder meer die presidensiële paleis en die setel van die land se hoogste hof in Brasilia voordat owerhede orde kon herstel.

5. Betogers het gister weer in Teheran saamgedrom om te probeer keer dat die Iranse regering twee mans teregstel wat skuldig bevind is dat hulle ten tyde van verlede November se betogings doelbewus ’n polisieman met hulle kar omgery het. Aktiviste sê Mohammad Ghobadlou en Mohammad Broghani het nie ’n billike verhoor gehad nie en is onskuldig.


Vandag se weer

Meestal matige tot bewolkte toestande, maar daar is steeds hoë brandgevaartoestande wat in dele van die Noord-, Oos- en Wes-Kaap verwag word, gepaard met ’n hittegolf in sommige gebiede van daardie provinsies, asook dele van die Vrystaat.

Klik hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria  30°C • Johannesburg 29°C • Rustenburg 34°C • Mbombela 31°C • Kaapstad 26°C • Durban 28°C • Paarl 31°C • Oudtshoorn 37°C • Bloemfontein 34°C • Polokwane 30°C • Upington 40°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 29°C.


Anneliese Burgess | Die Haz-en-Meghan-show: ’n fyn gekalibreerde geldmaakspul

Eers was daar die Oprah-onderhoud waarin hulle vertel het oor die verskrikking wat hulle lewe in Brittanje was. Met komplotte in die media, vermeende rassisme in die koningshuis en ’n misverstand met skoonsus Kate wat Meghan in trane gelaat het (en nie andersom nie).

Ondanks die belaglike manier waarop die soms erg banale belydenisse (soos wie vir wie laat huil het oor die blommemeisierokke) deur Oprah as aardskuddende “truth bombs” hanteer is, was my oorwegende gevoel een van “ag sjym” vir die tweetjies. Dit was immers hulle “lived experience”.

Toe kom die ses ure lange Netflix-dokkie waarin H&M hulle “love story” met ons deel. Ek het die eerste twee episodes saam met my dogter gekyk (en toe is ons albei verveeld). Die pap oor hulle (heel ordinêre) liefdesverhaal word baie dik aangemaak, en daar is ’n konstante ondertoon van selfbejammering, maar dis tog heel kykbare realiteitstelevisie, as dit jou soort ding is.

Hierdie week: ’n rits vars “waarhede”. Van hoe Harry sy maagdelikheid agter ’n kroeg verloor het tot hoe sy boetie hom op ’n hondebak laat val het (o, en die 25 Taliban-lede wat hy uit die lug geskiet het). Van dié inligting kom uit die Spaanse weergawe van Harry se memoires, Spare, wat op “op een of ander manier” vroeër op die rakke beland het as in Brittanje, maar ander kom uit Harry se twee hoëprofiel-onderhoude met Anderson Cooper en Tom Bradby.

My belangstelling in die H&M-fenomeen lê in die PR-aspek, ’n veld waarin ek 10 jaar lank gewerk het, en waar een van my kliënte eens iemand was wat internasionaal bekend genoeg was dat ek daagliks met mense soos Oprah moes gesels, want almal wou “die onderhoud” hê. Dit het my ’n baie intieme blik gegee op dié high-stakes PR wêreld.

En met daardie agtergrond begin ek al hoe meer dink dat al die “truth telling” van Haz en Megs eintlik net ’n hoogs gekalibreerde PR-veldtog is wat doelbewus ontwerp is om mense ingehaak te hou by die familieskinderstories waaruit die twee hulle geld maak. En dat hulle dit al lank so beplan het. As hulle net “hulle kant” van die storie wou gestel het, sou die Oprah-onderhoud mos gedeug het?

Hier is my voorspelling: Dit gaan backfire op hulle. Die sad woe-betide-us stories begin afgesaag, simpel en skynheilig klink en voel.

In die onderhoud met Tom Bradby sê Harry: “None of this is done with the intention of hurting any of my family.” Bradby vra daarna vir Harry wat hy vir sy broer en pa sou sê as hulle met hom sou wou praat. Harry se antwoord: “[that] will be in private and I hope it can stay that way.”

Die uitdrukking van ongeloof op Bradby se gesig het boekdele gespreek.


Image: ANGELA TUCK

Douw Krüger | Oor veiligheid, bestuur en ’n paspoort vir ’n kind wat in SA kom kuier

Ons diasporatjie wat in Europa woon se dag verloop gereeld soos volg: Sy staan op, maak ’n ligte ontbyt, trek ’n warm baadjie aan en stap uit haar woonstel. Sy is ’n haastige mensie en draf met die trappe af eerder as om vir die hyser te wag.

Buite die gebou tref die fris, koue lug haar. Maar sy is al gewoond daaraan. Dis ’n hele ent van haar woonstel na die die Straßenbahn waar sy die trem kry. Sy is effens laat, maar gehoorsaam wel die rooi mannetjie by die voetoorgang 90% van die tyd. In die trem is sy in haar eie gedagtes versonke – nie ’n saak met wie langs haar staan of drie straatblokke ver agter haar aangestap het nie.

Naby haar skool klim sy af. In die strate is daar ’n hele paar mammas met kleuters en babas op pad na die Kindergartens en skole. Warm aangetrek, maar geen probleem met die koue lug of selfs die reën nie. Hulle maak net hulle sambrele oop en stap verder.

Laatmiddag, wanneer die laaste kind by die skool weg is, trek sy haar baadjie aan, neem haar handsak en stap na die Altstadt, waar ’n klompie vriende mekaar ontmoet om ’n verjaardag te vier of ’n voetbalwedstryd in ’n kroeg te kyk. Hulle eet ’n pizza langs die Ryn en drink ’n lang bier. Later die aand stap hulle saam na Heinrich-Heine Allee, waar elkeen sy eie trein kry en sy eie rigting inslaan.

’n Kilometer van haar woonplek klim sy af en stap heel vrolik in die donker verder. Treinry, fietsry en stap is al 11 jaar lank deel van haar lewe. Sy het nog nooit ’n voertuig daar bestuur nie. Haar handsak is al in ’n kuierplek gesteel, maar sy het dit ’n uur later by die polisiekantoor teruggekry met al haar geld nog daarin. Sy ken nie enige slagoffer van geweldsmisdaad in Duitsland nie. Dit gebeur net ver van haar.

En nou kom sy in Februarie In Suid-Afrika kuier. Vir ’n hele vyf weke. Ons kan nie wag nie en beplan familiekuiers, ’n trippie met die Land Rover en ’n kampnaweek met die uitgebreide familie. Sy het haar tweelingbroer byna vier jaar laas gesien.

En dan kom die ander kant van Krugerrand. Sy het studentepelle wat oral in die Kaap woon. Ons hoor sy gaan lekker met hulle kuier. Met ma se motor gaan sy saans die wêreld vol ry en laatnag eers terugkom. ’n Duitse vriendin kom ook vir twee of drie weke Suid-Afrika toe. Hulle twee gaan saam die Tuinroete verken – met ma se motor. Sy byt nie lekker aan die storie dat sy eintlik 11 jaar gelede laas motor bestuur het nie. (Terwyl ek hier skryf, hoor ek oor die radio 13 mense is dood toe ’n taxi en ’n vragmotor in die Vrystaat reg van voor gebots het. Ek dink ook aan Hannah Cornelius, Meghan Cremer en die twee bladsy lange lys met slagoffers van geweldsmisdaad wat ek persoonlik geken het.)

Ons begin ’n stap-vir-stap-gesprek met ons diasporatjie. En ons beplan ook agteraf. Ons gaan afskop met kort trippies op rustige roetes, met kleinsus as die bestuurder. En voorstelle en planne om haar kuiers veilig te maak. Tussendeur sal ons ons hart vashou en baie bid.

Dit was ’n groot mission om met binnelandse sake kontak te maak om te hoor of sy met haar Nederlandse paspoort die land mag binnekom. Haar Suid-Afrikaanse paspoort het verstryk en dit kan sommer baie maande duur om dit in Europa hernu te kry. Toe ek ná weke se gesukkel die dame wat met die Kaapstadse lughawe werk in die hande kry, het sy ná my verduideliking gesê sy mag wel met die Nederlandse paspoort inkom. Ander “kenners” sê vir my sy gaan steeds op die lughawe geterroriseer word. Maar in vergelyking met die ander stresfaktore wat die besoek van ’n eiewys diasporatjie meebring, dink ek die lughawekwessie is hanteerbaar.

* Douw Krüger en sy vrou bestee so elke tweede jaar ’n paar maande in Duitsland waar hulle dogter woon. 


Die man wat ek liefhet

Die man wat ek liefhet
is mooi vir my -
die vryvlug van sy mond
die sanderige val van sy hare
die vat van sproeterige hande
maak my oë vol -
die man wat ek bemin
is 'n tent in die woestyn
'n skuilplek 'n stilplek
by hom wil ek bly 
hy net hy is gedig psalm
is 'n hoë hooglied vir my

– Louise Boshoff

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.