Skiërs sonder sneeu, lande sonder leiers en kroeë sonder koppe

WOENSDAG MET WILLEM

Skiërs sonder sneeu, lande sonder leiers en kroeë sonder koppe

WILLEM KEMPEN sê Jair Bolsonaro moet dringend na Brasilië terugkeer, en skryf ook oor die ou tradisie van gevatte koerantopskrifte wat in aanlyn publikasies aan die herleef is.

  • 11 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Suid-Afrikaanse soldate het hulle moontlik aan oorlogsmisdade in Mosambiek skuldig gemaak, blyk uit ’n grusame video wat aan die lig gekom het waarin die lyke van vermeende insurgente in Cabo Delgado sonder enige respek op ’n hoop gegooi en verbrand is.

2. Die JSE het twee boetes van R7,5 miljoen elk opgelê aan Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Hy mag ook vir 20 jaar nie as 'n direkteur van enige JSE-genoteerde maatskappy dien nie. Jooste staan die boetes teen.

3. Die skooljaar begin vandag vir leerders in die Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes. Skole in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Noord-Kaap en Wes-Kaap begin volgende Woensdag.

4. Die ANC-koukus in die Tshwane-metroraad beplan ’n moontlike mosie van wantroue in die DA-burgemeester, Randall Williams, by die volgende raadsitting op 26 Januarie nadat die ouditeur-generaal se verslag oor die stad se finansies op verskeie probleme gedui het, insluitend onreëlmatige besteding van sowat R10 biljoen.

5. Verskeie ski-oorde in die noordelike Alpe en die Franse Pireneë is steeds gesluit te midde van ongekend hoë wintertemperature oral in Europa. Sonder sneeu om toeriste te lok het baie oorde begin om staproetes te heropen wat gewoonlik net in die somermaande oop is. Onder die Europese lande wat hulle warmste Januarie-dae aangeteken het wat al geboekstaaf is, is Nederland, Denemarke, Pole en die Tsjeggiese Republiek. Nuwe warmste dae in Januarie is ook op streekvlak in Frankryk, Duitsland en Oekraïne aangeteken.


Kyk weer ...

Dit sal vandag mooi weer en warm oor die grootste gedeelte van die land wees. Daar is steeds ’n hittegolf oor dele van die Oos- en Noord-Kaap, asook dele van die Klein-Karoo-gebied in die Wes-Kaap. Hoë brandgevaartoestande word ook in sommige van die gebiede verwag.

Klik hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 34°C • Johannesburg 31°C • Polokwane 30°C • Mbombela 29°C • Upington 41°C • Bloemfontein 35°C • Kaapstad 24°C • George 26°C • Worcester 35°C • Durban 30°C • Gqeberha 29°C.


Willem Kempen | Bolsonaro moet terug na Brasilië om sy gemors te help opruim

Die half-spottende verwysing na Jair Bolsonaro as die “Tropiese Trump” is sedert die naweek se gebeure in Brasilië selfs nog meer gepas. Net soos Trump twee jaar gelede weier Bolsonaro sonder goeie rede om die uitslag van die verkiesing te aanvaar waarin hy as president uitgestem is; net soos Trump het hy niks gedoen om sy ondersteuners te keer om in reaksie hierop staatsgeboue te bestorm nie; en net soos Trump was hy nou sy hande in onskuld oor wat in sy naam gedoen is. Bolsonaro is selfs ook nou in Florida, waarheen hy vertrek het twee dae voordat sy ampstermyn verstryk het.

En nes Trump is Bolsonaro nou ook Joe Biden se probleem, want die Amerikaanse president is onder druk om hom na Brasilië terug te stuur sodat hy sy aandeel kan gaan verduidelik in die gewelddadige bestorming van die presidensiële paleis, die hooggeregshof en die land se kongresgebou. Biden is as president by magte om enige buitelander uit die land te sit, selfs een wat soos Bolsonaro ’n geldige (waarskynlik diplomatieke) visum het.

In Rio de Janeiro, São Paulo en ander Brasiliaanse stede het ondersteuners van Lula da Silva gister in hulle duisende onder die slagspreuk “No Amnesty” saamgetrek in verset teen moontlike vrywaring vir die amokmakers. Een van hulle, die 61-jarige Bety Amin, het aan AP gesê: “These people need to be punished, the people who ordered it need to be punished, those who gave money for it need to be punished ... They don’t represent Brazil. We represent Brazil.”

Amnestie is steeds ’n sensitiewe kwessie in Brasilië. Dit herinner baie Brasiliane aan almal wat danksy amnestiewetgewing straffeloos weggekom het met vergrype wat onder die land se militêre diktatuur van 1964 tot 1985 gepleeg is. Bolsonaro is ’n voormalige kaptein in die weermag wat gereeld verkondig hoe hy na dié dae terugverlang, en dat “meer kommuniste destyds tereggestel moes gewees het”.

Bolsonaro het intussen Da Silva se bewering ontken dat hy die plundery en vernietiging aangemoedig het, en à la Trump op Twitter gesê vreedsame protes is deel van demokrasie, maar dat vandalisme en die besetting van staatsgeboue te ver gaan.

As hy opreg is hieroor en die belange van Brasilië en sy mense werklik voorop stel, behoort Bolsonaro terug te keer en homself te onderwerp aan al die demokratiese en ander prosesse van die land waarvan hy tot onlangs nog die staatshoof was.


Image: ANGELA TUCK

Selfs in ’n kaal kroeg lees niemand iets sonder ’n goeie kop nie

Soos wat gedrukte koerante die knie moes buig voor digitale produkte wat goedkoper en vinniger is om te produseer, het ’n baie ou joernalistieke kunsvorm ook amper gesneuwel: die vermoë om die soort treffende opskrif te skryf wat lesers so te sê dwíng om die storie daaronder te lees.

Saam met die internet en nuwe maniere om nuusverslae aan te bied en te lees, het opskrifte – “koppe” soos koerantmense daarna verwys – vir ’n tyd minder belangrik geword. Nou het dit meer getel of die opskrif die regte sleutelwoorde bevat het sodat die soekenjins dit die meeste moontlike prominensie sou gee. Die resultaat was dikwels vaal, voorspelbare koppe wat in elk geval ook nie op Google aandag getrek het nie.

Dit lyk darem of daardie vroeëre beheptheid met soekenjins nou min of meer laat vaar is. Die meeste aanlyn publikasies het herontdek dat ’n goeie kop mense aanmoedig om die storie te lees. En die bestes is goeie leesstof sommer so op hulle eie. Nie dat dit altyd só bedoel is nie: Van die snaaksste koppe is dié waarin die woordspeling eintlik per ongeluk was of bloot ’n fout bevat, soos die Amerikaanse plaaslike koerant wat verklaar het: Missippi’s literacy program shows improvement. Of die Suid-Afrikaanse tydskrif wat daai keer ’n allerbelangrike letter uitgelaat het in die woord “bloedklont” op die voorblad.

Die opskrifte in tabloids soos The Sun in Brittanje en die New York Post is legendaries, selfs al steur sulke publikasies hulle nie altyd aan die gewone reëls van betaamlikheid nie. Vinnie Musetto, in lewe redakteur van die Post, was byvoorbeeld in 1983 verantwoordelik vir een van die beroemdste tabloid-koppe nadat die eienaar van ’n New Yorkse strip club grusaam vermoor is: HEADLESS BODY IN TOPLESS BAR.

Of The Sun nadat die sanger George Michael in ’n openbare toilet gearresteer is weens ’n bietjie wellustigheid op ’n openbare plek: ZIP ME UP BEFORE YOU GO GO.

Toe Kim Jong-Il sy land se eerste kernwapentoets gedoen het: How Do You Solve A Problem Like Korea?; met verwysing na The Sound of Music, maar ook na ’n talentsoekprogram wat destyds in Brittanje gewild was. En dan was daar die keer, ek dink dit was Private Eye maar ek kan dit nie nou meer opspoor nie, toe die humeurige Franse Manchester United-sokkerspeler Eric Cantona ’n Crystal Palace-ondersteuner te lyf gegaan het nadat hy van die veld gestuur is: Shit Hits Fan.

Nader aan die huis was daar The Star se plakkaat wat lank in die Radium Beer Hall in Johannesburg gehang het nadat die ou Nasionale Party ’n kritieke Vrystaatse kiesafdeling in 1991 aan die Konserwatiewe Party afgestaan het: NP LOSES ITS VIRGINIA. En heelwat later Ray Hartley van The Times se briljante reeks oor Tiger Woods se buite-egtelike eskapades ... Birdies by dosyne.

Maar een van my gunstelinge is ’n kop wat nooit geskryf is nie, of minstens nie waarvan ek weet nie. Dit was ’n geleentheid wat net een keer sou opduik, en dit sou net in Afrikaans kon gewerk het. Dit was toe Bill Clinton destyds buite die hof met Paula Jones geskik het nadat sy hom van seksuele teistering beskuldig het. Die destydse president van die VSA ontken tot vandag toe dat hy iets onbehoorliks gedoen het – soos maar sy laai is – maar hy het besluit om haar ’n skikkingsbedrag te betaal (die syfers is nooit openbaar gemaak nie) nadat sy iets onthul het wat sy nie op baie ander maniere sou kon geweet het nie: dat Clinton ly aan ’n toestand bekend as Peyronie se siekte, oftewel ’n krom penis.

Die opskrif wat nooit was nie?

Geld wat stom is, maak reg wat krom is.

Bly op die reguit pad tot volgende keer

Willem


Medepligtige

Na 'n roettekening van Diane Victor

Portret van 'n man soos ek:
skadu vir 'n mond oogholtes
met 'n flikkering van 'n vlam veraf
klad van 'n kers vir 'n wang.

Een woord rakel meteen verwante
woorde op, kalante van dieselfde stoffasie:
vlam roep vlym roep vlek roet roep
wroet roep onvermydelik ook bloed.

– Johan Myburg

(Uit: Uittogboek)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.