As trane versamel in die gange van ouetehuise

DONDERDAG MET DEBORAH

As trane versamel in die gange van ouetehuise

DEBORAH STEINMAIR wil herinneringe neerpen sodat stories nie onvertel graf toe gaan nie; WILLEM KEMPEN skryf oor die Cabo Delgado-video; en oudergewoonte is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 12 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die departement van hoër onderwys wil ’n nasionale taakspan op die been bring wat sal fokus op veiligheid en sekuriteit by tersiêre instellings, het minister Blade Nzimande by die Fort Hare-universiteit aangekondig.

2. Drie deelnemers aan verlede jaar se interprovinsiale Cravenweek vir hoërskole mag vir drie jaar nie rugby speel nie nadat hulle positief getoets het vir verbode middels. Die Lions-slot Sifiso Magwaza (Hoërskool Monument) en die Vrystaat-haker Khoitsimodimo Mathibedi (Grey College) se name is bekend gemaak. Die derde speler is nog minderjarig en sy naam is nie genoem nie.

3. Rebelle in Tigray in die noorde van Ethiopië het van hul swaar wapentuig aan die owerhede begin oorhandig as deel van ’n skikking om ’n bloedige opstand te beëindig. Suid-Afrikaanse diplomate het ’n sleutelrol gespeel om die skikking te bereik.

4. ’n Uitbraak van die dodelike Ebola in Uganda is formeel verby, het die land se regering aangekondig.

5. ’n Man wat ses mense op Parys se Gare du Nord-stasie met ’n skerp voorwerp gesteek het, veg om sy lewe in ’n hospitaal nadat hy deur die polisie geskiet is. Een van sy vyf slagoffers is in ’n ernstige toestand, terwyl die ander vyf net lig beseer is. Die polisie hanteer die aanval voorlopig as ’n misdaad en nie as ’n terreurdaad nie, maar die man se motiewe is nog onduidelik.


Weersake

Die hittegolf duur voort met nog waarskuwings vir hoë brandgevaartoestande oor die Sentraal-Karoo van die Wes-Kaap, asook dele van Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en die Vrystaat. Sterk wind en swaar donderbuie word in dele van die Oos-Kaap verwag.

Klik hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 33°C • Johannesburg 30°C • Rustenburg 34°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 23°C • Durban 30°C • Howick 30°C • Bloemfontein 35°C • Polokwane 29°C • Upington 41°C • Gqeberha 28°C • Oos-Londen 30°C.


Willem Kempen | ’n Veel hoër standaard geld vir soldate wat in ons naam optree

Nogal interessant om lesers se kommentaar onderaan Erika Gibson se storie van Dinsdag oor die hantering van die oorskot van rebelle in die noorde van Mosambiek te vergelyk met wat op sommige ander nuusplatforms oor soortgelyke berigte gesê is.

Onder ons lesers is daar ook diegene wat onmiddellik in daardie video bevestiging vind vir allerhande vooroordele en diepgewortelde skeptisisme.

“Kyk net die barbare.”

“Afrika sal maar altyd Afrika bly!”

“Wat verwag jy, oorlog is oorlog.”

Maar die meeste van Vrye Weekblad se lesers dink gelukkig ’n bietjie verder as dit. En verstaan dat selfs in ’n oorlog ’n mens nie sommer net al die norme en reëls van beskaafde gedrag by die venster durf uitgooi nie. Selfs al het die mens wat daar dood voor jou lê dalk net ure tevore sy absolute bes gedoen om jóú lewe te beëindig. Selfs al was dit jy self wat hom doodgeskiet het.

Die Geneefse Konvensie was van die eerste dag af ’n idealistiese, dalk selfs naïewe idee: om te dink dis moontlik om te midde van die waansin van bloedige konflik ’n stel reëls te probeer afdwing waarvolgens mense mekaar mag vermink en uitwis. Maar die alternatief is veel erger: dat almal eenvoudig oorgee aan die ergste dele van hulle menslike natuur: “Ons doen maar net dieselfde wat hulle eerste aan ons gedoen het.”

As niemand aan enige kant van die oorlog ooit uit dié siklus breek nie, dan word elke seuntjie wat sien hoe sy pa gemartel of sy ma verkrag word, maar net ’n lid van die volgende geslag martelaars en verkragters.

Daar rus ’n selfs swaarder verantwoordelikheid op lede van ’n formele statutêre mag soos Samim om op tree volgens die gevestigde norme van die Geneefse Konvensie en die internasionale reg. As kwansuis professionele soldate wat ook in die res van ons as Suid-Afrikaners se naam optree, word hulle aan ’n veel hoër standaard as die rebelle gemeet.

As Samim se lede dít nie kan insien nie, moet niemand verbaas wees as dieselfde soort misdaad dalk volgende keer aan die ander kant van die oorlog gepleeg word nie.


Image: ANGELA TUCK

Stories en herinneringe wat vergaan

Wanneer ek reis, versamel ek stories. Soms wil ek huil oor al die stories wat in die gange van ouetehuise vergader en onopgeteken graf toe gaan.

Ek hoor onlangs ’n roerende storie by Johan Wessels van Bloemfontein. Dit gaan oor twee mense wat hy op hulle oudag finansieel geadviseer het – tannie Pietie en oom Danie Coetzee.

Tannie Pietie is Petrus Johannes gedoop. Oom Danie het in Natuurbewaring in die Vrystaat gewerk en is in 1968 oorgeplaas na die Kaokoveld. Dis noord van Etosha en daar was niks nie. Geen behuising nie. Hulle het in ’n tent tuisgegaan.

Oom Danie het te perd ondierbeheer toegepas. Wanneer leeus iemand se vee gevang het, moes hy die leeus verjaag, terug Etosha toe. Te perd. Olifante en renosters moes hy ook verjaag. Hy moes ’n perd kies wat vinniger as ’n olifant kon hardloop – olifante kan glo 32 kilometer per uur hardloop.

Later het hulle ’n bakkie gehad. Tannie Pietie het die verslae wat hy gereeld Etosha toe moes neem, agterop die bakkie op ’n ou tikmasjien gesit en tik.

Hulle seun Albert het vir Johan vertel dat hy graad een en twee tuisonderrig gekry het. Toe hy in standerd een vir die eerste keer skool toe is, was dit ook die eerste keer wat hy skoene gedra het.

Oom Danie het ’n salaris ontvang en daarbenewens het hulle S & T van 76c per dag gekry. Dié het hulle gespaar. Wanneer daar R10 was, het tannie Pietie dit toegehekel in ’n sakkie. Wanneer daar tien sakkies was, het sy dit losgetrek en R100 in een sakkie toegehekel. Dis in die kluis bewaar.

In 2008 het Johan hulle gaan sien. Hulle tafel was volgepak van toegehekelde pakkies, elk met R100 in. Hulle het dit oopgemaak en getel. Die kontant het R1 miljoen beloop, wat hy vir hulle belê het.

Oom Danie het in 1974 begin met ’n teelprogram vir jagluiperds; hy was maar die tweede persoon in die wêreld wat jagluiperds in gevangenskap geteel het. Hy het gevind as jy ’n mannetjie en wyfie bymekaarsit, teel hulle nie. Daar moet vier mannetjies wees wat veg om die wyfie, eers daarna sal sy met die wenner paar.

In 1986 het oom Danie hoof van Natuurbewaring in die Vrystaat geword. Hulle was in die Willem Pretorius-wildtuin gestasioneer.

Tannie Pietie is in 2011 oorlede.

Oom Danie het wonderlike stories gehad. Johan het een keer ’n joernalis gevat om met hom te gaan gesels, maar oom Danie was geïntimideer deur die man se bekendheid en wou nie met hom praat nie.

Oom Danie is in 2022 oorlede. Hy het maagkanker gehad en behandeling geweier. Hy het vir die dokter gesê hy verlang na tannie Pietie en wil nou na haar toe gaan.

Hy het 83 jaar oud geword. Hoewel hy ten tyde van sy dood reeds lank afgetree was, was daar ’n skare grootkoppe uit Natuurbewaring op sy begrafnis, sê Johan, wat ook daar was.

Miskien moet ek pad vat en in ouetehuise herinneringe gaan opskryf. Zoom is eenvoudig nie dieselfde nie. Jy moet koffie drink en aan ’n hand of arm kan raak.


This is the solstice, the still point
of the sun, its cusp and midnight,
the year's threshold
and unlocking, where the past
lets go of and becomes the future;
the place of caught breath, the door
of a vanished house left ajar.

– Margaret Atwood

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.