Maak pret een van jou doelwitte vir die jaar

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Maak pret een van jou doelwitte vir die jaar

ANESCA SMITH skryf oor haar jaarlikse besoek aan haar huisdokter in Suid-Afrika en hoekom sy besluit het om meer prettigheid by haar lewe in te sluit. En DEBORAH STEINMAIR vertel meer oor die Vrye Tyd- en Boekestories uit ons jongste uitgawe.

  • 14 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre!

“Wel, jou gewig is nog dieselfde as die vorige keer – dis goeie nuus,” sê die dokter opbeurend. Ek is in sy spreekkamer vir my jaarlikse check-up in Suid-Afrika. Ná 10 jaar vertrou ek steeds nie Nederlandse huisartse nie, want ek móét nog een ontmoet wat jou nie ’n panado voorskryf vir elke klagte onder die son nie.

“Dis heeltemal nie goeie nuus nie, dokter!” stry ek verontwaardig. “Dis tog duidelik dat ek gewig moet verloor.” Dan, beskuldigend: “Hoekom ís ek eintlik oorgewig, dokter? Ek voel nie dis regverdig nie – ek drink heeldag water en fiets heen en weer na my werk.” Ek verswyg die feit dat dit ’n elektriese fiets is.

Die dokter lag en sê: “Man, jy is fine, maar as jy wil, sal ek jou ’n eetplan gee. Probeer om iedere dag ’n lang stuk te gaan wandel en, aangesien jy op die derde verdieping woon, soveel moontlik trappe te klim.”

Hy laat meer oefening doenbaar klink. Nie verpligtend nie, maar gewoon deel van jou daaglikse roetine.

Ek was heeltemal nie van plan om ’n lysie vol Nuwejaarsvoornemens te maak nie. Tot ek Oprah Winfrey ’n paar dae gelede hoor kla dat sy nie kan onthou wanneer sy laas egte, vet pret gehad het nie. En kykers vra wat is hulle idee van pret. Veral as jy al verby die 40- of 50-jaarmerk trek.

Daar en dan besluit ek om pret een van my doelwitte vir die komende jaar te maak. Maar hoe? Yskasmagneet-wyshede soos dance-like-nobody-is-watching en live-laugh-love maak my net depressief.

Gelukkig kom ek binne die eerste paar dae al agter dis eintlik maklik as jy bewus omgaan met die geleenthede wat hom voordoen.

Eergister byvoorbeeld, op ’n road trip, draai ek onbepland af by die see in Kleinmond en spring klere en al in die water met my 70-jarige ma. Ek voel soos ’n nuwe mens. En gister, toe my 10-jarige nefie aan my arm trek om saam met hom albasters in die straat te skiet, twyfel ek geen oomblik nie. Later maak ons ook ’n TikTok-video al springende op die trampolien – trampolienspring is sy gunsteling-TikTok-aktiwiteit. So there you go – ’n goeie begin.

Ander voornemens sluit in om uiteindelik my rybewys in Nederland te haal. Minder nuus en meer boeke te lees. Meer nuttelose TV soos Emily in Paris te kyk. Uiteindelik Star Wars te kyk om te sien waaroor die bohaai gaan.

My minder te laat uitlok deur die kommentaar op sosiale media. Meer drankies drink met ou en nuwe vriende. Voortgaan om regses en rassiste se slegte spelling op sosiale media uit te wys. My af en toe sexy aan te klee sonder om selfbewus daaroor te voel, in plaas van nét prakties – ek staan immers nog nie met een voet in die graf nie. Meer tyd te bestee met die mense vir wie ek lief is. Minder van myself as mens, as vrou, te vra.

Lekker naweek verder

Anesca


Gegroet, mede-hedoniste. Hier is gister se Boeke- en Vrye Tyd-aanbiedings om jou naweek op te kikker. Lekker lees!

BOEKE

Melinda Ferguson voel om die bos gelei deur regerings en instellings. Sy skryf reguit, vreesloos en onderhoudend. Ek het Bamboozled, haar vierde outobiografiese boek, gelees.

Om die bos gebamboozle 


Dis Januarie en Kerneels Breytenbach reik na dieetboeke om die korpulensie te laat wyk. En hy wonder waarom ons so nuuskierig is oor Harry.

Die Januarie-spook pak vir Kerneels beet


Ons hoofredakteur, Max du Preez, het onder die strandsambreel fiksie gelees en wonder waarom sommige Afrikaanse skrywers so slim probeer klink.

Die fobie oor ‘ontspanningsliteratuur’


Lees die eerste aflewering van Gerda Taljaard se aangrypende kortverhaal oor ’n naamlose vrou wat op die strand uitspoel.

Kortverhaal | Aajopuuta


Image: ANGELA TUCK

Ons lesers se bydraes is uit die boonste rak. Stuur jou skryfwerk – soos ’n kortverhaal, gedig, resensie – aan my by deborah.steinmair@gmail.com vir ’n kans om ’n boek te wen. Hierdie week plaas ons twee bydraes.

Jou kreatiewe uitlaatklep


VRYE TYD

Jan Wolmarans se ou swerwersvriend, Habakuk Dorsveld die bultgulper, bepleit ’n nuwe orde waar ons ’n nuwe jaar vier met die aanbreek van die lente.

Nuwejaar hoort in Skeptember


Twee rocksterre gesels – Laureen Rossouw stel 15 vrae aan Ingrid Winterbach.

15 vrae aan Ingrid Winterbach


David Brits vertel aan Anelia Heese hoe hy die oorgeërfde idee van gemilitariseerde manlikheid in sy kuns verwerk.

’n Soutie se moeilike erfenis


Laureen Rossouw reken jy benodig ’n sekere je ne sais quoi vir die luiperdvelmotief. Die grens tussen styl en trashy is hier so dun soos ’n polonieskil.

Leopard print: mooi of afskuwelik?


Peet Steyn het manalleen die 560 km kuslangs van Alexanderbaai tot in Paternoster gestap. Lees die eerste aflewering van sy wedervaringe.

Alleen langs die Diamantkus af

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.