Oor oggendstonde en natuurwonde

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Oor oggendstonde en natuurwonde

ANNELIESE BURGESS raak hartseer oor die natuurwonde in vakansiedorpe, deel ’n gedig, gee soos altyd ’n paar dit-en-dat-aanbevelings en deel goeie nuus!

  • 15 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Molo, liewe vriende

Toe ek jonger was, was ek ’n uitstekende laatslaper. En middagslapie-slaper. Maar iewers het dit verander. Vroeg-vroegoggend is nou my gunstelingtyd. Ek stel ’n wekker en sluip dan stilletjies kombuis toe vir koffie. Gisteroggend kyk ek hoe die eerste pienk van die dag oor Pringlebaai se berge spoel terwyl die res van my mense nog knus in hulle beddens verkeer.

Ek hoop op inspirasie vir vandag se nuusbrief. Ek is half paniekerig. My idees is min. En Elmari wag om te redigeer, Pieter wag om dit te laai, en Angela wag om illustrasies reg te kry. En dit is naweek en ek voel skuldig, maar my kop voel leeg.

Oudkollega Adri Kotzé het Vrydag vir my uit Londen ’n idee gegee, maar ek kon dit nie lekker laat jel nie, so hier sit ek nou, met my gasstoof-koffie (want die krag is natuurlik weer af) en my leë dop.

’n Suidelike waterfiskaal en sy (of haar) vet kuiken sit in die bos voor die dek. Dié bos wat ek destyds van die dekbouers gered het.

Dit is nie ’n besonderse mooi bos nie – klein blaartjies en bonsai-agtig gesnoeide takke. Ek het vanoggend in my fynbosboek daarvoor probeer soek, maar kry dit nie. Wat ek wel weet, is dat die oerbossie lank, lank voor ons hier was, want as die takke oor die afgelope twee dekades van ons geselskap met ’n paar sentimeter gegroei het, is dit baie.

Pringlebaai is lieflik geleë. In die skadu van dramatiese berge en ’n bitter mooi baai. Daar is egter iets aan die respeklose manier waarop ons ons voetspore hier neersit wat my altyd hartseer maak oor Pringlebaai (en vakansiedorpe oor die algemeen). Wat Pringlebaai egter anders maak, is dat dit deel vorm van die eerste Unesco-verklaarde biosfeer in Suider-Afrika. Drie persent (!!!) van die wêreld se plantspesies kom in die Kogelbaai-biosfeer voor, hoewel dit net 0,05% uitmaak van die grondoppervlakte van die ses floraryke waarin die wêreld opgedeel is.

Erf ná erf waar eeue oue fynbos weggeskraap word om vir huise plek te maak. Met heinings. En geplaveide inritte en voortuine en kikoejoe-grasperke. Op my laatmiddagstappie gistermiddag sien ek drie nuwe natuurwonde. Op die hoek van my straat die vieslikste nuwe pronkhuis met ’n hoë muur en elektriese hekke en ’n “tuin” wat van hoek tot kant met gruisklip uitgevoer is.

Teen die berg is daar ook ’n yslike nuwe kwesplek waar ’n massiewe nuwe (vakansie-) huis oprys tussen die puin van wat lyk na ’n dinamiet-ontploffing. Die berg is letterlik oopgeskeur.

En dan, die nuwe kwekery op die dorp. Op ’n “skoongemaakte” (lees: van alle fynbos gereinigde) erf. Waar jy kan plante kan koop vir jóú “skoongemaakte” erf.

So much for living in a biosphere. Bring daai stootskrapers ...

Ek is bly ek het geveg vir die oerbossie, en die res van die lieflike fynbos wat reg rondom my huis asemhaal. Soos vir eeue al.

Daarmee groet ek. Salige Sondag.

Anneliese

annelieseburgess@vryeweekblad.com


Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees! 

Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.


We come in from a downpour
to find it raining indoors.

I don't know how to avoid it-

My body ages,
my anger burns into a seam.

I am so annoyed by love

and still it comes.

– Kate Baer

(Uit: These Days)


Interessant

Hoe ’n klein groepie briljante vriende, in ’n klein Duitse universiteitsdorpie, die grondslag gelê het vir moderne bewustheid (consciousness).

Lees hier: The First Romantics

Podsending

Hierdie episode van Vox’ Unexplainable kyk na hoekom ons huil. Dit begin met die storie van ’n man wat besef hy het vir jare nie gehuil nie en homself uitdaag om een keer ’n dag te huil – en dan verduidelik hy hoekom mense huil. Dit het my herinner aan ’n ander wonderlike aanbeveling van die Weekly Filet: The Topography of Tears 

Esdoringgeheime

Plaatkoekies met spek en esdoringstroop is my dogter se gunsteling-ontbyt (blameer haar Amerikaanse peetma daarvoor). Maar esdoringstroop is vrekduur, en ek het al ’n paar keer ’n botteltjie daarvan weggegooi nadat ek dit tussen al die olies en asyne vergeet het en skimmel bo-op begin groei het. Nou het ek uitgevind jy kan die skimmel eenvoudig afskep en dan die stroop kook! En jy kan esdoringstroop vries!

Lees hier

Luister

Ons gereelde bydraer Jan Horn stuur gisteroggend hierdie opname van Elvis en Lisa Marie Presley aan. Dankie!

Klik hier


Ons hou weer boekefees in Stilbaai!

Maak jou solank reg vir ons tweede Stilbaai-boekefees, wat in die laaste naweek van Februarie (die 24ste tot 26ste) plaasvind. Dit begin die Vrydagaand en eindig die Sondagmiddag. Ek deel volgende week meer besonderhede, maar maak solank ’n aantekening op jou kalender en bespreek solank verblyf!