Parasiete staan in die pad van ’n nuwe kultuur wat hoop kan bring

DIASPORA-DAGBOEK

Parasiete staan in die pad van ’n nuwe kultuur wat hoop kan bring

MAX DU PREEZ sê dis Louis Liebenberg se geld wat dit vir Jacob Zuma moontlik maak om die land se howe te misbruik. WESSEL VAN RENSBURG sê daar is net hoop as mense se koppe geswaai kan word. En soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 17 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Umalusi het die resultate van die 2022-matriekeindeksamen goedgekeur, wat beteken dit sal na verwagting Donderdag deur die minister van basiese onderwys bekendgemaak word. Umalusi het gesê hoewel sommige onreëlmatighede in die eksamens geïdentifiseer is, bring dit nie die integriteit en geloofwaardigheid van die uitslae in die gedrang nie.

2. Lang tye sonder elektrisiteit saai steeds verwoesting in die land. In Johannesburg het City Power ’n toename in kragonderbrekings aangemeld weens verwante probleme soos rugsteunbatterye wat ontlaai. Inwoners in verskeie dele van die land kla ook oor ’n toename in misdaad tydens die langdurige onderbrekings, en in omtrent alle ekonomiese sektore word verdere sluiting van besighede en werkverliese voorspel.

3. Die polisie het gister met rubberkoeëls op ’n oproerige skare in die Johannesburgse middestad geskiet. ’n Dwelmhandelaar is glo vroeër die dag dood nadat hy in reaksie op ’n klopjag sy voorraad ingesluk het om arrestasie te vermy. Woedende inwoners van ’n woonstelblok het aan eNCA gesê die oproer was uit weerwraak weens die dood van “een van ons eie mense”. Verskeie besighede in die omgewing het hulle deure gesluit om skade aan hulle eiendom te probeer verhoed.

4. Verskeie lede van die ou Europese adelstand was gister in Athene byeen vir die begrafnis van die voormalige koning Konstantyn van Griekeland wat verlede week in die ouderdom van 82 oorlede is. Konstantyn was drie jaar lank koning voordat Griekeland vir die afskaffing van die monargie gestem het.

5. ’n Studie deur die Amerikaanse National Bureau of Economic Research dui daarop dat beduidend meer Republikeine as Demokrate in die somer van 2021 – nadat entstowwe algemeen beskikbaar geword het – weens Covid-19 gesterf het. Dit word onder meer toegeskryf aan die verpolitisering van die inentings.


Vandag se weer

Waarskuwings vir hoë brandgevaartoestande in dele van die Noord-Kaap. ’n Hittegolf word in die noordooste van die Oos-Kaap verwag, terwyl enkele buie en donderbuie vir sowel Gqeberha as Oos-Londen voorspel word. Andersins meestal mooi weer tot bewolk.

Klik hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 30°C • Rustenburg 31°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 31°C • Durban 34°C • Paarl 36°C • Oudtshoorn 40°C • Bloemfontein 35°C • Polokwane 27°C • Upington 41°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 28°C.


Max du Preez | Regters moet stem dik maak oor misbruik van howe as politieke wapen

Die blatante misbruik van die howe as ’n politieke wapen is ’n onding wat die regbank ondermyn. Dit is dalk tyd dat ’n regter of regters hulle sterk daaroor uitspreek.

Dié misbruik is nie ’n nuutjie nie. Die laaste apartheidsregerings het byvoorbeeld ook die howe as politieke instrument gebruik toe die oorspronklike Vrye Weekblad herhaaldelik van onbenullighede aangekla is, bloot om die koerant te intimideer, te diskrediteer en sy hulpbronne uit te put.

Maar ’n duideliker geval hiervan as Jacob Zuma se beoogde private vervolging van pres. Cyril Ramaphosa is daar nie.

Zuma het knap voor Desember se ANC-verkiesingskonferensie dokumente op Ramaphosa bedien dat hy privaat vervolg gaan word omdat hy nagelaat het om op te tree toe ’n staatsaanklaer kwansuis sy privaat mediese rekords aan die media gelek het. Zuma se privaat vervolging van dié aanklaer, adv. Billy Downer SC, en die joernalis Karyn Maughan dien binnekort voor die hof.

Zuma wou duidelik hê die ANC se reël van aangeklaagdes wat uit hulle posisies moet opsy staan, moes inskop en dat hy van Ramaphosa as Beskuldigde Nommer Een kon praat.

’n Laerskoolkind sou kon insien dat Ramaphosa geen jurisdiksie oor die vervolgingsgesag of dié se amptenare het nie en dat Zuma in elk geval tot ná die vervolging van Downer en Maughan behoort te gewag het om Ramaphosa aan te kla.

Die Gautengse hooggeregshof het gister ’n tussentydse interdik aan Ramaphosa toegestaan wat beteken hy hoef nie Donderdag in die beskuldigdebank te gaan staan nie.

Regters Roland Sutherland, Marcus Senyatsi en Edwin Molahlehi het bevind dat Ramaphosa nie ’n ander uitweg as ’n interdik gehad het nie en ’n prima facie-saak bewys het dat sy regte op persoonlike vryheid geskend sou gewees het as hy in die beskuldigdebank moes gaan staan, maar die saak self het geen meriete nie en is gebring deur iemand wat nie geregtig is om hom te vervolg nie.

Ramaphosa se reg op vryheid sou in so ’n geval geskend gewees het, terwyl ’n uitstel van sy vervolging geen kwaad aan Zuma sou doen nie.

Die man wat die laaste paar jaar al deur sy teatraliteit en politieke vertoon groot skade aan die regbank aangerig het, Dali Mpofu SC, was laas week weer op sy retoriese stukke toe hy die saak vuriglik namens Zuma betoog het en die RET-magte het hom toegejuig. En toe, soos meestal met sy politieke sake gebeur, val al sy argumente plat, soos dit waarskynlik ook gaan gebeur wanneer die hof later oor die meriete van Zuma se beoogde vervolging beslis.

Ek het dit op goeie gesag dat ’n substansiële deel van Zuma se regskoste deur die aartsrassis en diamanthandelaar Louis Liebenberg gedra word. Sy ander skenkers is waarskynlik ewe verdag. Zuma is te diep in die skuld om al sy regskoste self te dra, wat al baie miljoene rande beloop. Sy hofsaak op aanklagte van korrupsie wat al baie jare lank sloer, moet binne enkele maande hervat.

Lees gister se volledige uitspraak hier.


Image: ANGELA TUCK

Wessel van Rensburg | ’n (Bitter)sweet paradise

Ek en my vriende het vanoggend notas oor die weer in ons WhatsApp-groep. Ons grys winter in Noord-Europa is die natste in jare – en was in skrille kontras met die briljante sonskynfoto’s van Vishoek, Hangklip en eindelose swembadseisoene.

Ek het myself getroos: Op Twitter kerm Suid-Afrikaners oor fase 6-beurtkrag terwyl die nuus hier by ons is dat die matige winter in die Noordelike Halfrond dramaties laer aardgaspryse beteken, en dus ook laer elektrisiteitspryse. Daarmee saam sal inflasie die Europese Sentrale Bank se teiken van 2% al einde vanjaar bereik, eerder as in 2025 soos oorspronklik voorspel is. Europa kan ’n resessie heeltemal vermy.

Die Verenigde Koninkryk (waar ek is) is nie heeltemal so gelukkig nie. Dit is die enigste G7-land waarvan die ekonomie steeds kleiner is as voor die pandemie. In daardie opsig nie anders as die Republiek nie. Stadig breek die besef op hierdie modderige eiland aan dat die kenners tog reg was: Om handelsversperrings met jou naaste en grootste handelsvennoot te hê verhoog wel koste, terwyl die einde van die vrye beweging van mense ’n gebrek aan werkers in laer geskoolde poste vererger het. Die VK het gevolglik die hoogste inflasie onder sy eweknieë.

En die Britse huismark steier nou onder die nalatenskap van ons “weekend special”-premier, Liz Truss. ’n Engelsman se huis is hulle kasteel. Hier rond is om te lol met huispryse erger as om iemand op hul ateljee aan te raak. Die bui is dus somber, en die VK is die mees waarskynlike land in die geweste om nog ’n resessie op die horison te hê.

Alles is relatief. Die afgelope Desember op Elandsbaai betrap my kleinniggie my onkant: “Hoe kan ons Suid-Afrika red, oom?”

Ek het ’n baie lang antwoord op dié vraag, want ek het jare lank daaroor gedink. Tewens, ek ken nie ’n enkele emigrant wat nie diep oor die vraag besin het nie. “Dit is hopeloos,” het ek geprewel, half verleë.

Gepols oor hoekom ek so sê, het ek probeer verduidelik. Die krisis in Suid-Afrika word gereeld beskryf as ’n stryd tussen linkse en regse ideologieë wat met alledaagse politiek opgelos sal word. Myns insiens kan Suid-Afrika beslis baat vind by ’n mate van markliberalisering in spesifieke sektore, maar die werklike probleem is die gebrek aan ’n effektiewe en sterk staat wat funksionerende markte – en alles en nog wat wat daarmee saamgaan – waarborg.

Tog is my analise nie ’n linkse diagnose nie; dit is Weberiaans. Die Suid-Afrikaanse probleem lê meer op die terrein van kultuur as beleid. En alhoewel kultuur ’n bietjie hoop bied (dit is immers nie so ’n vaste kategorie soos ras nie), is kultuur geweldig moeilik om te verander. En die Republiek se parasitiese elites stel nie belang daarin om dit te verander nie.

Terwyl ons die naweek in Hackney saam met ’n paar Suid-Afrikaners om die tafel gesit het, van wie verskeie oor Kersfees terug by die huis was, het ons ons verwonder oor hoe ongelooflik ons besoeke was. Wat ’n wonderlike plek is dit nie, was ons almal dit eens, Suid-Afrika se natuurlike skoonheid sowel as haar mense. En ons was eenstemmig dat ons voel ons kan nou dieper kyk nadat ons baie jare weg was. Tyd het ons van ons bagasie bevry (en van Suid-Afrika se alledaagse beslommernisse).

Tog lyk sonnige Suid-Afrika van ver af beskou steeds na ’n “(bitter)sweet paradise”.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Adam en Eva

Eers toe die neerlaag en die nuwe leed
die dwase vreugde uit hul oë wis
het hul mekaar aanskou, het sy geweet
hoe sterk die man, en hy hoe skoon sy is

Verbanne bondgenote teen die lot:
sy arms om haar was 'n vaste kring,
en selfs die toorn en die wraak van God
kon nie deur daardie vesting dring.

– Elisabeth Eybers

(Uit: Gedigte 1936-1958)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.