Damn right die groenes staan in die pad van dié ‘vooruitgang’

WOENSDAG MET WILLEM

Damn right die groenes staan in die pad van dié ‘vooruitgang’

ANNELIESE BURGESS skryf oor die hidrobrekingsbrigade wat meen die groenes wil hul planne weens ‘ideologiese oorwegings’ in die wiele ry. WILLEM KEMPEN sê beurtkrag saai selfs in die ‘sub-informele sektor’ verwoesting. En soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy wil weet.

  • 18 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. Die amptelike dodetal op die land se paaie in die feestyd oor Desember was 1 451, het die minister van vervoer, Fikile Mbalula, bekendgemaak. Dit is 13,9% laer as die vorige jaar en verteenwoordig “beduidende vordering”, het Mbalula gesê.

2. Verdere waterbeperkings wag dalk op Gautengers. Rand Water sê die kombinasie van hoë temperature en dus verdamping asook beperkte pompvermoë weens beurtkrag het gelei tot ’n daling in waterreserwes tot onder die gewenste vlakke.

3. Sheba, die tierwyfie wat die naweek uit aanhouding in die Walkerville-omgewing suid van Johannesburg ontsnap het, het teruggekeer na waar sy aangehou is, maar weer ontsnap voordat sy aangekeer kon word. Die 39-jarige William Mokoena is Saterdagaand deur Sheba aangeval, maar kon wegkom en herstel tans in die Kopanong-kliniek van beserings aan albei sy bene. Mokoena het volgens eNCA met regstappe teen Sheba se eienaar begin.

4. China se amptelike bevolking het vir die eerste keer in meer as 60 jaar gedaal. Volgens die Chinese nasionale statistiekdiens was die land se bevolking einde verlede jaar 1 411 750 000 oftewel byna 1,5 biljoen (1,5 duisend miljoen) mense, ’n afname van 850 000 sedert die einde van 2021. Hoewel China steeds die wêreld se grootste bevolking het, beteken dié syfers dat die land op ’n demografiese krisis afstuur. Die lae aanwaskoers en die groter persentasie ouer mense kan beteken dat China in die toekoms gaan sukkel om genoeg mense van werkende ouderdom te hê om sy ekonomie aan die groei te hou.

5. Italië se mees gesoekte Mafiabaas, die gevreesde Matteo Messina Denaro, is oplaas aangekeer nadat hy vir langer as drie dekades voortvlugtig was. Denaro het by geleentheid gespog dat hy eiehandig genoeg mense vermoor het om ’n begraafplaas vol te maak. Hy was die baas van die Cosa Nostra in die Siciliaanse provinsie Trapani, waar hy as hoof van die Castelvetrano-familie in ’n alliansie was met die Corleonesi-familie, ook bekend as die Corleone-familie, wat in The Godfather verewig is. Denaro is by ’n kliniek in Palermo gearresteer waar hy glo vir kanker behandel is.


Kyk weer ...

Hoë brandgevaartoestande word vir dele van die Noord-Kaap en Noordwes voorspel. ’n Hittegolf word in die noordelike dele van die Wes- en Oos-Kaap, asook KwaZulu-Natal verwag. Enkele buie en donderbuie word oor Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat verwag.

Klik hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 31°C • Johannesburg 29°C • Polokwane 28°C • Mbombela 29°C • Upington 40°C • Bloemfontein 35°C • Kaapstad 26°C • George 28°C • Worcester 32°C • Durban 30°C • Gqeberha 28°C.


Anneliese Burgess | Energiekrisis gee fossielbrandstof-aanhangers nuwe woema

Die energiekrisis in Suid-Afrika het ons almal lam. Maar dit gee ook vars suurstof aan die happy clappies in die fossielbrandstofbrigade – meer spesifiek, nou onlangs, die hidrobrekingsbrigade.

Dr. Phindile Masangane, uitvoerende hoof van die Petroleumagentskap van Suid-Afrika, sê PetroSA sal binnekort sy jongste modellerings van die Karoo se skaliegasreserwes bekendmaak, en dat dit sommer baie opwindend is. In hierdie onderhoud stel sy voor ons kry so “gou as moontlik ’n boor in die grond”.

Tien dae gelede was dit Rob Hersov (“uitgesproke entrepreneur”) op dieselfde Biznews-platform wat passievol voorbrand maak vir fossielbrandstof. Groter! Beter! Dieper! En hoera vir Mantashe!

“We can have energy independence in my lifetime and be energy exporters again, and Gwede’s right. Now, where he’s wrong is that he seems to be afraid of the international green agenda. And he needed Barbara Creecy and my buddy Enoch Godongwana to stand shoulder to shoulder with him and say to the international community – stuff you ...”

Ek gaan vir nou niks sê oor die neerhalende “my buddy”-verwysing na Suid-Afrika se minister van finansies nie (ek wonder of Godongwana ook dink Hersov is sy maatjie?), want ek wil eintlik by ’n ander minagting uitkom. Vir die groenes. Jy weet, dié van ons wat nie ontken dat klimaatsverandering gebeur nie. En wat ’n toekoms vir ons kinders en kleinkinders op hierdie planeet wil hê.

Let’s just tell the international funders of the greenie activists to stuff off,” sê ou Rob.

Ons buddy Hersov praat van “carbon hypocrisy”, en die “imperialism of the developed world” en sê “ons moet koolstof-apartheid” terugbring.

En dis nie net Hersov nie. Masangane is net so bekommerd oor die groenes wat in die pad van groei en vooruitgang staan. Julle sal onthou dat daar destyds ’n moratorium op skaliegasontginning in die Karoo geplaas is weens kommer oor die impak op die omgewing – veral op ondergrondse watertafels in dié dorre halfwoestyn.

Masangane sê sy is bekommerd dat die tipe “ideologiese” oorwegings nou weer die blink nuwe plan vir hidrobreking in die wiele gaan ry.

“[My] biggest concern on a personal basis is that sometimes people take us to court just because of their ideological beliefs.”

Want dit gaan alles geweldig verantwoordelik gedoen word. Niemand hoef enigsins bekommerd te wees nie. Die departement van waterwese “het selfs nuwe regulasies wat sê hoe ons die omgewing moet hanteer, en water moet hanteer, sodat ons skaliegasontginning en -produksie die minimum impak op die omgewing het”.

Die ideologiese groenie in my voel sommer gerus nou dat ek weet ons departement het riglyne in werking. Alles gaan fine wees. So fine soos Mpumalanga waar roekelose steenkoolmynontginning vleilande en riviere vergiftig het. Die departement wat blind gestaan het vir die ekologiese katastrofe daar? Daai departement?


Image: ANGELA TUCK

Willem Kempen | Soms is die son jou vriend as die krag af is, soms nie

Ek ry gisteroggend gou om ’n nuwe battery te gaan koop om my Wi-Fi by die huis aan die gang te hou. Met die lang kragonderbrekings van fase 6 is dit onvermydelik dat al wat battery is heeltemal ontlaai, en dan kan mens maar weet dis ’n kwessie van tyd voor hulle inkonk.

Langs ’n groot kruising naby die mall sien ek twee bedelaars in die karige koelte van ’n verrinneweerde boompie sit. Hulle bedelborde is opgevou en met die handgeskrewe oranje bewoording na buite teen die boompie staangemaak, maar ek kan nie uitmaak presies wat daarop staan nie.

Sou hulle net ’n bietjie uit die skroeiende son wou wegkom voor hulle weer aan diens gaan, wonder ek.

Dan besef ek: Nee, dis oor die krag af is dat hulle daar sit. Want as die krag af is, werk die verkeersligte ook nie, en die kruising word dan ’n vierrigtingstop. En sonder motoriste wat by ’n rooi lig moet sit en wag, word die bedelry ’n bietjie van ’n uitdaging, soos hulle sê.

Beurtkrag saai selfs in die “sub-informele sektor” verwoesting ...

Die verkoopsmense by die winkel waar ek my battery gaan koop het, het nie dieselfde probleem as die bedelaars nie. Vir hulle is die son nie iets waarteen mens hoef skuiling te soek nie, want daar is ’n dak oor hulle koppe en beligting en lugversorging en kasregisters wat aan die gang bly selfs al is die krag af daar buite. Trouens, die sonpanele lê ingeryg op die mall se dak sodat hulle almal nie nét op die diesel-kragopwekkers hoef staat te maak nie. Nog minder op Eskom.

Aan die ander kant van dieselfde mall is daar ’n ander groot kruising, een wat selfs besiger is as die een waar die bedelry tot stilstand gekom het. Dié een se verkeersligte is gewoonlik nie af tydens beurtkrag nie. Dalk het die mall ’n plan gemaak sodat kliënte nie nog met verkeersknope ook hoef te sukkel nie, ek weet nie.

En omdat die verkeersligte werk, is die bedelaars dáár ook druk aan die werk. Niks se gewegkruip vir die son vir húlle nie. Om die waarheid te sê, ek sal nie verbaas wees as hulle béter vaar as ander tye nie, danksy almal wat hulle jammer kry oor hulle dink dis oor beurtkrag wat hulle tot bedel gedwing is.

Nou wonder ek oor die politics van die hele affêre. Dit lyk kompleet of sommige bedelaars net by sekere kruisings hulle ding doen. Ander moet tevrede wees met iewers waar dit minder besig is of waar die geld opdroog as die krag af is.

Gaan dit oor wie jy ken? Of watse gunsies jy bereid is om vir iemand te doen? Of wat jy bereid is om áán iemand te doen wat nie wil saamwerk nie? Of hoekom is dit dat sommige beggars dan ook choosers kan wees? Tot wie se voordeel is dit dat sommige dinge nié gedoen word nie, soos om verkeersligte aan te pas om met sonkrag te werk?

Of om alles te doen wat nodig is sodat die land weer betroubare en bekostigbare elektrisiteit kan hê?


Rysmiere

Die reën het ons die dag verras;
en toe, meteens teen sononder
borrel rysmiere uit die gras
o, wonder

Lank sal dit ons gedagtes hinder:
die fladdering van vlerke, sagte,
ontliggaamde wit hande
wat vlug uit die graftes van die nag.

– Barend Toerien

(Uit: Om te onthou)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.