Oor wakker tiere en hans kameelperde

DONDERDAG MET DEBORAH

Oor wakker tiere en hans kameelperde

MAX DU PREEZ skryf oor Sheba, die ontsnapte tierwyfie van Johannesburg wat van kant gemaak is; DEBORAH STEINMAIR vertel van ’n koketterige kameelperd; en daar is soos gewoonlik vyf dinge wat jy wil weet.

  • 19 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Suid-Afrika se amptelike verbruikersinflasie het in Desember tot 7,2% gedaal, maar ekonome meen dis steeds nie genoeg om die Reserwebank te oortuig om nie volgende week hoër uitleenkoerse aan te kondig nie. Vervoer en voedsel (laasgenoemde was 12,7% in Desember) lewer steeds die grootste bydrae tot die algehele inflasiekoers.

2. Die Gupta-broers Atul en Rajesh word steeds in Dubai aangehou, ses maande nadat hulle daar gearresteer is in die hoop dat hulle aan Suid-Afrika uitgelewer sal word. Justisiebeamptes in die Verenigde Arabiese Emirate sê hulle wag steeds op “verdere inligting” voordat ’n uitleweringsverhoor sal kan plaasvind.

3. Lucile Randon, die Franse non wat sover bekend die wêreld se oudste mens was, is in ’n versorgingsoord in Toulon oorlede, enkele weke voordat sy 119 sou word. Suster André, soos sy bekend was, is op 11 Februarie 1904 in Ales in die suide van Frankryk gebore. Sy het ook in 2021 opslae gemaak toe sy positief getoets het vir Covid-19, maar feitlik geen simptome getoon het nie en gou herstel het.

4. Zimbabwe se Citizens Coalition for Changedie Zanu-PF-regering probeer om opposisiepartye te onderdruk in die aanloop tot nasionale verkiesings later vanjaar nadat 25 van sy lede, insluitende ’n parlementslid, gister in die hof in Harare verskyn het. Die 25 is Saterdag gearresteer omdat hulle glo ’n onwettige byeenkoms gehou en mense tot geweld aangehits het.

5. Saoedi-Arabië wil sy afhanklikheid van inkomste uit olie afskaal, het Faisal Al-Ibrahim, die land se minister van ekonomiese sake, by die byeenkoms van die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, gesê. Saoedi-Arabië het sy geweldige ekonomiese groei oor dekades aan sy oorvloed ruolie te danke, maar probeer sy ekonomie diversifiseer te midde van die groeiende weerstand teen die verbranding van fossielbrandstowwe.


Weersake

Mooi weer tot gedeeltelik bewolk oor die grootste deel van die land. Enkele buie en donderbuie word in dele van die Oos-Kaap en Vrystaat verwag. Hoë brandgevaartoestande word ook in dele van die Noord-Kaap en Noordwes verwag.

Klik hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 30°C • Johannesburg 28°C • Rustenburg 32°C • Mbombela 32°C • Kaapstad 26°C • Durban 32°C • Howick 33°C • Bloemfontein 34°C • Polokwane 30°C • Upington 39°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 27°C.


Max du Preez | Sheba: ’n Tier hoort nie in jou agterplaas nie

Daar ís toe tiere in Afrika.

Die agtjarige tierwyfie Sheba het die gebied suid van Johannesburg dae lank op hol gehad nadat sy uit aanhouding ontsnap het. Sy het ’n werker van die omgewing, William Mokoena, aangeval en twee honde doodgebyt voor sy uiteindelik van kant gemaak is.

Sheba het my laat terugdink aan ’n perskonferensie wat PW Botha in 1997 in die landdroshof in George gehou het. Hy is aangekla omdat hy geweier het om voor die Waarheid-en-versoeningskommissie te getuig.

Daar was ’n woelige skrum van media van oraloor die wêreld by die verhoor. Nadat die hof verdaag het, het PW ’n impromptu perskonferensie gehou. Ná ’n lang tyd buite die politiek (in die Wildernis, om presies te wees) het hy duidelik die media-aandag geniet en was weer op sy dreigende, vingerswaaiende beste.

Die ANC-regering en die WVK “moenie die tier in die Afrikaner wakkermaak nie”, het hy getier.

Ek het na aan hom gestaan en vir hom gesê: “Maar meneer, daar is mos nie tiere in Afrika nie?” Slimjannie, ek.

PW het nie ’n oomblik gehuiwer nie en dreigend voor my kom staan en met die vinger teen my bors getik. As ek gedink het die oubaas was half kêns, was ek verkeerd.

“Ja, maar as daar tiere in Afrika was, sou jy nie een van hulle gewees het nie,” sê hy vir my. PW 1, Max 0.

Hy het dit vir my in Afrikaans gesê, en die vele oorsese nuusspanne was gretig om uit te vind waaroor dié mini-broedertwis gaan.

PW tik my toe weer ’n slag op die bors en sê op Engels vir die TV-kameras: “Hierdie man maak al sy hele lewe lank moeilikheid vir almal.”

Al wat ek kon sê, was: “Dankie, meneer Botha, jy sê die mooiste goed oor my.”

Terug by Sheba.

Ek het Dinsdag op sosiale media gesien hoe die tier se eienaar, ene Rassie Erasmus, probeer om ’n persfotograaf aan te rand.

Ek ken die man van g’n kant af nie, maar ek het my vooroordele oor iemand wat ’n manjifieke dier soos ’n tier in sy agterplaas aanhou – dalk net die tipe wat joernaliste wil bykom.

Tiere – en leeus, luiperds en ander jagdiere – hoort nie in hokke of kampe in mense se agterplase nie. Wie het vir die man ’n permit daarvoor gegee, en hoekom?

Vele tienduisende rande en baie werksure is gemors met polisie, wildvangers, skerpskutters, ambulanse, inwoners van die omgewing en ’n helikopter wat by die soektog betrek is.

Ek hoop die Wet van Transvaal gaan ou Rassie hard tref.


Image: ANGELA TUCK

Jagmaat met die mooiste wimpers

By Johan Wessels, my bron van stories, hoor ek die verhaal van ’n uitsonderlike jagervaring.

Dit was op ’n boer se plaas naby Mahikeng. Johan is te voet, met ’n .243 Musgrave. Hy wil ’n rooibokram skiet. Hy sien ooie en jong ramme, maar nie die tropram nie. Hy lê geduldig en wag. Iets snork en die trop spat uitmekaar.

Hy kom regop. Skielik tref ’n ding hom van agter in die rug, met soveel geweld dat hy vorentoe steier. Hy draai om, gereed om homself te verdedig. Daar staan ’n kameelperd en beskou hom uit die hoogte. Hy besef die .243 is te lig om die dier te skiet. Hulle bekyk mekaar. Die kameelperd se lang wimpers knipper amper koketterig. Hy draai sy kop en met sy lang tong pluk hy ’n bek vol blare en kou nadenkend terwyl hy Johan bekyk. Sy pote is so groot soos sopborde. Hy is nie vyandig nie.

Johan korrel met die .243 se loop en krap hom op sy blad. Die dier hou skynbaar van die aandag en staan nader vir nog. Johan krap hom toe met die hand waar hy kan bykom, groet en stap weg.

Die kameelperd stap agterna. Johan kry hom nie afgeskud nie en besef toe: Hy kan onder die dier se voorbene die rooibokke ongesiens nader. Hulle vorder versigtig tot omtrent 50 meter van die tropram en twee ander volwasse ramme. By die kameelperd se voorpote lig Johan die .243. Die kruishaar suig vas agter die tropram se blad. As hy die sneller trek, is daai bok syne.

Maar skielik besef hy: As die skoot tussen die kameelperd se voorbene afgaan, skrik hy hom waarskynlik simpel en skop Johan met een van daai sopborde morsdood. Dit was skaakmat. Hy hang die geweer maar weer oor sy skouer, krap sy nuwe vriend se bene en saam wandel hulle die res van die dag verby koedoes, blesbokke en allerlei boksoorte wat rustig wei.

Agtermiddag volg die kameelperd hom tot by die hek van die kamp en bly net daar staan. Die boer kom nader, gee die dier ’n bossie wortels en krap hom ook. Glimlaggend sê hy: “Ek moes jou gewaarsku het. Ons het die kameelperd hans grootgemaak en in die veld vrygelaat. Nou soek hy net ’n mens in die veld en loop dan die hele dag agter hulle aan.”

Dis nou 36 jaar later en hy het nog nooit ’n rooibokram geskiet nie, sê Johan. Ná sy wonderlike ervaring is dit nie meer belangrik nie.


Langerietvlei

Langs die spruit groei wit populiere
groot uit die moederbos en opslag,
maar een jaar verkoop oom Ben alles
aan ’n vuurhoutjiefabriek en kap
moederbos en opslag in hul moer.
Van toe af groei daar net opslag wild
om skaars hoekpale van te kan sak
vir die spogplaas waar dié Marais’s uitboer

– Johann Lodewyk Marais

(Uit: Palimpses)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.