Rybewyse help met bemagtiging, gelykheid en onafhanklikheid van vroue

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Rybewyse help met bemagtiging, gelykheid en onafhanklikheid van vroue

Die vermoë om te bestuur het haar ma in die laat 1970’s te midde van die vrou-onvriendelike wette van apartheid help bemagtig, skryf ANESCA SMITH. En DEBORAH STEINMAIR vertel meer oor hierdie week se Boeke- en Vrye Tyd-stories. Lekker lees!

  • 28 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 5 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre!

’n Paar dae ná sy 26ste verjaarsdag sterf my pa skielik. Nie op ’n motorfiets soos mense hom dikwels oor sy stokperdjie gewaarsku het nie, maar as timmerman besig om te werk aan ’n nuwe gebou by die Universiteit Stellenbosch. Op 31 Augustus 1976 het hy van die gebou se dak getuimel, teen 1 September was hy dood.

Die vrou-onvriendelike wette van apartheid laat sy swanger vrou, my ma, in ’n dilemma. Betaalde swangerskapsverlof het nie bestaan nie; dus moes sy noodgedwonge haar werk as onderwyseres los en was ’n paar maande sonder inkomste. Ander toegepaste reëls – wat vandag belaglik klink – was dat jy as vrou nie ’n permanente onderwyspos kon kry as jy pas getroud was of as jy oorgewig was nie.

As jong kind was ek sieklik en dit het vele doktersbesoeke beteken. Ongelukkig was daar geen dokter op die dorp nie, so my ma moes elke keer iemand huur om ons na die buurdorp, Porterville, te ry. Dis toe dat sy besluit om haar rybewys te kry. Met behulp van ou Mister May en ’n vriend, Bernard Zimri, wat haar met groot geduld geleer het om te bestuur.

En dis hoe my ma in die laat jare sewentig die eerste vrou op die dorp geword het wat haar rybewys behaal het en, glo ek, een van die min swart vroue in daardie tyd met ’n rybewys. Merkwaardig, veral as jy na vandag se statistieke rondom rybewyse kyk wat sy eie prentjie oor (on)bemagtiging in Suid-Afrika skets.

Volgens ’n verslag van Statistieke Suid-Afrika, “Gender Patterns in Transport, 2013-2020”, wat in 2021 uitgereik is, was net 21,8% van vroue in Suid-Afrika in 2020 in besit van ’n rybewys, vergeleke met 40,1% van mans. Onder swart vroue spesifiek kan net 13,4% bestuur – vér agter vroue van ander rassegroepe.

Toegang tot vervoer speel ’n belangrike rol in die bemagtiging van vroue en om gelykheid te bewerkstellig, lui die verslag verder.

Dink maar aan al die vroue wat van openbare vervoer afhanklik is vir byvoorbeeld hulle werk of vir toegang tot gesondheidsdienste. Nog erger, sommige moet die meeste van die tyd loop waar hulle wil wees. Moet wees. Om kos op die tafel te sit. Met alle gevare wat dit meebring, soos seksuele teistering en geweld.

As daar maar meer Mister Mays en Bernard Zimri’s was om vroue te leer bestuur. Hulle het gehelp om my ma onafhanklik te maak en sy kon op haar beurt weer my bemagtig en andere help – daar was altyd mense wat aan ons deur kom klop het, soms in die middel van die nag, om te vra dat my ma hulle na die dokter of êrens anders heen neem.

My ma het my al vroeg in my tienerjare leer bestuur, met die gevolg dat ek op 18, met my eerste probeerslag, my rybewys gekry het. Dit was ’n vaardigheid wat ongetwyfeld die deurslag gegee het toe ek aansoek doen vir my eerste werk by Die Burger. Toe ek sien hoe van my bruin kollegas by die koerant sukkel om hulle rybewys te kry, het ek vir die eerste keer besef watter verskil dit maak om dié mylpaal te behaal as daar ’n voertuig in die huishouding is.

Wat my pa betref, dié was volgens alle verhale ’n lieverd en hy sou trots gewees het op sy vrou.

They are waiting for me somewhere beyond Eden Rock
My father, twenty-five, in the same suit
Of Genuine Irish Tweed, his terrier Jack
Still two years old and trembling at his feet.

My mother, twenty-three, in a sprigged dress
Drawn at the waist, ribbon in her straw hat.

 They beckon to me from the other bank.
I hear them call, ‘See where the stream-path is!
Crossing is not as hard as you might think.’

– Uit “Eden Rock”, deur Charles Causley


Vrye Weekblad se tweede Stilbaai-boekefees vind die laaste naweek van Februarie plaas. Bespreek nou terwyl daar nog kaartjies beskikbaar is! Kliek hier om op die Quicket-besprekingsblad uit te kom.


Van ballerinas en hekse tot ’n bibliobibuli (wat is dit?), ’n onderbroekzombie en ’n pokkel wat pikkel. Maak dit jou nuuskierig? Lees gerus verder aan ons aanbieding van lekkerlees-stories.


BOEKE

Deborah Steinmair het gelees oor vroue wat dans en toor en wat hulle ook al doen, hulle doen dit met flair en daadkrag.

Van ballerinas en hekse


Joan Hambidge is ’n bibliobibuli; dit beteken sy laat haar nie boelie om boeke uit te leen nie.

Sy raak hoenderkop op boeke


Ons superleser Kerneels Breytenbach bespied die horison en soek vir ons kraakvars leesstof uit, van oraloor. 

Ons smulpaap kies die sappigste oes


Ons lesers het hope talent. Verlustig jou in ’n kortverhaal deur Emmie Bedeker en gedigte deur Martin Stephens en Igno van Niekerk. 

Stuur julle bydraes aan deborah.steinmair@google.com en jy kan ’n boek wen.

VWB se lesers het talent


VRYE TYD

Haar hart breek maklik, en sy hou van draairoomys en Afrikaans, vertel Mercy vir Elna van der Merwe.

15 vrae aan Mercy Kannemeyer


Beer Adriaanse het Steven Spielberg-drome gehad. Hy het nederig begin as ekstra en goed gevorder tot featured ekstra. Maar die dag toe hy as Onderbroekzombie ingespan is, was ’n knakker vir sy filmdrome.

Die gruwelike avonture van Onderbroekzombie


Zirk van den Berg vertel van pikkelbal, die nuwe sport wat hom van hierdie pokkel in ’n prins gaan laat verander.

Van pieperig tot ’n pokkel wat pikkel


Dis die laaste skof van Peet Steyn se staptog van 560 km kuslangs tussen Alexanderbaai en Paternoster. Nou verlang hy huis toe en vat so ’n bietjie kortpad in ’n myntrok.

Hondeklip en huis toe met ’n Spotify-speellys


Louis de Villiers skryf die goeie ou dae was nie altyd so goed nie – dit moet Wynand Claassen maar onthou – maar die dood van Gerrie Coetzee laat hom wel verlang na sy kinderdae.

Gerrie is dood, lank lewe nostalgie

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.