Toerisme, landbou in ou ‘tuislande’ kan mense uit armoede ruk

MAANDAG MET MAX

Toerisme, landbou in ou ‘tuislande’ kan mense uit armoede ruk

Soms moet politieke partye maar kompromieë aangaan om die ANC/EFF en hulle meelopers uit die mag te hou, meen MAX DU PREEZ. Hy skryf ook oor sy droom om die insinking en verval in dele van ons pragtige land om te keer.

  • 30 Januarie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Die geskorste regter-president van die Wes-Kaap, regter John Hlophe, word nou deur ’n nuwe aanklag in die gesig gestaar. Hy het glo aan adv. Anda Njeza gesê hy moet aan sy kliënt sê om te “fuck off”. Dié kliënt wou aansoek doen dat die polisie sy vuurwapen teruggee, maar die regter het glo gesê as die saak voor hom dien, sal hy dit met koste van die hand wys. Hlophe word reeds deur twee vroeëre impeachment-ondersoeke in die gesig gestaar.

2. Die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC het ’n nuwe dagbestuur gekies wat glo heeltemal deur Ramaphosa-ondersteuners beheer word. Die dagbestuur bestaan uit 20 lede van die NUK, die topsewe-ampsdraers, die ANC se woordvoerder en die leiers van die drie ANC-ligas.

3. Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, sê die omstrede Karpowership-skip wat noodkrag uit gas opwek, kan dalk nou ’n werklikheid word as die gekontrakteerde termyn van 20 na 10 jaar verminder word.

4. Die Britse premier, Rishi Sunak, het die voorsitter van die Konserwatiewe Party en lid van sy kabinet, Nadhim Zahawi, afgedank weens ongerymdhede met sy belastingsake toe hy minister van finansies was. Zahawi is in Irak gebore en het as kind na Brittanje geïmmigreer.

5. Die gemoedere loop hoog in Memphis nadat video’s wat wys hoe vyf polisiemanne vir Tyre Nichols wreed aanrand, vrygestel is. Die polisiemanne, ook almal swart, is afgedank en word van moord aangekla. Memphis se polisie het die eenheid waarvan die polisiemanne lede was, die Scorpions, die naweek ontbind. Scorpion staan vir Street Crimes Operation to Restore Peace in Our Neighborhoods.


Vandag se weer

Waarskuwings van swaar donderbuie en reën wat tot moontlike oorstromings kan lei in dele van Gauteng, die Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 25°C • Rustenburg 27°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 29°C • Durban 23°C • Worcester 31°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 25°C • Upington 39°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 24°C.


Max du Preez | Die ‘enigste bul in die kraal’-nonsens moet einde kry

Dit klink na ’n maklike keuse: Kies beginsel en beleid bo mag.

Dis wat die DA sê hy in Johannesburg gedoen het toe hy die Patriotic Alliance (PA) in die arms van die ANC gejaag het. Die PA kan nie met die portefeulje ekonomiese ontwikkeling vertrou word nie en is in elk geval onbetroubaar, sê die DA, en die gevolg was dat ’n knaap van ’n minuskule Moslemparty en ’n bedenklike politieke agtergrond vandag die burgemeester van ons grootste metro is.

Al Jama-ah, burgemeester Thapelo Amad se party, en Cope, speaker Colleen Makhubele se party, kon saam net ’n miserabele 21 000 stemme in die laaste verkiesing trek, elk minder as 1% van die stem. En nou is hulle aangewys om die kitaar te slaan.

Die skuif is die eerste in ’n duidelike strategie vir die ANC en die EFF om ’n alliansie te vorm en uiteindelik ook Tshwane en Ekurhuleni oor te neem. Mogale City en Wes-Rand is ook deel van dié strategie. Ekurhuleni, die ou Oos-Rand, gaan glo binnekort ’n EFF-burgemeester hê.

Maar wat van die belange van die belastingbetalers in dié drie Gauteng-metro’s? Ek dink nie dit is omstrede nie om te sê die erge verval in dié plaaslike regerings die afgelope twee dekades kan vierkant voor die deur van die ANC gelê word.

Moes die DA, ActionSA en ander kleiner partye nie maar kompromieë aangegaan het om die ANC/EFF en hulle meelopers uit die mag te hou nie?

Werklike demokrate wat in die oppergesag van die reg, skoon regering en ekonomiese groei glo, behoort myns insiens alles in die stryd te werp om ’n ANC/EFF-alliansie in 2024 te voorkom.

Die EFF gaan sy bes doen om sy eie aansien onder die kiesers te verhoog deur deel van die regerings van groot metro’s te word. Hulle is goed met magsvertoon, maar magsposisies het hulle tot dusver ontwyk.

Die drama rondom die Johannesburgse stadsraad het ’n ander ding blootgelê: Die meestal wit, Engelssprekende liberals in die DA-leierskap verstaan nie regtig die politieke dinamiek op die grond nie, veral nie buite die Wes-Kaap nie. Hulle word as hovaardig ervaar deur die partye met wie hulle oor koalisies moet onderhandel.

Ek sou self nie graag oorlog toe wou gaan met Kenny Kunene en Gayton McKenzie van die PA nie, maar as die EFF en die ANC die alternatief was, sou ek maar neus toegeknyp het.

As die DA se topbestuur besluit het dat dit in die party se belang in die mediumtermyn is om liewer in opposisie in Gauteng te wees, moes hulle dit duidelik aan hulle vennote uitgespel het eerder as om speletjies te speel en ander politici te beledig.

Daar is seker ’n saak daarvoor uit te maak, veral omdat die DA-beheerde koalisie in Tshwane nogal swak vaar en in Johannesburg nie sigbare verbetering kon aantoon nie. Die ANC/EFF gáán dit verder opmors, dis byna seker, en dan kan die DA dit in 2024 op hulle brood smeer.

Die bekgevegte tussen die DA en ActionSA, wie se basiese beleid nie veel verskil nie, is werklik onverkwiklik. Dié twee partye, en die IVP en Vryheidsfront Plus, hoort in ’n vorm van alliansie. En in die maande vorentoe moet hulle aktief gesprekke voer met groepe soos Defend Our Democracy, Songezo Zibi se Rise Mzansi en Mmusi Maimane se Build One South Africa.

Die “enigste bul in die kraal”-nonsens moet einde kry.

As ek ’n positiewe móés soek, sou ek sê wat in Gauteng aan die gebeur is, is ’n goeie slypskool vir die koalisiepolitiek in 2024 wanneer ons ’n nasionale regering en provinsiale regerings moet kies.


Image: ANGELA TUCK

Drome van groener weivelde

Ek weier om te aanvaar dat die insinking en verval om ons onvermydelik is en nie omgekeer kan word nie. Daar is net te veel potensiaal in ons land en ons mense.

Ek het tussen Kersfees en Nuwejaar aan die Wildekus vakansie gehou. Dit is terselfdertyd een van die mooiste dele van ons land met die grootste potensiaal én die streek wat die swakste bestuur word.

Al my voorsate was landbouers. Ek het in die Vrystaatse mieliedriehoek grootgeword en self ’n tyd lank so bietjie probeer boer.

Ek was verstom om te sien hoe min die grond in die ou Transkei gebruik word. Die donker grond is vrugbaar en die gemiddelde reënval hoog. En soos ek rondry, sien ek net hier en daar ’n lappietjie mielies langs ’n huis en ’n klompie beeste wat ronddwaal. Die pragtige, golwende heuwels is groen maar verlate.

Die meeste volwassenes van die gebied het na die stede uitgewyk waar ’n groot aantal van hulle in haglike omstandighede in informele nedersettings bly.

Dis krimineel.

’n Groot deel van die probleem is dat die mense nie eiendomsreg het nie, maar van die plaaslike hoofman afhanklik is vir toestemming om te plant of vee aan te hou.

Dit beteken geen voornemende boer kan geld bestee om sy plaas te omhein of na die bank of die Landbank toe gaan om kapitaal vir ontwikkeling te leen nie.

Dit is die geval met sowat 15% van Suid-Afrika se heel beste landbougrond: Dit is in kommunale besit.

Dit is so dat van die mense wat nie die gebied vir die stad verlaat het nie, die potensiaal het om ten minste hulleself en hulle gesinne met bestaansboerdery te voed, maar dit is ’n armsalige en ongewilde opsie.

In my breë kring swart kennisse, kollegas en vriende, almal stadsjapies, is daar heelparty wat vasklou aan “my home village”, die nostalgie van die ou dae, waar ouma bly. En elkeen van hulle agiteer kwaai daarteen dat swart Suid-Afrikaners nog so min landbougrond besit.

Die kommunale grond in die “tuislande” van die apartheidsera sou aan honderdduisende mense ’n goeie lewe kon bied, aan sommige selfs aansienlike welvaart, as dit behoorlik vir landbou ontwikkel en gebruik word: Bophuthatswana, KwaNdebele, Lebowa, Venda, Gazankulu, KaNgwane, QwaQwa, Transkei en Ciskei, en die massiewe stuk grond in KZN wat deur die Ingonyama Trust beheer word.

Dit hoef glad nie te beteken dat mense se spirituele bande met die grond van hulle voorvaders versteur hoef te word of oumas en oupas nie op ’n stukkie grond kan aftree nie.

Ons het in ’n pragtige maar eenvoudige gesinshotel met die naam Trennerys gebly. Ek steun die idee dat die ongereptheid van die Wildekus, een van die mooiste stukke kus ter wêreld, behoue moet bly en nie oorgekommersialiseer word nie.

Maar dié kusstrook het sonder twyfel fantastiese toerismepotensiaal, en ook nie net vir die soort twee- en driesterhotelletjies wat daar wel is nie. As dit behoorlik beplan en bestuur en die plaaslike bevolking betrek word, kan dit ’n mekka van internasionale toerisme word wat tienduisende mense werk gee en biljoene aan valuta verdien. Met Oos-Londen as internasionale lughawe.

Ek het ’n paar jaar gelede ’n reeks lesings by ’n wildreservaat buite Grahamstad gehou. Die bestuurder het my vertel dat die plek eens drie veeplase was wat altyd na aan bankrot was en ’n halfdosyn of so mense met baie lae vergoeding in diens gehad het.

En toe bou die nuwe eienaars pragtige chalets en ’n restaurant en koop wild aan. Vandag werk ’n groot aantal mense uit die omgewing by die reservaat, van bestuurders, sjefs, kelners, klerke, wildbewaarders en ambagslui tot drywers en arbeiders. Die maandelikse salarisrekening beloop oor die R2 miljoen – en die plek is lank vooruit deur buitelandse toeriste vol bespreek.

Dié model kan 20, 30 keer in die Oos-Kaap herhaal word. Dit sal die mense van die streek bemagtig en uit armoede ruk.

My vinnige navorsing sê vir my Suid-Afrika gaan vanjaar maar in die koers van 2 miljoen buitelandse toeriste kry (meer as 66 miljoen toeriste besoek New York en 40 miljoen Thailand elke jaar), maar dit beteken meer as 4% van ons BNP, ’n groter bydraer as dié van landbou. Byna 900 000 mense gaan vanjaar in die breë toerismebedryf se diens wees.

Al wat ons nodig het, is ’n regering met visie en sonder korrupsie en ’n kultuur van patronaatskap, ’n regerende party met die politieke wil om te moderniseer.

Ons private sektor is sterk en lewenskragtig en die gees van entrepreneurskap lewendig. Die goed waarvan ek hier bo droom, hoef nie fantasie te wees nie.

Dalk kan ons ná 2024 weer begin droom.

Groetnis

Max

Image: ANGELA TUCK

ek blaas klankomlynde gedagtes
teen 'n wegkruipsnorretjie vas
woorde se binnegoed
al lankal uitgeslag
kyk:
hulle hang neologisties
aan die gestig se wasgoeddraad

– Jeanne Goosen

(Uit: 'n Uil vlieg weg)


Image: ANGELA TUCK

23 dae voor ons Stilbaai-boekefees

“Van skelm tot useless: Bykans ’n dekade en ’n half van Zuma en Ramaphosa. Is Suid-Afrika nou ’n mafiastaat – en hoe kom mens uit so ’n gemors?” vra Jacques Pauw.

Hy gaan hieroor uitwei op die Stilbaai-boekefees wanneer Max du Preez hom en Pieter du Toit op Saterdag 25 Februarie om 15:30 uitvra oor hul jongste boeke, onderskeidelik Our Poisoned Land en The ANC Billionaires.

As jy nog nie blyplek op Stilbaai bespreek het vir die feesnaweek nie, is dit nou tyd. Terloops, jy kan in Stilbaai-Wes of -Oos tuisgaan. Dis net ons wat hier woon wat voel ons bly in afgestigte republieke weerskante van die Goukourivier.

– Elna van der Merwe

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier (die kaartjies vlieg reeds).

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.