Tussen perdegesigte en tiermoleste hoor ons dieselfde koor, oor en oor

WOENSDAG MET WILLEM

Tussen perdegesigte en tiermoleste hoor ons dieselfde koor, oor en oor

MAX DU PREEZ sê Sihle Zikalala se skuif parlement toe is vir al die verkeerde redes. WILLEM KEMPEN wonder oor Suid-Afrika se status as tier-uitvoerder. En vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 01 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Die prys van alle oktaan petrol is van vandag af 28c per liter hoër, terwyl die dieselprys 9c per liter hoër is. Die sterker rand kon nie opmaak vir stygende internasionale oliepryse weens onder meer die hoër vraag na brandstof in China nadat Covid-inperkings daar opgeskort is nie. Terselfdertyd berig Reuters dat Russiese gasuitvoere na Europa in Januarie met byna 30% tot ’n nuwe rekordlaagtepunt geval het.

2. Pres. Cyril Ramaphosa se voorstel – gesteun deur die ANC – dat ’n nasionale ramptoestand verklaar kan word om die elektrisiteitskrisis die hoof te bied, is gister allerweë met skeptisisme begroet. Watter verskil kan bykomende magte vir die regering dan maak, is die algemene vraag.

3. Dit kan nog tot drie dae vat voordat watervoorsiening in Johannesburg weer genormaliseer het, het owerhede gister gesê. Die hittegolf en konstante kragonderbrekings het veral die Eikenhof-waterstelsel laat wankel. Ook Pretoria sukkel in verskeie gebiede steeds met watertoevoer, wat deur die Tshwane-metroraad voor Rand Water se deur gelê word.

4. ’n Voorverhoor het in New York begin om te beslis of Donald Trump vervolg gaan word vir die manier waarop stilblygeld glo in 2016 aan die porno-aktrise Stormy Daniels betaal is sodat sy nie uitpraat oor ’n “verhouding” wat hulle sou gehad het nie. Staatsaanklaers sê die manier waarop die betaling via Trump se prokureur gedoen is, kom op belastingbedrog neer. Die oudpresident het in sy tipies driftige reaksie na haar as “Horseface” verwys en gesê “this is a continuation of the Greatest Witch Hunt of all time”.

5. Piet Rampedi, aan die meeste Suid-Afrikaners bekend as die outeur van die sensasionele dog grootliks geduimsuigde storie oor die Tembisa-tienling, het bedank as redakteur van The Pretoria News. Geen redes is bekend gemaak nie en dit geld reeds van vandag af.


Kyk weer ...

Waarskuwings is uitgereik oor swaar donderbuie wat tot oorstromings in die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal kan lei. Toestande wat ’n hoë brandgevaar skep, word ook in dele van die Noord- en Wes-Kaap verwag. Buie en donderbuie word ook oor groot dele van die land verwag.

Kliek hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 25°C • Johannesburg 24°C • Polokwane 26°C • Mbombela 25°C • Upington 38°C • Bloemfontein 29°C • Kaapstad 25°C • George 24°C • Worcester 30°C • Durban 32°C • Gqeberha 26°C.


Max du Preez | Zikalala se skuif slegte nuus

Sihle Zikalala, oudpremier van KwaZulu-Natal, word nou ’n ANC-parlementslid, volgens alle aanduidinge sodat hy in pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet aangestel kan word.

Dit is slegte nuus, en ’n verdere aanduiding dat ANC-belange steeds hoër as die nasionale belang gestel word.

Zikalala het verlede jaar ’n veldtog gevoer om die Grondwet te verander sodat Suid-Afrika ’n parlementêre eerder as ’n konstitusionele demokrasie word.

Dit lol met die mees basiese beginsel van ons Grondwet en ons demokrasie, ’n beginsel wat Suid-Afrika die afgelope twee dekades verskeie kere van verdere agteruitgang gered het: die oppergesag van die Grondwet eerder as die wil van 50% plus 1 van die lede van die nasionale vergadering. Die parlement mag dus geen besluit neem wat strydig met die Grondwet is nie.

Zikalala se redenasie is dat die howe herhaaldelik die ANC-meerderheid se transformasie-agenda ondermyn omdat dit nie in ooreenstemming met die Grondwet is nie. Minister Lindiwe Sisulu het in dieselfde koor gesing.

“When we try to transform the economy, there are various issues that are raised that come from the opposition and civil society organisations, and they end up taking the government to court with the view to use the court to reverse transformation,” het Zikalala destyds gesê. “Because South Africans vote for Parliament, and when it comes to policies governing the country, Parliament should be the final arbiter.”

Zikalala het ernstig onderpresteer as premier en die rampspoedige anargie en plundering in sy provinsie in Julie voorverlede jaar het gedurende sy leierskap plaasgevind. Hy het boonop kort-kort sy bene kort Nkandla toe gehardloop om aan Jacob Zuma se voete te gaan sit.

Zikalala is duidelik net vir die kabinet bestem omdat Ramaphosa die ANC in KZN wil paai.

Dié van ons wat gedroom het dat die president die reeks ernstige krisisse in die land gaan aanpak deur ministers op meriete aan te stel, moet maar aanhou droom.

Second verse, same as the first.


Image: ANGELA TUCK

Willem Kempen | Op safari deur die wilde strate van Johannesburg

Klompie jare gelede, toe Johannesburg nog net ten dele woes en leeg was, vertel die destydse skakelhoof van ’n groot Europese lugdiens my sy het dikwels kollegas wat by haar in Forest Town tuisgaan wanneer hulle in Suid-Afrika is vir besigheid. Veral dié wat vir die eerste keer in die land is, sal dan op ’n manier te kenne gee dat hulle nie vir ’n oomblik die ou wolhaarstorie glo dat daar leeus in die strate rondloop hier by ons nie. Maar, um, net ingeval, dis nie waar nie, nè?

Natuurlik nie, sal sy hulle dan gerusstel, gewoonlik oor aandete voor hulle vir die eerste keer in ’n Suid-Afrikaanse bed klim om te gaan slaap. (Sy sou kon sê daar is baie gevaarliker goed as leeus wat in Johannesburg se strate rondloop, maar dit daar gelaat.)

Nou, die ding wat jy moet weet van Forest Town (afgesien daarvan dat Jacob Zuma ook op ’n kol daar ’n huis gehad het), is dat dit reg langs die Johannesburgse dieretuin is, waar daar die meeste van die tyd ’n skaflike troppie leeus is, plus nog diverse tiere en olifante en ander dierasies.

Bedags hoor jy nie sommer ’n gebrul en ’n getrompetter bo die geraas van die verkeer nie, maar dis ’n ander storie in die nanag as dit stil is en die wind reg waai. En dan is daar soms die volgende oggend ’n ongerustheid te bespeur by mens se gaste, ten minste tot jy hulle vertel van die dieretuin. Jy kan selfs daarop wys dat die diere in die dieretuin meer te vrees het van die mense daar buite as andersom, soos Max die gorilla wat die slag geskiet is deur ’n boosdoener wat in sy hok beland het in sy ywer om van die polisie weg te kom.

Image: ANGELA TUCK

Ek dink weer hieraan met die nuus dat daar wéér iewers in Gauteng ’n tier ontsnap het, dié keer in Edenvale. En hier’s die ding: Nie net is daar deesdae baie tiere in die land nie, ons voer elke jaar honderde van hulle uit na die res van die wêreld, hoofsaaklik Viëtnam, China en Thailand.

Ja, Suid-Afrika is ’n netto uitvoerder van tiere. Ons is trouens volgens die Oostenrykse organisasie Four Paws die wêreld se grootste amptelike uitvoerder van groot katte, hetsy lewend of as liggaamsdele.

Four Paws sê tussen 2011 en 2020 is 359 tiere lewendig en 93 as liggaamsdele soos die vel, kloue en beendere wettig uitgevoer. Daai soort getalle dui daarop dat tiere op ’n kommersiële grondslag in Suid-Afrika geteel word, wat strydig is met die bepalings van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites), waarvan Suid-Afrika ’n stigterslid en ondertekenaar is. En dan is die ónwettige uitvoere nog nie eens bygetel nie.

Image: FOUR PAWS

Dit verklaar dalk waarom ontsnapte tiere besig is om a thing te word, en miskien ook sommer waarom hulle eienaars gewoonlik so skugter is om hulle gesigte vir ons te wys.

Wederom

Willem


23 dae voor ons Stilbaai-boekefees

“Van skelm tot useless: Bykans ’n dekade en ’n half van Zuma en Ramaphosa. Is Suid-Afrika nou ’n mafiastaat – en hoe kom mens uit so ’n gemors?” vra Jacques Pauw.

Hy gaan hieroor uitwei op die Stilbaai-boekefees wanneer Max du Preez hom en Pieter du Toit op Saterdag 25 Februarie om 15:30 uitvra oor hul jongste boeke, onderskeidelik Our Poisoned Land en The ANC Billionaires.

As jy nog nie blyplek op Stilbaai bespreek het vir die feesnaweek nie, is dit nou tyd. Terloops, jy kan in Stilbaai-Wes of -Oos tuisgaan. Dis net ons wat hier woon wat voel ons bly in afgestigte republieke weerskante van die Goukourivier.

– Elna van der Merwe

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier (die kaartjies vlieg reeds).


Lady Macbeth

My swart en wit moeders
het dít gemeen
dat hulle graag uitdeel
uit hul skaarste: 
Ma bring heuning en droëperskes
wat sy van die Hoëveld af kry,
Margaret mielies uit haar townshiptuin.
Dié melk van menslike deernis
maak my weerloos: wie sal die mes
van geweld teen die ander vel?

– Martjie Bosman

(Uit: Landelik)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.