Goeie hoop en nuus so nodig soos brood

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Goeie hoop en nuus so nodig soos brood

MERCY KANNEMEYER wonder of sy delusional is en of dinge baie vinnig baie sleg geword het. DEBORAH STEINMAIR vertel van ’n glimp van die reënboog: die Suid-Afrikaanse trio wat ’n Grammy gewen het vir ‘Bayethe’. En daar is vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 07 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Die ANC het nuwe lede in sy parlementêre koukus verwelkom. Hulle is Paul Mashatile, wat ook adjunkpresident van die party is, Maropene Ramokgopa (tweede adjunksekretaris), en Sihle Zikalala en Parks Tau, wat albei lede van die nasionale uitvoerende komitee is.

2. ’n Lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) dood toe skote naby Goma op ’n helikopter gevuur is. ’n Ander bemanningslid is ook gewond, maar kon daarin slaag om in Goma te gaan land. Die oorledene se naam is nog nie bekend gemaak nie.

3. In een stadium gister sou Suid-Afrikaners soveel as R17,60 vir ’n dollar moes betaal te midde van vrese dat die Amerikaanse Fed uitleenkoerse verder sal moet opstoot. Die Amerikaanse ekonomie het in Januarie meer as ’n halfmiljoen nuwe poste geskep, wat meer as dubbel Desember se syfer is en ver meer as die sowat 190 000 wat verwag is. Dié syfers beteken egter dat inflasie in die VSA nog nie onder beheer is nie, wat tot gevolg kan hê dat die Fed vir eers rentekoerse verder sal laat styg.

4. Die Reserwebank het in antwoord op vrae aan Bloomberg gesê beurtkrag in fases 3 tot 6 kos die Suid-Afrikaanse ekonomie elke dag tussen R204 miljoen en R899 miljoen. Dié berekeninge is heel moontlik ’n onderskatting van die werklike totaal.

5. Minstens 1 800 mense is dood toe ’n kragtige aardbewing Türkiye en Sirië gister getref het. Dit het 7,8 op die Richterskaal geregistreer. Baie van die Türkiyiese stede wat die ergste deurgeloop het, was die heenkome van miljoene vlugtelinge van die Siriese burgeroorlog.


Vandag se weer

Waarskuwings oor swaar donderbuie wat tot oorstromings kan lei in die sentrale en noordelike dele van die Oos-Kaap. Dele van Gauteng en Mpumalanga kan enkele buie en donderbuie in die middag verwag, terwyl verskeie dele van die land verspreide buie en donderbuie kan verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 29°C • Rustenburg 29°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 24°C • Durban 33°C • Paarl 30°C • Oudtshoorn 30°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 27°C • Upington 30°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 27°C.


Deborah Steinmair | Ek pof my op soos ’n tarentaal wat skrop oor ‘Bayethe’

Die hemel weet, ons het goeie nuus nodig. Ons is vuisvoos en moedeloos. Opgebeurtkrag, werkloos, honger en kwaad. ’n Jong mens soos Mercy Kannemeyer wil weet: Is ek delusional of het dinge baie vinnig baie sleg geword?

Wat het geword van die belofte van ’n reënboognasie, van talentvolle mense wat saamstaan en mooi dinge laat gebeur? Waar is die liefdevolle blik waarin die res van die wêreld ons land gebaai het toe ons demokrasie gebore is? Wanneer het die springbok ’n muishond geword?

Soms sien ons tog ’n glimp van die reënboog, soos nou: Drie Suid-Afrikaners het Sondag (Amerikaanse tyd) ’n Grammy gewen – Zakes Bantwini, Nomcebo Zikode en Wouter Kellerman is by die 65ste Grammy-toekenningsgeleentheid in Los Angeles bekroon vir beste wêreldoptrede in die wêreldmusiekkategorie vir hulle samewerking, “Bayethe”. Twee mans en ’n vrou, twee swart en een wit. Ek weet dit behoort nie meer saak te maak nie, en tog, hier sit ons nog. Met ’n lied in ons hart.

Image: OUDTSHOORN COURANT

Ander benoemings vir dié prys was die Nigeriese superster Burna Boy vir “Last Last” (die internet was geskok dat hy nie met die louere weggestap het nie en baie aanhangers voel hy is “beroof”), Arogi Aftab en Anoushka Shankar vir “Udhero Na”, Matt B en Eddy Kenzo vir “Gimme Love” en Rocky Dawuni vir “Neva Bow Down”.

Ons het goeie nuus en hoop broodnodig en jong Suid-Afrikaners het nodig om te sien dat magic en uitnemendheid hier by ons kan gebeur, dat enigiets moontlik is.

Gelukwense het van oral ingestroom en almal wou deel in die gereflekteerde glans. Betekenisvol was vir my die EFF se uitspraak waarin hulle verwys na ons as ’n land waar die kunste erg verwaarloos word. Ja, soos soveel sektore word die kunste besteel en agterweë gelaat. En tog het ons soveel rou talent en toewyding. En groot drome.

Ek wil ook melding maak van ons wenners se garderobe: treffend, stylvol en funky. Ek stoot my bors uit soos ’n ma by ’n kunswedstryd.

Wat beteken “bayethe”? Ek onthou Sonja Herholdt het destyds gesing oor Umfaan, bayethe Umfaan. Dit kom glo van die Zulu “bayede” of “balethe” wat beteken “bring hulle” – byvoorbeeld die vyand. Dit is ook ’n lofprysing aan vooraanstaande mense.

Bring hulle, ons het talent en daar is hoop!

Die begaafde trio is nie alleen nie. Sedert 1988 was daar nie minder nie as 25 keer ’n Suid-Afrikaanse wenner in een van die afdelings. Ander plaaslike wenners was: Ladysmith Black Mambazo (15 keer), Wouter Kellermann (drie keer), Soweto Gospel Choir (twee keer), Johnny Clegg & Savuka, Black Coffee, Miriam Makeba en Hugh Masekela.

Die naam “Grammy” is ’n kniebuiging aan die grammofoon wat so ’n groot impak op die musiekbedryf gehad het, indien jy gewonder het.

Nou loop ons almal ’n bietjie regopper en neurie onder die asem: Bayethe, bayethe Nkosi.


Image: ANGELA TUCK

Mercy Kannemeyer | Wat gaan dit verg vir Suid-Afrikaners om saam te staan?

Met die voortslepende loadshedding-kwessie lyk dit asof talle Suid-Afrikaners toenemend geïrriteerd en gatvol raak. Karre ry ongeduldig, mense wat in winkels werk lyk vir my moeg, OTM’s werk nie, mense moet die kos in hulle yskaste weggooi, daar’s blou water in iemand se kraan in Johannesburg (WTF, right?), en niemand vat verantwoordelikheid nie. Dié opsomming is seker maar the tip of the iceberg, maar alledaagse mense begin die kragsituasie aan hulle sakke voel, en dis vreesaanjaend.

Is ek delusional of het dinge baie vinnig baie sleg geword? Laat ek dit kwalifiseer. Tot en met 2020 was my semi-volwasse lewe nogal heel gemaklik. Afgesien van die feit dat ek ’n arm student was, was daar gelukkig nie die druk van ’n grootmens wees wat dishwashing liquid moes koop en moes worry oor ’n waterrekening nie. Ek was vir ses jaar op koshuis in Stellenbosch, een jaar in ’n woonstel in Stellenbosch en een jaar by my ouers in Mosselbaai. Ja fine whatever, die Wes-Kaap sorg goed vir sy mense en die skille het nou van my oë afgeval omdat ek in Johannesburg woon. (Sidenote – ons moet my voorafgaande stelling tog eendag unpack. Ja die Wes-Kaap wérk, maar nie vir almal nie.) In ’n sekere mate was ek beslis naïef, maar ek kan nie hierdie moedeloosheid wat nou in die lug hang, onthou nie …

Tog voel dit asof daar ín ons nasionale moedeloosheid steeds erge verdeling heers. ’n Paar weke gelede sien ek ’n Facebook-groep genaamd “March on Eskom #StandupSA”. Die mandaat is duidelik: Daar word ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om te betoog. Nie lank nadat ek hierdie Facebook-groep gesien het nie, lees ek ’n ander diskoers raak: Arm en gemarginaliseerde Suid-Afrikaners (meestal swart en bruin) protesteer gereeld, so dit is onregverdig om heeltyd van swart en bruin mense te verwag om hulleself in die spervuur van protesaksies rondom landsake te gooi.

Ek moes lank en hard hieroor dink. Aan die een kant voel dit geregverdig om uit te lig dat gemarginaliseerde mense gereeld moet protesteer en daar nie van dié groepe verwag moet word om weereens tot die strate toe te tree nie. Saam met hierdie punt is daar ook ’n gevoel van “uiteindelik is die middelklas ook só verontrief dat hulle uit hulle gemaksone sal opstaan en actually iets sal sê of doen”. Dan dink ’n mens nog ’n bietjie verder … voel ryk mense die krisis aan hulle gatte ook? Seker op ’n finansiële vlak wat besighede betref, en politici voel dit seker aan hulle gewildheidstatus wat afneem, maar voel hulle dit aan’t huis? Of kan hulle nie die geween en gekners van doodgewone Suid-Afrikaners se tande bo die geluid van hulle generators hoor nie?

Hoe dit ook al sy, dit gaan gerook hier buite. Die hoopvolles onder ons sal graag saam wil staan en die kragkrisis as ’n gemene vyand takel, maar ons land is te kompleks daarvoor. Jy het nie ’n PhD nodig om die omvang van Suid-Afrika se kompleksiteite wat ras, klas en status betref te verstaan nie. Jy moet net ’n bietjie saam met jou bure gesels, dan sal jy sien.


In Praise of Craziness of a Certain Kind

On cold evenings
my grandmother,
with ownership of half her mind —
the other half having flown back to Bohemia —

spread newspapers over the porch floor
so, she said, the garden ants could crawl beneath,
as under a blanket and keep warm,

and what shall I wish for, for myself,
but, being so struck by the lightning of years,
to be like her with what is left, that loving.

– Mary Oliver


17 dae voor ons Stilbaai-boekefees

“Ek is opgewonde en dankbaar om deel te wees van die fees! Ek sien uit om ’n paar maande ná die bekendstelling te kan gesels oor die lesers se terugvoer en my eie ervaring as nuwe skrywer.”

So sê die aktrise Lindie Stander. In Agter my glimlag vertel sy haar verhaal van slim skoolkind tot suksesvolle aktrise, haar stryd met dwelms, drank en depressie en haar uiteindelike oorwinnings.

Vrye Weekblad se boekeredakteur, Deborah Steinmair, gesels die Saterdagoggend van die fees om 09:30 met Stander en pastoor Ivor Swartz (Kies die lewe).

In ander nuus: Die kykNET-Fiësta-span het laat weet hulle kom weer ons fees afneem. Dit beteken baie vir ons fees, die dorp en die Hessequa-streek – dis woelig op die platteland!

– Elna van der Merwe

* Vir meer inligting en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.