’n Ruimtehawe vir Afrika en ander verhale uit die Boerasporia

WOENSDAG MET WILLEM

’n Ruimtehawe vir Afrika en ander verhale uit die Boerasporia

WILLEM KEMPEN wonder of hy in Mogadishu of Djibouti moet gaan bly. MAX DU PREEZ skryf oor die geval Dougan McMerwe en Engelse suur druiwe. En soos altyd is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 08 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre


1. Die gesamentlike dodetal in Maandag se verwoestende aardbewings in Sirië en Türkiye het gister tot meer as 5 000 gestyg. Pres. Tayyip Erdogan het 10 Türkiyiese provinsies tot rampgebiede verklaar en ’n noodtoestand in die streek afgekondig. Die situasie in die burgeroorloggeteisterde Sirië is selfs erger omdat noodwerkers sukkel om te midde van snerpende koue toegang tot geraakte gebiede te kry.

2. Pres. Cyril Ramaphosa sal môreaand om 19:00 vanjaar se staatsrede voor ’n gesamentlike sitting van die parlement in die Kaapstadse stadsaal lewer. Die sekretaris van die parlement, Xolile George, het aan eNCA gesê daar was gesprekke met Eskom om te verseker dat die krag nie tydens die verrigtinge afgaan nie.

3. Dit lyk voorlopig nie of enige nuwe belastings op Suid-Afrikaners wag wanneer Enoch Godongwana, minister van finansies, oor twee weke die staatsbegroting vir die nuwe boekjaar in die parlement ter tafel lê nie. Edward Kieswetter, hoof van die Inkomstediens, sê sukses met die afdwing van belastingwette beteken die minister hoef nie nuwe belastings te oorweeg om die staat se boeke te laat klop nie, het News24 berig. Kieswetter sê dis wel moontlik dat Godongwana nuwe aansporingsmaatreëls vir iets soos die installasie van sonpanele sal aankondig.

4. Woedende inwoners van Komani (die ou Queenstown) het gister opnuut by minister Nkosazana Dlamini-Zuma aangedring dat die Enoch Mgijima-munisipaliteit weens swak dienslewering ontbind word. Leiers van die Komani Protest Action (KPA) het vroeër geweier om met ’n afvaardiging van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake te vergader en daarop aangedring dat hulle met Dlamini-Zuma self wou praat. Volgens Daily Maverick het Dlamini-Zuma op ’n kol gister se driftige vergadering verlaat om met iemand in pres. Cyril Ramaphosa se kantoor te beraadslaag. Sy is glo gehoor toe sy sê: “I want the President’s advice on this matter. I don’t want to lie to the people.” Die saak is nou na die kabinet verwys vir ’n besluit.

5. Die Nasionale Bloeddiens (SANBS) het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om dringend te gaan bloed skenk omdat die beskikbare voorraad gevaarlik laag is.


Kyk weer ...

Die Wes-Kaap is moontlik die enigste provinsie wat vandag matige toestande kan verwag. Daar is waarskuwings vir donderbuie en swaar reën oor die binneland asook die noorde en veral oor dele van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag:  Pretoria 28°C • Johannesburg 25°C • Polokwane 27°C • Mbombela 28°C • Upington 28°C • Bloemfontein 22°C • Kaapstad 31°C • George 26°C • Worcester 34°C • Durban 27°C • Gqeberha 25°C.


Max du Preez | Ontmoet vir Dougan McMerwe

Duhan van der Merwe se drie vir Skotland Saterdag was sekerlik die beste van die seisoen en een wat nog vir jare op video gaan voortleef.

Dit was nie net sy spoed en vernuf om verdedigers te systap nie, maar om in die laaste oomblik en op volle vaart die bal onder sy regterarm na sy linkerarm te verplaas sodat hy die laaste verdediger kon afstamp. Absoluut briljant. Ek het al 10 keer daarna gekyk.

Die nederlaag teen Skotland was vir die Engelse rugbyondersteuners ’n bitter pil om te sluk. En toe teiken hulle sommer die Suid-Afrikaner, ’n Van der Merwe nogal.

Eers lees ek rugbyskrywers kla dat die man wat die bal vir hom aangegee het nie genoeg krediet kry nie – dit was dan ’n “try assist”. Ja, swaer, kyk maar weer na die video. Try assist se gat, dit was net ’n aangee.

Maar toe kom die stortvloed op veral sosiale media: Duhan is nie regtig ’n Skot nie, so Skotland het met geleende kalwers geploeg. (Niemand het destyds uit dié oord gekla toe Duhan vir die Britse Leeus na Suid-Afrika getoer het nie.)

Dieselfde bitterbekke laat ook na om te meld dat die briljante Engelse losskakel Marcus Smith, wat Saterdag kookwater gespeel het, in die Filippyne gebore is en rep nie ’n woord oor die Engelse toetsspanspelers Manu Tuilagi en Mako Vunipola nie.

Die bekgevegte hieroor op Twitter het iemand, waarskynlik ’n Suid-Afrikaner, laat opmerk: Dís hoe Suid-Afrika deel van die Sesnasiesreeks gaan word, speler vir speler.

Die ander Skotse speler wat hom Saterdag goed van sy taak gekwyt het, is die stut Willem Petrus Nel, eens van die Cheetahs en WP.

Die res van die rugby- en krieketwêreld het dit nou al gewoond geraak dat soveel spanne in Europa en Japan Suid-Afrikaanse spelers het. Springbokkaptein Siya Kolisi gaan volgende jaar in Frankryk speel.

Toe die Engelse krieketspan onlangs hier in Suid-Afrika vir ’n eendagreeks getoer het, het die ou grappie weer waar geword: Waar bly die Engelse krieketspelers as hulle in Suid-Afrika toer? By hulle ouers.

Dawid Malan is deesdae ’n Engelse krieketheld, nes Andrew Strauss en KP Pietersen eens was. Spelers soos Matt Prior, Jonathan Trott, Jason Roy en Tom Curran is almal in Suid-Afrika gebore. En Marnus Labuschagne is ’n krieketheld in Australië.

Ek is ’n politieke joernalis, nie ’n sportskrywer nie. So waar is die politieke hoek van dié stuk?

Hier: In die bekuitspoelery oor Duhan beweer van die Engelse ondersteuners toe dat die meeste Suid-Afrikaners, by implikasie Duhan ook, steroïede gebruik. As bron word toe onder meer dié artikel oor die onderwerp deur BBC Sport in 2020 gemeld. 

Steroïede in skolesport was en is seker ’n probleem in Suid-Afrika. En toe vra die verslaggewer die hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport, Khalid Galant, hoekom dit so is.

Sy antwoord is in die kol, en dis my politieke stertjie vir die storie: “Sport is only a mirror of our society. Currently in South Africa we are dealing with lots of corruption and ethical breaches at the highest level of leadership.

“Our society may be becoming more tolerant towards cheating as a means to achieve goals because there is also an absence of consequences.”


Image: ANGELA TUCK

Willem Kempen | Dis lekkerder om satelliete as seerowers van jou voorstoep af te kyk

Het ’n bietjie begin rondkyk vir ’n blyplek in die buiteland. Nie oor ek besonder lus is om deel van die Boerasporia te word nie, maar mens moet jou opsies oophou.

Ek het eerste gaan kyk vir plekke waar die rand darem nog iets werd is, maar ek is bevrees ek is nie spontaan entoesiasties oor eiendom in Mogadishu nie. Ek wou nou wel nog altyd in ’n villa gebly het, soos die een op die foto onder glo is, maar hierdie een lyk meer soos die soort plek waar Osama bin Laden dalk eens op ’n tyd weggekruip het.

Bygesê, om dié plek ’n “villa” te noem is die naaste wat die betrokke webwerf aan eiendomsagent-speak kom. As dieselfde huis iewers in Suid-Afrika te koop was, sou dit heel moontlik beskryf word as “Your very own security compound, with stunning views of the hustle and bustle of the area’s blossoming alternative seafaring industry”.

Which is to say: As jy op ’n leer staan, kan jy dalk sien hoe 'n klomp plaaslike seerowers 'n olietenker in ’n rubber duck agternasit.

Die volgende plek wat my aandag as ’n moontlike eksotiese nuwe tuisland getrek het, is Djibouti, so twee uur se reis per Tomahawk noord van Mogadishu af aan die ander kant van Afrika se Horing.

Nou, konsepte soos landsgrense en soewereine regering is hoogs onderhandelbaar in daai deel van die wêreld, maar die eerste webwerf met Djibouti-eiendom waarop ek afkom, laat dit lyk of dinge beslis daar aan die gebeur is:

“The Government intends to develop the real estate market in the country, so much so that it has established a Secretary of State for Building in its Ministry of Housing and Urban Development, which is why we advise you to buy property for sale in Djibouti.”

Dié opbeurende boodskap kom nou wel uit 2019, maar eintlik onderspeel dit wat in Djibouti aangaan – of liewer, wat aan sy kus aangaan. Want dis reg langs van die wêreld se besigste seeroetes, insluitend toegang tot die Suezkanaal. En net oorkant die water wemel dit van die olie in lande soos Jemen en verder aan in die Golf-state.

So, dis nie toevallig dat China sy heel eerste buitelandse militêre buitepos juis in 2017 in die vorm van ’n vlootbasis in Djibouti gaan vestig het nie. En minder as 8 km van daar af is die VSA se grootste militêre basis in Afrika. Japan, Frankryk en Italië het óók basisse daar, en die spul grom natuurlik gereeld oor die heinings vir mekaar.

Djibouti is om ’n ander rede ook strategies goed geleë: Dis naby die ewenaar, wat beteken dit verg relatief min energie om iets van daar af in ’n wentelbaan om die aarde te plaas.

Dit alles verklaar die aankondiging op 9 Januarie vanjaar (dit het merkwaardig min nuusdekking gekry) dat Djibouti ’n kontrak met Hong Kong Aerospace Technology gesluit het om ’n enorme ruimtehawe in die land te bou en te bedryf. Een nuusverklaring verwys daarna as “a massive milestone for Africa, making it the first orbital spaceport on African soil”.

Die kontrak is glo ’n allemintige $1 biljoen werd en voorsien die bou van onder meer sewe satellietlanseerterreine en drie vuurpyltoetsterreine, hawegeriewe, ’n elektrisiteitsnetwerk en nuwe paaie waarop toerusting vervoer kan word.

Dís alles baie goeie nuus vir die vasteland, selfs al hou mens in gedagte dat Hong Kong Aerospace Technology noue bande het met die tegnologiereus Huawei, wat op sy beurt eintlik maar ’n verlengstuk van die Chinese regering is. Of dat sowat ’n derde van Djibouti se buitelandse skuld aan China is.

Helaas is ek ook bevrees die nuwe ruimtehawe beteken my rande gaan nie so ver kom in Djibouti as wat ek gehoop het nie. Ek sal maar weer moet gaan kyk na daai villa in Mogadishu.

Tot volgende keer

Willem


16 dae voor ons Stilbaai-boekefees

“Ek moes dalk sterker en skerper in my boek The ANC Billionaires geskryf het oor die ANC se onvermoë om ’n land te regeer. Nietemin, ek reken die saadjies vir wat ons vandag sien, is reeds in die laat 1980’s en vroeë 1990’s gelê, en ek sien uit om hieroor te gesels met Max en Jacques.”

So sê Pieter du Toit, wat op Saterdag 25 Februarie om 15:30 saam met Jacques Pauw, skrywer van Our Poisoned Land, aan die beurt kom. Max du Preez sal die gesprek lei.

In ander nuus: Ilse Salzwedel praat vanaand op Skrywers en boeke op RSG oor ons boekefees. As jy nog nie seker is of jy dit moet bywoon nie, skakel tussen 20:00 en 21:00 in op die program – jy sal heel moontlik hier iets hoor wat jou lus maak om te kom.

– Elna van der Merwe

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.


I carry your heart

i carry your heart with me
(i carry it in
my heart)
i am never without it (anywhere
i go you go, my dear; and whatever is done
by only me is your doing, my darling)                                 
i fear
no fate (for you are my fate, my sweet) i want
no world (for beautiful you are my world, my true)
and it's you are whatever a moon has always meant
and whatever a sun will always sing is you
here is the deepest secret nobody knows
(here is the root of the root and the bud of the bud
and the sky of the sky of a tree called life; which grows
higher than soul can hope or mind can hide)
and this is the wonder that's keeping the stars apart
i carry your heart (i carry it in my heart)

e.e. cummings

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.