Ons is gatvol, Cyril, so haal uit en wys

DONDERDAG MET DEBORAH

Ons is gatvol, Cyril, so haal uit en wys

Hokaai met al die wokegeit, vra DEBORAH STEINMAIR, en MAX DU PREEZ sê Mina is moeg ge-thuma. Soos altyd is daar ook vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 09 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Verbruikersraad het in ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa gevra dat die regering die druk op verbruikers verlig deur onder meer die heffings op suiker, brandstof en die Padongelukkefonds op te hef. Terselfdertyd het die Ombud vir Bankdienste verbruikers aangeraai om met kredietverskaffers te onderhandel as hulle sukkel om hulle terugbetalings vol te hou. Die Ombud sê verbruikers is vasgevang in ’n perfekte storm van hoë inflasie, stygende rentekoerse en hoë brandstofpryse. En natuurlik beurtkrag.

2. SA Toerisme het met ’n forensiese ondersoek begin na sy wyd gekritiseerde planne vir ’n borgskap van die Engelse sokkerklub Tottenham Hotspur – nie oor wie se idee dit was nie, maar oor hoe dié “vertroulike” gesprekke aan die media laat lek is.

3. Oudpres. Jacob Zuma het verlof gevra om regstreeks na die Konstitusionele Hof te appelleer teen die tussentydse bevel wat hom keer om voort te gaan met sy privaat vervolging van pres. Cyril Ramaphosa. Laasgenoemde het vroeër aangevoer dat Zuma se pogings om hom privaat te laat vervolg op ’n misbruik van die regstelsel neerkom.

4. Pres. Joe Biden het in sy State of the Union-toespraak onder meer gesê sommige Republikeine steun die idee om staatsbesteding aan Social Security en Medicare in te kort, maar hy wou nie name noem nie. Dit het heftige reaksie onder die Republikeine ontlok. Een van hulle, die omstrede Marjorie Taylor Greene, het kliphard “Liar!” in die Kongressaal uitgeroep.

5. Alphabet Inc. (Google) en Microsoft vat mekaar van voor af aan, dié keer oor die gebruik van kunsmatige intelligensie. Pas nadat Google vandeesweek sy Bard-bot bekendgestel het as ’n teenvoeter vir OpenAI se ChatGPT, het Microsoft aangekondig dat hy soortgelyke tegnologie in Edge en Bing gaan gebruik. Soekenjins en webblaaiers lewer ’n groot gedeelte van albei maatskappye se winste op, wat die tafel dek vir mededinging soos wat tevore met Chrome versus Internet Explorer en Gmail versus Hotmail gesien is, berig Reuters. ChatGPT het binne twee maande nadat dit einde November bekendgestel is, reeds die kerf van meer as 100 miljoen aktiewe gebruikers verbygesteek, vinniger as enige ander verbruikers-app tot nog toe.


Weersake

Daar is weer ’n waarskuwing oor swaar reën wat tot oorstromings kan lei in die noordoostelike dele van die Oos-Kaap, dele van KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga. Buie en donderbuie word weereens oor grootste deel van die land verwag, die Wes-Kaap uitgesluit.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 26°C • Johannesburg 24°C • Rustenburg 27°C • Mbombela 23°C • Kaapstad 31°C • Durban 27°C • Howick 22°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 24°C • Upington 35°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 23°C.


Max du Preez | Mina is gatvol ge-thuma, nou thuma ons jou, Cyril

Dis nou net mooi vyf jaar gelede dat pres. Cyril Ramaphosa met sy “thuma mina”-slagkreet gekom het – stuur my.

Hy het die woorde uit ’n gewilde lied van Hugh Masekela met dieselfde naam gaan haal:

I wanna be there when the people start to turn it around
When they triumph over poverty
I wanna be there when the people win the battle against AIDS
I wanna lend a hand I wanna be there for the alcoholic
I wanna be there for the drug addict
I wanna be there for the victims of violence and abuse
I wanna lend a hand
Thuma Mina

Nie baie mense weet dat Masekela die frase eintlik uit die Bybel gaan haal het nie. Jesaja 6:8: Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” Thuma Mina is ook die koorgedeelte uit ’n gewilde ou hallelujalied.

Toe hy weer in 2019 as president beëdig is, het hy die wekroep herhaal: “Having taken the oath of office I am saying, yes, South Africa, thuma mina. And I pledge here today that I will serve you, I will work with you, side by side, to build the South Africa that we all want and deserve. A new era has dawned in our country.”

Ek dink die breë bevolking was ontvanklik vir die wekroep. Suid-Afrikaners was sat vir staatskaping en Jacob Zuma se morsige nege jaar in die stoel. Ramaphosa het toe gesê baie duisende burgers het vir hom boodskappe gestuur wat sê: Stuur my!

Ons was reg vir ’n nuwe begin, ’n nuwe era, ’n proses om ons selfrespek terug te kry en ons land weer vir meer as net ’n handvol rykes en politieke leiers te laat werk.

Maar Ramaphosa en sy regering het ons sleg in die steek gelaat. Daar was hier en daar ’n bietjie vordering, ja, maar oor die algemeen is Suid-Afrika vandag in ’n slegter toestand as drie, vier jaar gelede. En ek verwys nie net na die elektrisiteitskrisis nie, ek verwys na die verdere verval in regeerkunde, onderwys, gesondheid, plaaslike regering, wet en orde en infrastruktuur.

Die feit is dat Suid-Afrika vandag werklik op mislukte-staat-terrein sou gewees het as dit nie vir ons energieke en gesonde private sektor en burgerlike samelewing was nie.

Die kloof tussen funksionering en sukses van dié sektore en die onbeholpenheid en korrupsie in die staatsadministrasie in Suid-Afrika vandag is ongehoord in moderne demokrasieë.

Baie van ons het Ramaphosa die laaste klompie jare vir sy besluiteloosheid en passiwiteit vergewe, want hy was onder kwaai druk van korrupte elemente uit die Zuma-era in sy party.

Ná sy onlangse leierskapsverkiesing is hy stewig in sy posisie met oorweldigende beheer oor die nasionale uitvoerende komitee, die topsewe-leierskapsgroep en die dagbestuur van die ANC.

Hy gaan seker vanaand weer praat van ’n “nuwe konsensus” en ’n “nuwe sosiale kompak” soos hy in sy laaste toespraak oor die stand van die land gedoen het. Hy gaan seker weer uitvaar teen korrupsie. Bla bla bleddie bla.

Suid-Afrikaners gaan vanaand met groot sinisme na hulle president se beloftes luister.

Ons het ons kant gebring, meneer die president. Nou thuma ons jóú. Haal uit en wys.


Image: ANGELA TUCK

Kan jy té wawyd woke wees?

Die Walliese rugby-unie het Tom Jones se treffer “Delilah” verbied. Dit was een van hulle rugbyliedjies en ja, dit gaan oor geweld teen vroue. En miskien is dit intimiderend wanneer ’n stadion vol mense uit volle bors sing: She stood there laughing / I felt the knife in my hand, and she laughed no more. Sê nou jy is een van ’n handjievol wit mense by ’n wedstryd tussen Chiefs en Pirates by die Orlando-stadion in Soweto en die skare begin “Kill the Boer, kill the farmer” sing? Ons het ’n paar jaar gelede na Ladysmith Black Mambazo in die staatsteater gaan kyk. Die gehoor was oorwegend swart. En daar staan almal op en sing met ’n magtige dreuning saam: “Umshini wami” – die struggle song wat min of meer “bring my masjiengeweer” beteken. Die vier wit mense teenwoordig het nogal aardig gevoel.

Ek het grootgeword met “Delilah” en liedjies soos “I shot the sheriff”. Om nie te praat nie van “Siembamba” – hoewel iemand my vertel dat dit oorspronklik was: Sien die mamba, draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop, dan is hy dood. Dis dus eintlik net die DBV wat probleme met die lirieke kan hê, en slangliefhebbers.

Soveel van ons volksliedjies sal moet sneuwel, soos “Vat jou goed en trek, Ferreira” waar Jannie met die hoepelbeen verbywaggel. Skeeloog-Sarie van Suikerbosrand was ’n mooie meisie van die agterkant? Bodyshaming. Ou tant Siena wat straatop loop? Fatshaming. Inkorrek, sies.

Sprokies en kinderrympies is ook gruwelik bloeddorstig en wreed. Om nie van operas te praat nie. Daar is omtrent nie ’n opera sonder ’n bloedige halsmisdaad uit jaloesie, wraak of gefnuikte liefde nie. Het ons te woke geword vir kuns? Daar is emmers vol bloed in Shakespeare. Daar is anti-Semitisme en vrouehaat. Rassisme.

Ek kan verstaan dat die jeugboeke wat my eens bekoor het, met heruitgawe aangepas moes word. Daar is sekere woorde wat vroeër algemeen gebruik is wat nou net kwetsend is. ’n Goeie vriend, ’n liewe, verligte man, se kinders het hom omtrent onterf toe hy, as toegewyde kok, een bestanddeel, ’n soort lemmetjie, citrus hystrix, op sy omgangsnaam genoem het.

Evolusie vind plaas en mense raak meer sensitief en dit is sekerlik ’n goeie ding. Advokaat Anna-Marie de Vos vertel my in die 50’s, 60’s en 70’s het mans wat hulle vroue vermoor het, redelik lig daarvan afgekom, veral as die vrou ontrou was. Sulke dinge het genadiglik verander.

Tom Jones het die volgende gesê oor die bohaai: “I think if they’re looking into the lyric about a man killing a woman, it’s not a political statement. It’s just something that happens in life that it’s [a] woman [who] was unfaithful to him and he just loses it.” Nee, ou Voice, dit klink nie besonder woke nie.

Ons wil nie oordrewe oopoog wees nie, maar laat ons erken dat sekere liedjies soos, ahem, “Die Stem” ons landgenote seermaak, soos “Delilah” mishandelde vroue krenk. Of vroue in die algemeen. En sensitiewe mans. Die mensdom het meer empaties geword.

As ons nou nog net oorlog kon verbied, het ons mooi geëvoleer.


15 dae voor ons Stilbaai-boekefees

“’n Sperdatum ken geen genade nie en daarom kon ek laas jaar net met lang oë kyk na al die nuus oor die lekkertes van die nuwe boekefees. Vanjaar sien ek egter geweldig daarna uit om by die tweede Stilbaai-boekefees te kan gesels oor daardie einste boek wat my van die eerste fees af weggehou het, naamlik Murasie – ’n spanningsroman gegrond op die Strandveldse spookstorie van ’n hardnekkige bebloede handafdruk.”

So gesels Chanette Paul. Sy is Saterdag 25 Februarie om 08:30 saam met Frederik de Jager (Ver in die wêreld) op die verhoog en Daniel Hugo sal die gesprek lei.

In ander nuus: Vrye Weekblad se baie mooi banier – wat ontwerp is deur Angela Tuck – trek baie aandag sedert dit Maandag langs die hoofstraat opgerig is. Dis gedoen met die hulp van die Stilbaai-sakekamer. Oral in die wêreld is dit die geesdrif van individue wat die bal aan die rol hou en op klein dorpies is dit nog belangriker, so: Rachel Wall, dankie vir ons banier.

– Elna van der Merwe

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.


Uit: “Vet”

Waarskuwing: In hierdie gedig kom pejoratiewe terme voor wat deur lesers as aanstootlik en beledigend ervaar kan word.

As ou tant Siena straat-op loop
Om antipon of spek te koop,
Sê dié wat pad maak: Dank die Heer!
En sit hul sware stampers neer.
Verlede Sondag in die kerk
Merk ek nog weer die wonderwerk,
Die eienaardigste geval:
Sy wou gaan sit, toe sit sy al!
Kom stipte meester Van der Dool
’n Paar minute laat op skool,
Dan sê die kinders: Weet jy wat?
Tant Sien was seker in sy pad!

– A.G. Visser

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.