Styles en Vermeer: Musiek en kuns wat van jou ’n blyer mens maak

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Styles en Vermeer: Musiek en kuns wat van jou ’n blyer mens maak

Wat het die sanger Harry Styles en die skilder Johannes Vermeer gemeen behalwe pêrels, vra ANESCA SMITH. DEBORAH STEINMAIR vertel van die Boeke- en Vrye Tyd-stories in ons jongste uitgawe wat jou tone sal laat krul van die lekker. En ELNA VAN DER MERWE deel inligting oor ons Stilbaai-boekefees, wat van 24 tot 26 Februarie plaasvind.

  • 11 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 6 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre!

Twee dinge waarna ek die komende somer in Amsterdam uitsien, is ’n konsert van die Britse sanger Harry Styles, en om ’n tentoonstelling van die grootste versameling tot nog toe van Johannes Vermeer se skilderye op een plek by te woon.

Harry Styles in aksie.
Harry Styles in aksie.

Die Vermeer-uitstalling, wat gister in die Rijksmuseum geopen het, is tot 4 Junie te sien. En vroeër dié week het Styles, net só bekend om sy musiek as sy gender-bender-modekeuses à la David Bowie – pêrelhalssnoere, glitter-naellak en hoogsittende broeke – die Grammy vir album van die jaar gewen. Tot groot ergernis van Beyoncé-aanhangers, wat glo dié eer kom Queen B toe.

Maar wat het Vermeer en Styles gemeen, behalwe pêrels?

Dit is waar dat Beyoncé ’n veel groter ster is as Styles en myns insiens beter musiek maak, maar met sy album Harry’s House was dit dié jaar Harry se jaar.

Hy het – soos Lizzo (wat opname van die jaar met “About Damn Time” gewen het) – musiek voorsien wat ons nóú nodig het: speelse, happy tunes. As ek Harry so op die verhoog sien rondspring en dans in sy glitter-reënboog-jumpsuit is ek onmiddellik ’n blyer mens.

Die 80’s-retro-elemente aan sy musiek laat jou vergeet van die daaglikse sleur en roep nostalgiese herinneringe op. Hy sing oor waatlemoen, fietsry, swembaddens en roomys. Oor ’n lewe so lig soos pienk suikerspin.

Sy treffer “As It Was”, wat op 1 April uitgereik is, was die mees beluisterde lied op Spotify in 2022 en Harry’s House die tweede mees beluisterde album van die jaar.

Om kaartjies vir Vermeer se uitstalling te bekom was byna net so moeilik as om kaartjies vir een van Styles se konserte te kry. Toe die museum hierdie week die aankondiging maak, was die eerste twee maande van die tentoonstelling byna onmiddellik uitverkoop.

Soos die mense wat Styles se musiek bewoon, gee die figure in Vermeer se kuns die indruk dat hulle altyd in die fleur van hulle lewe staan. Of, soos die Volkskrant se kunsredakteur, Stefan Kuiper, dit beskryf: mense wat “konsekwent in die romkom-fase van die lewe” staan.

Johannes Vermeer se Meisie met die Pêrel.
Johannes Vermeer se Meisie met die Pêrel.

“Alles op sy skilderye lyk swanger van verwagting. Die oogopslag (en vogtige lippe) van Meisie met die Pêrel. Maar ook die talle flirtende juffers en hulle verleiders. Jy sien by hom geen egpare, geen kinders, geen bejaardes, geen sterflikheid.”

In teenstelling met Vermeer se eie werklikheid.

“Met 15 kinders, ’n baasspelerige skoonmoeder wat nog inwonend ook was, was dit in Vermeer se daaglikse lewe waarskynlik permanent spitsuur. Vermeer skilder nie sy geleefde, maar sy ongeleefde lewe. Sy werk toon miskien die stilte, rus (en romantiek?) waarna hy op sekere oomblikke smag.

“Hy begryp dat ons lewe ’n materiële een is en dat ons gelukdeel sit in tasbare, hoorbare en kusbare dinge. En dat om dit met styl en elegansie te skilder die enigste manier is om hulle ’n kans te gee om voort te lewe.”

Mooi week

Anesca


13 dae voor ons Stilbaai-boekefees

Welwillendheid. Dis ’n woord wat die laaste tyd voorop in my gedagtes is.

Met verlede jaar se boekefees het die Stilbaaiers nog nie mooi besef wat in hulle midde aan die gang is nie. Om die waarheid te sê, die grootste deel van die feesgangers was Vrye Weekblad-lesers en dus van elders in die land. Sommige het selfs vliegkaartjies gekoop om hier te kom.

Vanjaar is dit anders.

Op ’n verjaarsdagpartytjie laat in Desember ontmoet ek vir Jeanine Mason. Sy soek my later die aand weer op en sê ons is welkom om haar strandhuis vir skrywersverblyf te gebruik. Uit die bloute.

Op ’n bootvaart op die Goukou sê Jan Vorster en Cornel Wentzel ek kan hulle rivierhuis vir my skrywers kry. Uit die bloute.

Annerise Wolmarans van Stilbaai Toerisme laat weet die eienaar van Oudewerfskloof-olyfplaas stel soos verlede jaar weer ’n hele wooneenheid tot ons beskikking.

Pieter Marais, ’n Stilbaaier wie se debuutroman in April by die KKNK bekend gestel word, gee weer die hele boonste verdieping van sy huis. Susan Fourie gee verblyf binne stapafstand van die Baptiste-kerk (waar al die skrywersgesprekke plaasvind).

Kim Borzaart van die Karoo Manor-gastehuis laat weet per whatsapp sy gee weer twee suites. Ek sê maar ek het nou net die plakkate laat druk so jou naam gaan nie daarop verskyn nie! Dis niks, sê sy, dit maak nie saak nie.

OK Foods, Stilbaai se “Woolies”, skenk kruideniersware.

’n Onbekende en baie geesdriftige vrou bel en sê sy is van die Stilbaai-sakekamer en hulle wil baie graag by ons fees betrokke raak. Ek kom vinnig agter Rachel Wall is iemand wat die daad by die woord voeg – net die volgende aand besluit die Sakekamer op hul vergadering om ons te help reklame maak deur ’n groot banier langs die hoofstraat op te rig. Want Vrye Weekblad lok so baie mense van buite die Hessequa hierheen.

Mag hierdie verhouding tussen koerant en dorp weerskante toe aanhou vrugte dra.

– Elna van der Merwe

Dis naweek – maak tyd om die program te bekyk en bespreek dan hier.

Ons sien julle in die markiestent – kom sê dag by die Stammtisch!


Jou naweektydskrif wag – Vrye Tyd en Boeke. Lees oor die jongste boekjuwele, oor vroueskrywers se unieke aanslag, oor outentieke tamatiesous, body shaming, skaamsoet verliefdhede en vele meer wat jou tone gaan laat krul.


BOEKE

Max du Preez het onlangs geskryf hy kry die indruk moderne skrywers wil hulle boeke meer kompleks en selfs ontoeganklik maak omdat dit die boeke as letterkunde van gehalte sou laat uitstaan. Deborah Steinmair het twee lywige boeke gelees wat “outyds” aanmekaargesit is: sterk storielyne, onvergeetlike karakters, alwetende verteller, chronologies verhaal.

Los die foefies, ons soek stories


Ons superleser Kerneels Breytenbach beveel weer vyf splinternuwe boeke aan en laat ons vingers jeuk om boeke aanlyn te bestel of ons voete jeuk om af te sit boekwinkel toe.

Oor kunstenaars, spioene, kook, stambome en kortverhale


Ons gewaardeerde literator Joan Hambidge vertel ons hoe vroue oor taboes, grense, loopgrawe en oorlog skryf.

Vroue skryf vanuit die lyf


Wat broei op Hakkiesbaai? Lees die tweede aflewering van ons bekroonde skrywer Zirk van den Berg se vervolgverhaal oor moord op ’n afgeleë kusdorpie.

Episode 2: Valentynsdag by Hakkiesbaai-hotel


Verlustig jou in ons lesers se kreatiwiteit. Stuur gerus jou bydrae aan Deborah Steinmair vir ’n kans om ’n boek te wen met die komplimente van Graffiti.

Die muse boer op besoek by ons lesers


VRYE TYD

Sy hou nie van spyt wees en beurtkrag nie, maar wel van Marthinus Basson en Marmite. Elna van der Merwe stel 15 vrae aan Rolanda Marais.

15 vrae aan Rolanda Marais


Die veelvuldig bekroonde skrywer Frederik de Jager skryf oor sy soetskaam verliefdhede, van Omar Sharif tot die slim dogtertjie langs hom op die skoolbank.

Die skaamsoetste liefde


Ons sardoniese sportkenner, Louis de Villiers, is die blou bliksem in vir syferbetotteldes wat statistieke bo talent stel.

Die ‘body shamer’ se simpel toetsie


Debbie Loots som prof. Andrew Huberman se basiese gesondheidsvoorstelle op.

Die vyf pilare vir ’n gesonde lyf en gees


Gerhard Greyvenstein maak ná jare ’n weergawe van die Italianers se sugo-sous wat vir hom die lekkerste is, maar is dit outentiek? Of is die hele konsep van outentieke kos bullshit, soos ’n Amerikaanse kosskrywer dit noem?

Tamatiesous en ander ‘outentieke’ kos

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.