Durf ons hoop op meer stap en seks (en minder ministers)

DONDERDAG MET DEBORAH

Durf ons hoop op meer stap en seks (en minder ministers)

WILLEM KEMPEN kla oor die ANC se hanswors-generaal, en DEBORAH STEINMAIR skryf oor die invloed van skerms in haar lewe. Soos altyd is daar ook vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 16 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die graderingsagentskap Fitch Ratings het sy waarskuwing by dié van Moody’s Investor Service gevoeg dat beurtkrag tot ’n swakker risikoprofiel vir Suid-Afrika kan lei. Fitch het gister in ’n verklaring gesê die gebrekkige beskikbaarheid van elektrisiteit kan beteken dat die land se ekonomie nie vanjaar die gemiddelde groeikoers van 1,1% sal haal wat vroeër voorsien is nie. Enoch Godongwana, minister van finansies, sal volgende week die staat se begroting vir 2023-’24 in die parlement ter tafel lê.

2. Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het teruggekap ná opmerkings deur Mondli Gungubele, minister in die presidensie, waarvolgens daar “rasseverskille” sou wees in die vlak van polisiëring in die stad. Hill-Lewis het in sy reaksie daarop gewys dat polisiëring ’n nasionale en nie ’n plaaslike of provinsiale verantwoordelikheid is nie: “We hope the minister’s inadvertent discovery that he and the national government actually run police stations spurs him to do something about this resource shortfall, particularly on the Cape Flats.”

3. Die SA Poskantoor is verlede jaar vir ses opeenvolgende maande beboet weens die laat uitbetaling van die staat (Sassa) se maatskaplike toelaes, blyk uit ’n voorlegging aan die parlement deur amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling. Vroeër is berig dat die Poskantoor aan die Communications Worker Union (CWU) kennis gegee het van sy voorneme om 6 000 werkers af te dank.

4. Airbnb het vir die eerste keer in sy bestaan ’n winsgewende boekjaar agter die rug. Die maatskappy sê sy Amerikaanse en internasionale besigheid het stewig herstel in die laaste drie maande van verlede jaar namate reisbeperkings weens Covid verslap is. Airbnb het vir die volle boekjaar ’n netto inkomste van $319 miljoen op ’n omset van net minder as $2 biljoen verdien.

5. ’n Tekort aan Nigerië se herontwerpte banknote het tot betogings in die stad Ibadan gelei. Die tekort word vererger omdat sommige besighede weier om nog note met die ou ontwerp te aanvaar. Nigeriërs gaan op 25 Februarie na die stembus om ’n opvolger vir pres. Muhammadu Buhari te kies.


Weersake

Die reën duur voort met waarskuwings vir dele van Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Dan word toestande in die sentrale dele van die Noord-Kaap verwag wat ’n groot brandgevaar inhou.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Rustenburg 27°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 26°C • Durban 28°C • Howick 22°C • Bloemfontein 25°C • Polokwane 27°C • Upington 36°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 22°C.


Willem Kempen | SONA-by en tog so ver vir die ANC se hanswors-generaal

Dis vanaand ’n week sedert die president se SONA-toespraak, en hier wag ons steeds vir iets om te gebeur.

Die kabinet is steeds ongeskommel.

Ons weet steeds nie wie ons nuwe minister van elektrisiteit gaan wees, of watter verskil dit in elk geval aan enigiets gaan maak nie.

Gwede Mantashe laat steeds nie ’n geleentheid verbygaan om bitsig te reageer op enigiemand wat hom durf bevraagteken nie.

Bheki Cele is nogmaals betrokke in ’n moddergooiery met opposisie-LP’s, pleks van verantwoordelikheid te neem vir iets.

En dan is daar die regerende party se hanswors-generaal, Fikile Mbalula, wat reeds alle pretensie laat vaar het dat hy in sy laaste dae (of so hoop ons) as minister van vervoer enigiets anders gaan doen as om die skerwe van die ANC se reputasie aanmekaar te probeer gom.

Mbalula laat omtrent nie ’n dag verbygaan sonder om ’n spektakel van homself te maak nie. Die een oomblik is dit sy ongevraagde teorieë oor die moord op AKA. Dan blameer hy politieke koalisies vir die haglike toestand van die land se plaaslike owerhede – asof die ANC nie nog steeds ten volle in beheer is daar waar dit die vrotste gaan nie. Of hy retweet lawwe prentjies van homself wat spot met die moontlikheid dat hý van alle mense ons minister belas met Eskom kan word.

Maar toe verteenwoordigers van die regering gister van die beseerdes in Maandag se grusame busongeluk in Limpopo in die hospitaal gaan besoek het, was die minister van vervoer natuurlik nêrens te sien nie. (Mbalula se adjunk, Sindisiwe Chikunga, was darem wel daar.)

Aan die ander kant: Die oorlewendes het sekerlik ’n beter kans op ’n spoedige herstel as hulle nie nog in Fikile Mbalula se bakkies ook moet vaskyk nie.


Image: ANGELA TUCK

Skerms, Scrabble, stap en seks

Ek lees voltyds – dit was my lewenslange droom. Omdat daar op papier soveel ruimte vir my verbeelding is, raak ek toenemend vervreem van die voorskriftelike klein kassie.

Image: ANGELA TUCK

Plaaslike nuus ontstel my sodanig dat die kat op die vlug slaan voor my skelwoorde. Sky News is ’n veiliger opsie: Kyk na ander lande se fokops – ons is nie alleen nie. Maar in klein dosisse, met die vinger op die afstandbeheer.

Hier en daar fassineer lukrake oomblikke my: Twee vername Amerikaners praat oor hulp aan Oekraïne. Sekretaris Lloyd Austin het die lieflike, diep stem waarmee swart mans gestereotipeer word: meer testosteroon? Bedaard, gevoelvol, soos die klankbaan van ’n National Geographic-dokumentêr. Die stem van Mark Miley, voorsitter van die Amerikaanse joint chiefs of staff, is ’n paar oktawe hoër, maar om op te maak, flonker ’n hele peloton medaljes teen sy bors. Agter hom hang ’n Amerikaanse arend op ’n vlag halfskeef, histeries en camp, met ’n gestreepte pullover aan.

Terme wat ek moeilik kan vertaal, word rondgegooi: “spring offensive” – lente-aanval? En “war of attrition” – dis iets soos ’n senu-oorlog – uitgerekte stryd waarin die vyand stadig verweer word. “Attrition” beteken slytasie. Rusland word ’n “world pariah” genoem. Dan is ons regering boonop vierkant in die kamp van die internasionale muishond. Een jaar later lyk dit vir my meer na uitmekaarbom as slytasie en die bondgenote te rustig. Maar wat weet ek?

Op Netflix behou amper niks ons aandag nie. Tot – verbasend genoeg – You, ’n reeks oor ’n mooi, fyn man wat ’n ongeneeslike romantikus is. Hy is immer op soek na sy ideale vrou. Hy vind haar telkens, bekruip haar en oorweldig haar met sjarme. Dan word hy ontgogel: Sy is nie perfek nie. As straf vermoor hy haar en kap haar in heelwat stukke op. Ek kyk weg wanneer dit gebeur. In die jongste seisoen woon hy in Engeland met ’n vol baard wat hom soos ’n wesel laat lyk. Ons kyk dit, want dit vergat romantiese films en stel obsessiewe verliefdheid aan die kaak. En die stelle is mooi.

Snags lees ek op my selfoonskerm brokke nuus van oraloor. Ek verkies meningstukke, soos ’n kenner wat in The New York Times skryf dat mense al hoe minder seks het. Ek het verlede jaar daaroor geskryf: “Fees van die ongenaaides”. Redes hiervoor is die inperking se nadraai van geïsoleerdheid, sosiale media en ’n soort moedeloosheid – mense het nie meer die krag om uit te gaan, ’n verhouding te begin, seks te hê en kinders te verwek nie. Nog ’n rede is glo dat daar ál minder walkable communities is. Dit beteken woonbuurte wat só ontwerp is dat mense na winkels en kuierplekke kan stap. Ons land is nie besonder walkable nie.

Ek beland altyd in ’n Scrabble-spel teen my slimfoon. Tussendeur is daar advertensies soos hierdie raaiselagtige een van SA Toerisme waarvan ek vir jou ’n skermgreep geneem het. Wat op aarde sou dit beteken?

So oorleef ons in ons seepborrel, met al minder stap en seks.


8 dae voor ons Stilbaai-boekefees

“In Praat jy! Idees vir die skep van ’n skryfkultuur in die klas vertel ek hoekom en hoe ek jongmense oor 17 jaar in agtergestelde gemeenskappe aan die skryf en sing gekry het in my piemp- en Yoh!-projekte,” vertel Thérèse Hulme.

Thérèse is die Saterdag van ons Stilbaai-boekefees om 11:00 saam met Ingrid Jones (Beyond the blue: Women of the sea) en tannie Betsie op die verhoog waar hulle ’n gesprek sal voer oor vissersvroue wat ’n bestaan maak in kusdorpies, en agtergeblewe kinders wat geleer word om te dig.

“Kom hoor hoe Die Heuwels Fantasties van jong digters se woorde musiek gemaak het, en laat Katelin Morris, ’n Wellingtonse piemper, jou met haar skerp rap skok én laat lekkerkry,” sê Thérèse.

“Ek wil ook besin oor hoe die verhoudings met jongmense oor baie jare oor ras-, klas-, en ouderdomsgrense heen, in warm klaskamers, en die saam-maak van hierdie boek, my verhouding met Afrikaans verander en my hart verruim het.”

– Elna van der Merwe

* In ander nuus: Bespreek gerus by Quicket.co.za vir Sondagoggend se 8,2 km-staptog saam met Nico Steenekamp van ons plaaslike stapklub om die mooie Stilbaai te ervaar. Dis net ’n bietjie moeiliker as 18 putjies se gholf en die staptyd is twee-en-’n-half tot drie uur. Pak water en ’n vrug of toebroodjie in, want halfpad gaan sit mens eers en kyk oor die see. Dit begin en eindig by die hawe. Deelname kos niks, maar as jy registreer, weet hy hoeveel mense om te verwag.

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.


Bosbefok
virrie residents van Protea Village

Innie nag raāk plekke
soes kirstenbos
rōnnebos en proteabos
mos
Donkebos
Bangbos
en Tokkelōssiebos

Bittebos was back-up
virrie groōt skrikke
Hille was my eēste klas-kāmes

– Loit Sōls

(Uit: Moerstaāl)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.