Peter Jones is dood. Maar sy stem oor ’n gelyke samelewing leef voort.

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Peter Jones is dood. Maar sy stem oor ’n gelyke samelewing leef voort.

ANESCA SMITH bring hulde aan ’n anti-apartheidsaktivis en vertel van die liefde en verdriet, maar ook woede wat haar oorweldig het toe sy Woensdagaand van sy dood gehoor het. DEBORAH STEINMAIR vertel ook meer oor die Boeke- en Vrye Tyd stories in ons jongste uitgawe.

  • 18 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 5 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Die nuus van Peter Jones se heengaan dié week het my heeltemal oorweldig. Dié dag, duisende kilometers ver van Suid-Afrika in my ateljee, kon ek geen steek werk verrig nie.

Jones was saam met Steve Biko toe die twee anti-apartheidsaktiviste in Augustus 1977 by ’n padblokkade deur die apartheidspolisie in hegtenis geneem is. Daar word dikwels na hom verwys as “die laaste man wat Steve Biko lewend gesien het”.

Terwyl Jones vir meer as 500 dae aangehou is, is Biko, naak en vasgeketting, ’n paar dae later doodgemartel. Soos George Floyd het sy dood ’n wêreldwye opstand teen rassisme ontketen – iets wat die apartheidsregime nie voorsien het nie.

Ek het Jones een keer ontmoet. Wel, eintlik twee keer toe hy en sy vrou – die mediapersoonlikheid Ingrid Jones, wat ’n sterk en onafhanklike vrou in haar eie reg is – Europa in die lente van 2018 besoek het. (Ingrid Jones het al vir Vrye Weekblad geskryf en neem volgende naweek aan ons Stilbaai-boekefees deel. – Red.)

Die eerste keer het ons op ’n snikhete dag saam na ’n uitstalling van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Neo Matloga se werk in Amsterdam gaan kyk. ’n Paar dae later het hulle by my huis in Arnhem langs gekom en tot skemeraand gekuier. Ek het dié dag nog outydse crêpes Suzette met roomys vir nagereg gemaak – iets wat vinnig berei kon word en my nie te lank van die lekker gesels sou weghou nie.

Toe ek Woensdagaand die nuus oor Jones se heengaan hoor, was ek oorweldig deur liefde en verdriet. Maar ook onverwagse emosies, soos woede. Vir dít waarvoor hulle gestaan het, maar wat nog steeds nie behaal is nie. Nie in Suid-Afrika nie, maar ook nie in die res van die wêreld nie.

Ek lees byvoorbeeld in The New York Times oor een van my gunstelingontwerpers, Stella Jean, wat tans op ’n hongerstaking is. Jean – half-Italiaans en half-Haïtiaans – het vanaf 2013 in die modewêreld naam gemaak. Sy is die eerste en enigste lid van die Camera Nazionale della Moda Italiana – die organisasie agter die Milaan-modeweek. Sy veg al jare teen die gebrek aan ondersteuning vir swart ontwerpers in Italië, maar dit val skynbaar op dowe ore. Vandaar die hongerstaking.

Jones is dood. Biko is dood. Maar hul stemme oor ’n gelyke samelewing leef voort en dit gun ons geen rus nie.

Groete
Anesca


Ses dae voor ons Stilbaai-boekefees

Daar is nog plek vir ons boekefees se spitbraai Vrydagaand 19:00 by die rolbal-klubhuis waar jy ’n paar bolle kan rol met Max, Anneliese, Anastasia en Piet. Heelwat van Saterdag se skrywers gaan ook hier wees, so hier’s jou kans om met hulle te gesels oor hul skryfwerk.

Jy hoef nie hul boeke saambring om te laat teken nie, dit kan jy Saterdag doen in die tent wat ons weer net soos verlede jaar langs die Baptistekerk opslaan. Die boeke van al die skrywers wat hier optree, sal te koop wees, en so ook die voorafgaande 12 maande se topverkopers (deur ander skrywers).

Vir dié wat wil weet waarom ons nie die spitbraai by ons venue hou nie, maar by die rolbal-klubhuis: Ons mag nie alkohol by die kerk bedien nie.

By die baie gesellige rolbalklub is daar ’n kontantkroeg met ’n voorraad wat enige grootte dors sal les (net nie die dieper dors nie).

– Elna van der Merwe

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.


Ons het vandeesweek ’n lekker uiteenlopende aanbieding vir boekvrate, bankpatats en lewensgenieters. Lees oor die jongste boeke, ’n opspraakwekkende uitstalling deur ’n Hertzogpryswenner vir letterkunde, mieliepoffers, ’n taaierige Zoom-begrafnis, Madonna se nuwe voorkoms en baie meer. Dit sal jou vir ’n rukkie laat vergeet van beurtkrag en vae staatsredes.

BOEKE

Deborah Steinmair bekyk ’n krimi en ’n noir om die donker te verdryf en om in die lees van ander se ellende en dilemmas minder alleen te voel.

’n Krimi en ’n noir vir die donker dae


Jaco Barnard-Naudé gee sy indrukke van Ingrid Winterbach se uitstalling by die Glen Carlou-galery.

Dora en die duisternis deur Winterbach


Die later werk van Louise Glück, Nobelpryswenner vir poësie, is eweneens fassinerend, meen Louis Gaigher.

Latere Glück is kwalik ’n karige maal


Ons letterkundige smulpaap, Kerneels Breytenbach, stel ons aan die mees opwindende nuwe publikasies bekend.

Rekenskap, Nick Cave, geografie en skrywers se gades


Wat de hel gaan aan op Hakkiesbaai? Lees Episode 3 van Zirk van den Berg se spannende vervolgverhaal.

Episode 3: Elia trek in sy strydwa deur die hemel


Hierdie is die forum vir ons lesers se kreatiewe skryfwerk. Stuur gerus jou bydrae aan Deborah Steinmair vir ’n kans om ’n boek te wen met die komplimente van Graffiti.

Nuwe boekwinkel en Valentynswoorde


VRYE TYD

Elna van der Merwe vind uit wie Ronelda Kamfer se gunstelingdigters is: “Dylan Thomas en Bukowski. Nathan [Trantraal, Ronelda se man], omdat hy ’n complete skrywer is. Dit switch nooit af nie. En dan Antjie omdat sy fearless is.”

15 vrae aan Ronelda Kamfer


Elmi Badenhorst skryf oor ’n aanlyn begrafnis en ’n bedagsame worsie.

’n Zoom-begrafnis vir oom Taaidrol


Herman Lategan reken dis (die nuwe) Madonna se lyf en haar keuse. Stem jy saam?

Die Madonna-debat: Stem jy ja of nee?


Louis de Villiers dink nie sport is meer die gesonde stokperdjie wat dit was nie. Waarom kyk ons daarna?

Hoekom kyk mens sport?


Aletta Lintvelt slaan haar tande in poffers vol mieliepitte.

Fritter dinners vir beurtkragtye 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.