’n Mafiastaat tussen ons en destination happiness

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

’n Mafiastaat tussen ons en destination happiness

MERCY KANNEMEYER sê sy gaan van nou af meer engaged wees, al gaan dit uitmergelend wees; MAX DU PREEZ skryf oor die uitsoek-geselskap waarin Suid-Afrika nou verkeer; en soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 21 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre

1. Terwyl swaar reën op verskeie plekke en die ooptrek van nog twee van die Vaaldam se sluise steeds verwoesting saai in groot dele van die noorde van die land, is Mauritius besig om gereed te maak vir die aanslae van die tropiese sikloon Freddy. Vlugte is gekanselleer en openbare vervoer het tot ’n stilstand gekom nadat die eilandstaat se weerdiens gewaarsku het dat winde van tot 300 km/h verwag kan word.

2. Johannesburg se nuwe waarnemende hoof van forensiese en ander ondersoeke, Sinaye Nxumalo, is self al weens beweerde korrupsie ondersoek, het News24 berig. In een van dié ondersoeke, deur die ouditeursfirma KPMG in 2018, is strafregtelike vervolging aanbeveel.

3. Die hooggeregshof in Pretoria het ’n bewaringsbevel toegestaan wat die bates bevries van ’n begunstigde van ’n korrupte Kusile-tender. Dit beteken dat die spesiale ondersoekeenheid en die nasionale vervolgingsgesag se batebeslagleggingseenheid mag toeslaan op onder meer ’n Lotus Europa en ’n deel van die eiendom waarop die Casambo Exclusive Guest Lodge in Mpumalanga geleë is. Tamukelo Business Enterprises het van Junie 2009 tot November 2020 “water trucking services” aan die Kusile-projek gelewer.

4. Mark Zuckerberg, grootbaas van Meta (wat Facebook en Instagram insluit), het aangekondig dat dié platforms in Twitter se voetspore gaan volg deur intekengeld te hef vir sekere dienste, soos om gebruikers se profiel as eg te waarmerk. Zuckerberg se ommeswaai ná dekades is deels ’n poging om identiteitsdiefstal en ander soorte bedrog op Facebook en Instagram te bekamp.

5. Pres. Joe Biden het ’n onverwagse besoek aan sy Oekraïniese ampsgenoot gebring om saam te val met die Amerikaanse Presidentedag en die herdenking van die Russiese inval op 24 Februarie verlede jaar. “One year later, Kyiv stands. And Ukraine stands. Democracy stands,” het Biden aan pres. Volodymyr Zelensky gesê.


Vandag se weer

Daar is ’n waarskuwing oor sterk wind en golwe wat tot onstuimige seetoestande tussen Kaappunt en Durban kan lei, asook ’n stormstuwing langs die oostelike dele van die suidkus. Sonnige weer word vir die binneland voorspel, hoewel daar nog enkele buie en donderbuie oor Limpopo en Mpumalanga verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Rustenburg 31°C • Mbombela 30°C • Kaapstad 20°C • Durban 24°C • Paarl 23°C • Oudtshoorn 25°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 30°C • Upington 30°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 21°C.


Max du Preez | Is SA regtig ’n mafiastaat?

Daar is nou konsensus onder die kommentariaat: Suid-Afrika het van ’n gekaapte staat na ’n mafiastaat “gevorder”.

Dit is ’n ekstreme oordeel. Daar is net ’n handvol state wat dié etiket dra; lande soos Rusland, Mexiko en Venezuela.

’n Mafiastaat is nie dieselfde as ’n kleptokrasie nie, wat Suid-Afrika al langer as ’n dekade is, of ’n land waar misdadigheid hoogty vier nie, wat ook van Suid-Afrika waar is. Nie net is onwettige geweld ’n karaktereienskap van ’n mafiastaat nie; dit beteken boonop dat die staat of regering self by die misdadige ondernemings betrokke is.

“In mafia states, government officials enrich themselves and their families and friends while exploiting the money, muscle, political influence, and global connections of criminal syndicates to cement and expand their own power,” verduidelik die Carnegie Endowment for International Peace

Drew Sullivan, uitgewer van die Organized Crime and Corruption Reporting Project: “When we refer to ‘mafia states’, we are talking about a government that itself is a criminal enterprise. These people running the state have their fingers in everything, and back up their control by violence – the attributes we associate with the mafia.” 

Dit is dus dalk ’n effe hiperbolies om Suid-Afrika sonder meer ’n mafiastaat te noem, hoewel daar nie twyfel is nie dat daar tog ’n betrokkenheid van die staatsamptenary en van die regerende party in sekere vorme van georganiseerde misdaad betrokke is.

Die misdaadstatistieke wat die minister van polisie verlede week uitgereik het, is absoluut verskriklik. In die laaste drie maande van verlede jaar is meer as 7 555 mense vermoor – heelwat meer as die getal burgerlikes wat die laaste jaar in die bloedige oorlog in Oekraïne gesneuwel het.

Maar dit is die sindikate wat Eskom besteel, myne beset en konstruksiemaatskappye terroriseer en afpers wat meer na ’n mafiastaat ruik. Dit en die groeiende getal politieke sluipmoorde en kontrakmoorde.

Nelson Mandela was in 1994 diep bekommerd oor die moontlikheid dat georganiseerde misdaad ons nuwe demokrasie sou verteer en sy kommer het tot die stigting van die Skerpioene gelei. Toe die Skerpioene te na aan die ANC begin karring het, is dit afgeskaf en met die Valke vervang wat polities beheer kon word.

Daar is nou voorstelle dat ’n nuwe spesialiseenheid teen georganiseerde misdaad op die been gebring word, op die riglyne van die Skerpioene. Ons sal moet kyk of die ANC uiteindelik die maag daarvoor het, want as so ’n nuwe eenheid sy werk doen, gaan daar gou weer aan ANC-deure geklop word.

Ons kan só nog keer dat ons land ’n volwaardige mafiastaat word, maar kan ons moord, roof, verkragting en algemene wetteloosheid hokslaan?

Nie met die huidige onkapabele polisiediens en die patetiese leierskap van die minister en sy topgeneraals nie.

En dan neem mense my kwalik omdat ek pres. Cyril Ramaphosa se onvermoë om sy party en die staat reg te ruk, kritiseer?


Image: ANGELA TUCK

Moenie dat jare se geworry jou tyd steel nie

Al gehoor van destination happiness? Dit is blykbaar die gevoel wat jy kry dat jy eers gelukkig gaan wees wanneer jy ’n sekere bestemming of plek in jou lewe bereik het. My beste vriendin, Bernie, sê ek ly daaraan. Ek hoop ek is nie alleen nie.

My destination happiness sluit in dat ek uber-gelukkig gaan wees wanneer ek so 10 kg verloor, wanneer ek nie meer ’n student is nie, wanneer my studieskuld afbetaal is, wanneer ek die moed en wilskrag bymekaar kan skraap om my meubels ’n nuwe lagie verf te gee, en wanneer ek die tipe teaterwerk kan maak wat my standvastig in die teaterbedryf sal vestig. En dis maar net ’n paar goed. Noem ’n mens hierdie nie net goals nie, vra ek vir Bernie. Nee. Blykbaar koppel ek my geluk daaraan – aan dinge in die toekoms, en lei dit my aandag van die hier en die nou af.

Hierdie gesprek, ’n laataand- video call, want Bernie bly in die Kaap en ek in Jo’burg, herinner my toe aan ’n bloginskrywing wat ek so vyf jaar gelede gelees het met die titel “I should be engaged”. Dis nie die tipe engagement waaraan jy sommer sal dink nie! Dit het níks met trou te make nie, maar alles met present wees. Corinne Rogero, die skrywer van die artikel, meen:

“I mean I want to be engaged in the sense that I’m mindful of the people and surroundings and culture and the spiritual warfare around me.”

“Mindfulness” is ook ’n woord wat in die hedendaagse geestesgesondheidsdiskoers penorent in my gedagtes kom regopstaan. Wat beteken dit nou eintlik om mindful te wees? Is dit ’n hiperbewustheid van alles rondom jou? ’n Fassinasie met hoe jou innerlike jou buitentoe laat kyk? Of is mindfulness bloot ’n manier van dink waar jy nie toelaat dat die winde van verandering en ongemak jou laat tuimel nie?

Rogero was in 2017 23 jaar oud en het ’n woord gesoek wat sy as Nuwejaarsvoorneme kon aanneem. Diepte, rus, waarde is van die woorde wat in haar kop gemaal het, totdat die woord “engaged” saggies in haar bewussyn opgeduik het. Dit het haar bang gemaak, want die idee van “engaged” wees was vir haar nogals radikaal. Ek kan my net indink hoe engaged-wees radikaal kan wees. Dink jou in – jy is so plugged-in en konstant wakker vir alles wat rondom jou gebeur. Uitputtend much. Ignorance is mos bliss, veral in ’n land soos ons s’n waar menige van ons eerder ons oë wil toeknyp en hoop vir die beste. Ek sluit myself by die toe-oë-span in; al kry ek dit hoegenaamd glad nie reg om nié te kyk nie. Ek’s hopeloos te bis daarvoor.

Toe ek in 2017 die artikel vir die eerste keer lees, het ek die volgende woorde uit die artikel op ’n sticky note geskryf en op my koshuiskamermuur geplak:

“The holiest moment in life is the one happening right now.”

Pause. Reflect. “Holiest” hoef niks met geloof of geestelikheid uit te waai te hê nie. Heiligheid is wat jy kies dit moet wees. Annalet, ’n ander vriendin, sê verlede week by die werk vir my sy kom so pas van die kerk af. Dit was ’n weeksoggend en ek dag toe nou eers dit was ’n biduur van een of ander aard. Maar nee, sy was by joga. En dit was vir haar soos kerk.

Image: ALVAN NEE

Die destydse woorde uit Rogero se blog was maar net ’n versiersel teen my muur. Holiest moments het my gereeld ontduik omdat ek op een of ander wedloop was waar die eindbestemming finale geluk en vervulling sou bring.

Voortaan belowe ek myself om ook meer engaged te wees, maak nie saak hoe uitmergelend dit mag wees nie. Dis ’n feit soos ’n koei dat ek nou in my laat 20’s is, en ek gaan al hierdie jare waar ek worry oor hoekom ek nog nie is waar ek wil wees nie, nie kan terugkry nie. Destination happiness het my tyd gesteel. En dit breek my hart.

As jy belangstel, lees die volle stuk hier.

Groete
Mercy


A pod bursts its seam and gently
the silky sideways gliding
touches the earth's face. Is there
ever tenderness enough like down?
Beds of tenderness, heaped high?

World of tenderness, have pity
on a fool tired of trying.
Daintier than the flowers at the tip
of the baboon's tail lily my yearning,
prettier and creamier white than arum lily.

– Wilma Stockenström

(Uit: The Wisdom of Water)


3 dae voor ons Stilbaai-boekefees

Ons begin poets nou al die silwer vir julle koms na ons boekefees en die drie skape staan spekvet en oorgehaal vir Vrydagaand se spitbraai. (Ek skryf myself in vegetarisme in ...)

* Daar is nog kaartjies beskikbaar by Quicket.co.za, so bespreek onverwyld sodat ons ons lesers ’n slag in die oë kan kyk.

* As jy sukkel met blyplek, bel of whatsapp Elize Pretorius by 082 820 4376 – sy het verblyf van alle soorte.

* Oor kos: Vrydagaand kan jy by die spitbraai eet en Saterdag van 07:30 tot 15:00 se kant in die markiestent. Van roosterkoeke tot vars slaaie met proteïen by. En koek.

* As jy Saterdagaand wil gaan uiteet, bespreek nou al by een van my gunsteling-plekke:

  • Hawekafee: 076 815 3671
  • Dave’s Kitchen: 084 850 3408
  • SouthEaster Restaurant: 073 422 3480

Ek is ernstig as ek sê jy moet vandag al bespreek vir Saterdagaand. Die dorpenaars eet graag uit naweke en sit al wat plek is vol.

Pak solank jou swembroek, stapskoene, muskietgoed, beursie (om boeke te koop), koplampie en humorsin.

* Vir meer inligting en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.

– Elna van der Merwe


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.